Spring na inhoud

Vrywilligers omskep die Tuxedo-terrein

Vrywilligers omskep die Tuxedo-terrein

Dit is kwart voor sewe op ’n tipiese oggend in Tuxedo, New York. Die lug is blou, en ’n lagie ys bedek die klein meer langs die vierverdiepinggebou wat jong mans en vroue binnegaan. Geklee in werksklere en met stewels aan, het hulle vanoggend gereis van plaaslike hotelle en woongeboue en uit ander dele van die staat​—Patterson, Wallkill en selfs Brooklyn, sowat 80 kilometer hiervandaan.

Die meeste van hulle kom van ver af, van regoor die Verenigde State en elders. Hulle het aangebied om hier te werk​—party vir ’n week, party vir ses weke en ander vir langer. Hulle het self hulle reiskoste gedek en ontvang geen betaling vir hulle dienste nie. Tog is hulle verheug om hier te wees.

Daar is vandag omtrent 120 vrywilligers, hoewel daar in die komende maande meer sal wees. Hulle loop in die eetsaal in en gaan sit tien by ’n tafel. Baie gaan haal vir hulle koffie terwyl die reuk van spek uit die kombuis kom. Om presies 07:00 kyk hulle op televisiemonitors na ’n uitsending van ’n bespreking van ’n Bybelteks. Vyftien minute later bedien kelners ontbyt. Hulle bring brood, eiers en hawermout saam met die spek. Daar is oorgenoeg kos.

Ná die slotgebed aan die einde van die ete is dit tyd vir werk. Diegene wat konstruksiewerkers is, gesels opgeruimd terwyl hulle harde hoede en veiligheidsbrille opsit, helder baadjies aantrek en swaar gereedskapsgordels om hulle vasmaak.

Hulle taak is om die voormalige International Paper Company-fasiliteit in Tuxedo te omskep in ’n bouvoorbereidingsterrein vir die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, wat ’n paar kilometer daarvandaan gebou sal word, naby die dorp Warwick. Die bestaande geboue word omskep in kamers en kantore sowel as werkswinkels en bergruimte. Op Dinsdag 12 Maart 2013 het die plaaslike beplanningsraad voorwaardelike goedkeuring vir die Tuxedo-terreinplan gegee.

Hoe word die tydelike vrywilligers verwelkom wanneer hulle vir die eerste keer by hulle huisvesting aankom? “Wanneer jy daar opdaag”, sê William, van New Jersey, “gee die broers by die ontvangstoonbank jou die nodige inligting—waar jou kamer is, hoe om jou pad na die verskillende plekke te vind en hoe om die sleutels te gebruik. Almal is behulpsaam. Wanneer jy by Tuxedo kom, ontmoet jy jou spanleier ná ontbyt, en hy verduidelik wat jy gaan doen.”

Hoe is dit om hier te dien? Yajaira en haar man kom van Puerto Rico en help met die installering van raamwerk en pleisterbord. “Ons staan soggens halfvyf op”, sê sy. “Ons maak die woonstel aan die kant, maak ’n koppie koffie en gaan na die bus wat voorsien word. Aan die einde van die dag is ons moeg, maar dit voel asof ons nooit ophou lag nie. Almal is so gelukkig.”

Die eiendom by Warwick is omring deur ’n woud. Zach en sy vrou, Beth, van Minnesota, help met die voorbereiding van die Warwick-terrein. Toe Beth gevra is waarom hulle hierheen gekom het, het sy gesê: “Ons glo dat daar geen beter doel in die lewe is as om Jehovah te dien nie. Ons wil ons vaardighede in sy diens gebruik.”