Spring na inhoud

“Ek doen wat ek kan”

“Ek doen wat ek kan”

Irma, wat in Duitsland woon, is amper 90 jaar oud. Ná twee ernstige ongelukke en baie operasies kan sy nie meer van huis tot huis preek soos sy eers kon nie. Irma praat nou met ander oor haar geloof deur briewe te skryf vir familie en mense wat sy ken. Irma se briewe van aanmoediging en simpatie word so waardeer dat mense haar dikwels bel om te vra wanneer die volgende brief kom. Sy kry ook baie dankie-sê-briefies, waarin sy gevra word om weer te skryf. Irma sê: “Dit alles maak my bly en help my om aan te hou preek.”

Irma stuur ook briewe vir mense in verpleeginrigtings. Sy vertel: “’n Ou dame het my gebel en gesê dat my brief haar so vertroos het nadat haar man gesterf het. Sy hou die brief in haar Bybel en lees dit dikwels in die aand. ’n Ander vrou, wie se man onlangs oorlede is, het gesê dat my brief haar meer gehelp het as die priester se preek. Sy het baie vrae gehad en het gevra of sy my kon besoek.”

Iemand wat Irma geken het en wat nie ’n Getuie was nie, het ver weg getrek en het gevra dat Irma vir haar moet skryf. Irma sê: “Die vrou het al my briewe gehou. Nadat sy gesterf het, het haar dogter my gebel. Sy het vir my gesê dat sy al die briewe wat ek vir haar ma gestuur het, gelees het, en sy het gevra of ek asseblief vir haar ook briewe oor die Bybel kan stuur.”

Irma geniet haar bediening baie. Sy sê: “Ek smeek Jehovah om aan te hou om my die krag te gee om hom te dien. Ek doen wat ek kan, al kan ek nie meer van huis tot huis preek nie.”