Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

AZERBEIDJAN

In die tronk weens hulle geloof

In die tronk weens hulle geloof

Azerbeidjan hou aan om Jehovah se Getuies te straf omdat hulle hulle godsdiens beoefen. Howe bevind hulle skuldig omdat hulle saam aanbid, met ander oor hulle oortuigings praat en militêre diens weens gewetensbeswaar weier. Regters lê hulle dikwels swaar boetes op of beveel dat hulle in aanhouding geplaas moet word.

Twee vroue in die tronk omdat hulle hulle godsdiensoortuigings verkondig

Die verhoor van Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa, twee van Jehovah se Getuies, het op 17 Desember 2015 in die Pirallahi-streekhof in Bakoe begin. Me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa word al sedert 17 Februarie 2015 aangehou sonder dat hulle verhoor is. Hulle word vervolg omdat hulle godsdienslektuur sonder die “nodige toestemming” versprei het.

Hierdie twee vroue is tien maande lank aangehou en gevolglik is hulle fisiese en emosionele gesondheid erg benadeel. Maar tydens die voorlopige verhoor het die regter alle mosies wat namens hulle gemaak is, verwerp en geweier om hulle uit aanhouding na huisarres te verplaas. Die volgende verhoor sal op 7 Januarie 2016 wees.

Azerbeidjan kom nie sy verpligtinge na nie

In die monitorverslag in Mei 2011 het die Europese Kommissie teen Rassisme en Onverdraagsaamheid (ECRO) van die Europese Raad die regering van Azerbeidjan herhaaldelik versoek om te verseker dat “die wetgewing wat in plek is . . . godsdiensvryheid ten volle respekteer soos voorgestaan word deur die Europese Konvensie oor Menseregte”. In 2012 het die Venesiese Kommissie van die Europese Raad spesifieke voorstelle gepubliseer oor hoe Azerbeidjan se Wet op Vryheid van Godsdiensoortuiging gewysig moet word. Dit het gesê: “Dit wil voorkom asof die Wet heelwat beperkende bepalings bevat wat in stryd is met internasionale standaarde. . . . Bepalings wat die fundamentele kwessies aanspreek soos die omvang van die wet en die begunstigdes van die reg op godsdiens- en gewetensvryheid, die registrasie, die selfbestuur en ontbinding van godsdiensgemeenskappe, die reg op gewetensbeswaar, die kwessie van proselitisme en die publisering en verspreiding van godsdiensmateriaal moet geherformuleer word.”

Azerbeidjan weier ook om die reg op gewetensbeswaar teen diensplig te respekteer. As deel van Azerbeidjan se aansoek in 1996 om by die Europese Raad aan te sluit, het hy ingestem om: (1) binne twee jaar van toetreding ’n wet op alternatiewe burgerlike diens in te stel, (2) alle gewetensbeswaardes in die tronk kwyt te skeld en (3) gewetensbeswaardes toe te laat om alternatiewe burgerlike diens te kies. Azerbeidjan het meer as 13 jaar nadat dit ’n lid van die Europese Raad geword het, nog nie sy verpligtinge nagekom nie.

Dieselfde monitorverslag in Mei 2011 het gesê: “Die ECRI spoor die owerheid van Azerbeidjan aan om sonder versuim ’n wet oor alternatiewe burgerlike diens aan te neem wat met Europese standaarde ooreenkom. ... Die [ECRI] bevestig sy streng aanbeveling dat die owerheid nie diegene wat diensplig weier, vervolg of opsluit nie, maar hulle die geleentheid gee om hulle plig teenoor die samelewing na te kom onder omstandighede wat nie met hulle gewetensbeswaar teen diensplig bots nie.”

Sal Azerbeidjan in ooreenstemming optree met sy beweerde godsdiensverdraagsaamheid?

Op 25 Junie 2015 het die Helsinki-kommissie in die Verenigde State kommer uitgespreek oor die “onlangse toenemende druk op godsdiensminderhede—veral Jehovah se Getuies—in Azerbeidjan. Die voorsitter van die kommissie, verteenwoordiger Chris Smith, het gesê: “Die regering loop dikwels te koop met die feit dat hulle godsdiensvryheid beskerm, maar in werklikheid het dit baie mense in die tronk gegooi omdat hulle hulle geloof beoefen. Ek versoek die regering van Azerbeidjan om me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa onmiddellik vry te laat.”

Jehovah se Getuies regoor die wêreld het hulle kommer uitgespreek oor die welstand van Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa. Die VN se Menseregtekomitee het amptelik versoek dat me. Zachartjenko vrygelaat word en onder huisarres geplaas word, maar die hof het die versoek geweier. Me. Zachartjenko en me. Jabrajilowa en hulle familie en vriende versoek die regering van Azerbeidjan eerbiedig om hulle onmiddellik vry te laat en vry te spreek.

Tydlyn

  1. 17 Desember 2015

    Die Pirallahi-streekhof in Bakoe verwerp mosies om Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa vry te laat. Die volgende verhoor is op 7 Januarie 2016.

  2. 4 September 2015

    Die Sabail-distrikshof in Bakoe verleng Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa se verhoorafwagtende aanhouding tot 17 Desember 2015, en hulle is tien maande lank in die tronk.

  3. 7 Mei 2015 en 4 Julie 2015

    Die Sabail-distrikshof in Bakoe verleng Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa se verhoorafwagtende aanhouding.

  4. 17 Februarie 2015

    Die Sabail-distrikshof in Bakoe beveel dat Irina Zachartjenko en Walida Jabrajilowa onmiddellik vir drie maande in verhoorafwagtende aanhouding geplaas word op grond van die kriminele aanklagte dat hulle die wet oortree het deur godsdienslektuur te versprei.

  5. 12 Maart 2013

    Kamran Mirzajef, een van Jehovah se Getuies, word skuldig bevind en tot nege maande tronkstraf gevonnis weens sy gewetensbeswaar teen diensplig. Later, terwyl hy sy vonnis uitgedien het, is hy weens ’n algemene kwytskelding vroegtydig vrygelaat.

  6. 25 September 2012

    Fakhraddin Mirzajef, een van Jehovah se Getuies, word skuldig bevind en tot ’n jaar tronkstraf gevonnis weens sy gewetensbeswaar teen diensplig.

  7. 8 September 2010

    Farid Mammadof, een van Jehovah se Getuies, word skuldig bevind weens sy gewetensbeswaar teen diensplig en tot nege maande tronkstraf gevonnis.

  8. 19 Augustus 2009

    Moesjfig Mammedof word weer in hegtenis geneem weens sy gewetensbeswaar teen diensplig, voor sy verhoor in aanhouding geplaas en toe ’n boete opgelê toe hy die tweede keer skuldig bevind word.

  9. 7 Maart 2008

    Regsverteenwoordigers van Moesjfig Mammedof en Samir Hoeseinof dien ’n aansoek by die Europese Hof van Menseregte in teen Azerbeidjan se strafregtelike vervolging weens hulle gewetensbeswaar teen diensplig.

  10. 4 Oktober 2007

    Samir Hoeseinof, een van Jehovah se Getuies, word opgesluit en ’n vonnis van tien maande opgelê weens sy gewetensbeswaar teen diensplig.

  11. 2006

    Moesjfig Mammedof, een van Jehovah se Getuies, word voor sy verhoor aangehou, skuldig bevind weens sy gewetensbeswaar teen diensplig en ’n opgeskorte vonnis van ses maande opgelê.