Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Die distrikshof van Bratislava I is een van die howe wat Jehovah se Getuies vrygespreek het. Hulle is in die verlede gestraf omdat hulle gewete hulle nie toegelaat het om militêre diens te doen nie.

27 SEPTEMBER 2018
WÊRELDNUUS

Howe in die Tsjeggiese Republiek en Slowakye spreek ons mede-aanbidders vry

Kriminele rekords is verwyder nadat gewetensbeswaardes jare lank valslik van misdaad beskuldig is

Howe in die Tsjeggiese Republiek en Slowakye spreek ons mede-aanbidders vry

Vanaf 1 Mei 2017 tot 8 Januarie 2018 het howe in die Tsjeggiese Republiek en Slowakye ons broers vrygespreek. Hulle is in die verlede krimineel aangekla omdat hulle gewete hulle nie toegelaat het om militêre diens te doen nie en omdat hulle aan die predikingswerk deelgeneem het. Hierdie dinge word nie meer as misdade beskou nie. Een van hierdie sake gaan oor ’n broer wat in 1925 gestraf is. (Sien verhaal oor broer Martin Boor, wat 90 jaar nadat hy skuldig bevind is, vrygespreek is.) Die howe se beslissing ondersteun ons broers se basiese reg om volgens hulle godsdiensoortuigings op te tree.

Sedert Mei 2017 het die Hooggeregshof van die Tsjeggiese Republiek uitsprake van 45 van ons broers ongeldig verklaar. Hulle het geweier om onder die Kommunistiese regering militêre diens te doen en is aangekla en gevonnis. In Oktober 2017 het die Hooggeregshof broer Martin Magenheim ook vrygespreek, wat in 1978 gevonnis is omdat hy aan die predikingswerk deelgeneem het.

Die distrikshof van Bratislava I in Slowakye het vier van ons broers vrygespreek vir die “misdaad” van gewetensbeswaar. Die streekhof in Trenčín het dieselfde gedoen vir een van ons broers. Een suster, Eva Borošová, wat in 1974 gevonnis is omdat sy aan die predikingswerk deelgeneem het, is deur die distrikshof van Rimavská Sobota vrygespreek. Op 9 Januarie 2018 het die distrikshof van Michalovce die uitspraak van ’n saak in 1993 teen broer Miloš Išky Janík ongeldig verklaar. Hy is ’n hele paar keer gevonnis omdat hy geweier het om burgerlike diens te doen wat teen sy gewete was.

André Carbonneau, ’n advokaat wat Jehovah se Getuies verteenwoordig, verduidelik: “Baie Getuies is jare gelede gestraf omdat hulle militêre diens geweier het as gevolg van gewetensbeswaar of omdat hulle aan die predikingswerk deelgeneem het. Deur die Getuies vry te spreek, erken die howe dat dit verkeerd was om hulle te straf, en wys hulle dat hulle respek het vir die basiese beginsel dat almal die reg het om te glo en te aanbid op die manier wat hulle verkies. Wat hierdie howe gedoen het, is ’n goeie voorbeeld vir die internasionale gemeenskap. Hulle probeer om die onregverdige behandeling van gewetensbeswaardes reg te stel wat gebeur het in ’n tyd toe baie regerings nie menseregte gerespekteer het nie. Die howe het ook gehelp om die reputasie van ons onskuldige broers te herstel. Ons waardeer wat hulle gedoen het, want die Bybel sê dat ’n goeie naam iets baie kosbaars is.” — Prediker 7:1.