Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

17 OKTOBER 2018
VERENIGDE STATE

Orkaan Michael, een van die sterkste storms in VSA se geskiedenis, veroorsaak baie skade

Orkaan Michael, een van die sterkste storms in VSA se geskiedenis, veroorsaak baie skade

Op 10 Oktober 2018 het orkaan Michael Florida getref en baie skade veroorsaak aan die suidooste van die Verenigde State. Die kategorie-4-storm word beskou as een van die sterkste storms wat die Verenigde State al ooit getref het en het groot skade aan eiendomme veroorsaak. Daar is al ten minste 18 mense dood as gevolg van die orkaan.

Die orkaan het broers en susters in 94 gemeentes en 13 kringe geraak. Nie een van ons broers het gesterf in hierdie ramp nie, maar drie is beseer. Die storm het 528 van ons broers se huise en 34 Koninkryksale beskadig. Altesaam 39 Koninkryksale het kragonderbrekings gehad.

Die takkantoor in die Verenigde State, ’n Noodlenigingskomitee en meer as 40 kringopsieners is besig om die noodlenigingswerk te organiseer. Hierdie werk sluit in dat kos, mediese hulp, blyplek en water aan ons broers voorsien word. Die broers maak ook seker dat huise veilig is om in te woon deur die dakke met seile te bedek en die skade as gevolg van bome wat omgeval het, op te ruim. Daar is ook gereël dat ons broers en susters geestelik ondersteun en aangemoedig word.

Hoewel ons mede-aanbidders deur die moeilike omstandighede van hierdie stelsel geraak word, insluitende die gevolge van natuurrampe, vertrou hulle altyd op ons God vir sy ondersteuning. — Psalm 142:5.