Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

18 JULIE 2018
DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO

Broers in die noordooste van Kongo vlug vir hulle lewe

Broers in die noordooste van Kongo vlug vir hulle lewe

Vanaf Desember 2017 is daar gevegte tussen die Hema- en die Lendu-gemeenskappe in die Ituri-provinsie van die Demokratiese Republiek van die Kongo. Dit het tot die dood van baie mense gelei en tienduisende mense moes vlug. Baie van ons broers en susters is onder die mense wat geraak is deur hierdie geweld wat al hoe erger word.

Duisende Kongolese vlugtelinge, insluitende 192 verkondigers, het na Uganda gevlug om weg te kom van die geweld. Hierdie verkondigers bly nou in twee vlugtelingkampe naby die grens van Kongo. Vanaf Junie 2018 het nog 1 098 Getuies uit die gevaarlike gebied gevlug na Bunia, die provinsiale hoofstad van Ituri. Ongelukkig het ’n getroude paartjie sowel as drie jong kinders wie se ouers gedoopte verkondigers is, gesterf as gevolg van gesondheidsprobleme. Maar nie een van ons broers of susters is in hierdie wrede gevegte doodgemaak nie.

Broers en susters wat Lendu praat en uit verskillende dele van Ituri gevlug het, by die Byeenkomsgronde in Bunia.

Die huise van baie broers wat gevlug het, is leeg gesteel of afgebrand. En baie van die kos wat die broers geplant het om aan die lewe te bly, is vernietig.

Vandat hierdie gevegte begin het, het verkondigers wat buite hierdie gevaarlike gebied bly, praktiese hulp aan hulle broers gegee. Party het hulle voertuie gegee sodat verkondigers na veiligheid geneem kon word (sien foto heel bo). En 205 Getuie-gesinne van Bunia het geld, kos en blyplek aan hulle vlugtelingbroers gegee, al het hulle self nie baie nie. Hoewel daar twee groot vlugtelingkampe in Bunia is, het die plaaslike Getuies al die vlugtelingbroers ingeneem. — Spreuke 17:17.

Die Takkomitee van Kongo het ’n noodlenigingskomitee gevorm, wat die basiese behoeftes aan ons broers en susters voorsien het. ’n Takverteenwoordiger het ook die broers wat geraak is, besoek en hulle geestelik aangemoedig.

Al gaan hierdie broers en susters wat na Bunia en ander gebiede gevlug het, deur ’n moeilike tyd, kom hulle met die plaaslike gemeentes bymekaar om te aanbid en bly hulle besig met die verkondiging van die goeie nuus. Van Februarie tot April 2018 het die broers meer as 270 Bybelstudies met mense in die vlugtelingkampe begin.

Ons bid dat Jehovah aanhou om ons broers en susters in Kongo innerlike vrede te gee en dat hy die noodlenigingswerk om ons broers en susters te help, sal seën. Ons elkeen sien uit na die tyd wanneer God se Koninkryk sal kom en blywende veiligheid en “’n vreedsame woonplek” vir al Jehovah se knegte sal gee. — Jesaja 32:17, 18.