Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Die Hooggeregshof van Hersiening van Bulgarye in Sofia

20 MEI 2019
BULGARYE

Oorwinnings in Hooggeregshof beskerm godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies in Bulgarye

Oorwinnings in Hooggeregshof beskerm godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies in Bulgarye

In Maart 2019 het die Hooggeregshof van Hersiening van Bulgarye, die hoogste hof in die land, ten gunste van ons broers in drie sake beslis. Hierdie oorwinnings stel belangrike regsvoorbeelde om ons broers se godsdiensvryheid regdeur die land te beskerm.

Twee van die sake het te doen met leuens deur die media. In 2012 het die koerant Vseki Den ’n artikel met leuens oor wat ons glo, gepubliseer. In 2014 het die stasie SKAT TV ook valse inligting oor ons organisasie uitgesaai. In albei gevalle het die media geweier om openlik te erken dat hulle berigte verkeerd was. Ná ’n reeks hofsake en appèlsake het dit na die Hooggeregshof gegaan. Op 18 Maart 2019 het die Hooggeregshof teen SKAT TV beslis. Op 26 Maart het die Hof hierdie beslissing as ’n voorbeeld gebruik om Vseki Den te straf en beslis dat die koerant gelieg het en hatig was.

Die derde saak het te doen met die wrede vervolging van ons broers deur ’n politieke groep met die naam VMRO (die Bulgaarse Nasionale Beweging). Op 17 April 2011 het ons broers vir die Herdenking van Jesus se dood bymekaargekom. ’n Aggressiewe groep van 60 mense, wat georganiseer is deur die politieke leier Georgi Drakaliev van die VMRO, het ons broers wreed aangeval en hulle seergemaak. Die broers het die saak hof toe gevat. Die saak het later na die Hooggeregshof gegaan. Op 20 Maart 2019 het die Hof teen mnr. Drakaliev beslis, wat nou skadevergoeding aan ons broers moet betaal.

Ons is bly oor hierdie drie gunstige beslissings. Hierdie beslissings kan nou gebruik word om ons broers se vryheid te beskerm sodat hulle “’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid” kan lei. – 1 Timoteus 2:2.