Spring na inhoud

Fotogalery 6 van Brittanje (Maart tot Augustus 2018)

Fotogalery 6 van Brittanje (Maart tot Augustus 2018)

In hierdie fotogalery sal ons sien hoe die konstruksie by die nuwe takkantoor van Jehovah se Getuies in Brittanje tussen Maart en Augustus 2018 gevorder het.

  1. Noordelike Produksiegebou

  2. Suidelike Produksiegebou

  3. Kantoorgebou

  4. Woongebou A

  5. Woongebou B

  6. Woongebou C

  7. Woongebou D

  8. Woongebou E

  9. Woongebou F

8 Maart 2018 – Takkantoorbouterrein

’n Lid van die omgewingspan toets die pH-vlak van die water in die dam langs die hoofingang. Hierdie toetse help om seker te maak dat die stappe wat geneem is om besoedeling te beheer, werk.

13 Maart 2018 – Woongebou B

Iemand nuut word geleer hoe om panele te installeer wat die gebou teen die weer beskerm. Hierdie panele saam met die isolasie en die bakstene vorm die buitemure van die woongeboue.

5 April 2018 – Suidelike Produksiegebou

’n Padroller is besig om die grondlaag van ’n pad te kompakteer om dit voor te berei vir teer. Hierdie gedeelte van die pad langs die Suidelike Produksiegebou is deel van ’n pad wat om die hele bouterrein gaan.

1 Mei 2018 – Kantoorgebou

’n Lugfoto vanuit die noordwestelike kant. Die toringhyskraan, regs voor in die foto, staan in die ontvangsarea van die kantoorkompleks. Regs daarvan is die betonvloer van die Kantoorgebou, en links daarvan is die fondasies van die kombuis, die eetkamer en die ouditorium. Die uitkykplek, bo regs, is geskuif om besoekers ’n goeie uitsig te gee van hoe die bouwerk vorder.

9 Mei 2018 – Kantoorgebou

Staaldakkappe word in plek gesit en vorm die raamwerk van die kombuis, eetsaal en ouditorium van die kantoorkompleks.

14 Mei 2018 – Kantoorgebou

’n Lid van die omgewingspan maak seker dat ’n boom nie beskadig word tydens opgrawings nie. Stappe is geneem om die boom se wortels te beskerm. Die gebied waar die ander bome groei, is afgesper en geen konstruksie is daar toegelaat nie.

24 Mei 2018 – Woongebou E

’n Werker plant gras langs die kant van ’n voetpaadjie. Paaltjies hou die gras in plek sodat die wortels kan groei.

19 Junie 2018 – Woongebou D

’n Werker verf ’n syfer op ’n houtpaneel wat die derde verdieping identifiseer. ’n Maand daarna het konstruksiewerkers in Woongebou D begin intrek.

20 Junie 2018 – Kantoorgebou

Kontrakteurs laat sak voorafgegiete betonpanele vir die trappe in plek.

26 Junie 2018 – Kantoorgebou

Lede van die pleisterbord-span op hysers maak die raamwerk vir die gang se mure vas aan die plafon. Aan die regterkant is daar toerusting wat gebruik word om ’n deel van die lugreëling op te lig vir installering.

10 Julie 2018 – Kantoorgebou

Onder die vloer van die ontvangsarea in die kantoorkompleks word pypklampe geïnstalleer.

10 Julie 2018 – Produksiegeboue

Werkers installeer slote vir dreinering tussen die Noordelike Produksiegebou en die Suidelike Produksiegebou.

17 Julie 2018 – Kantoorgebou

Kontrakteurs sit die laaste deel van die dak se reling in plek buite die eetsaal. Die gang met die pilare onder gaan na Woongebou A.

19 Julie 2018 – Suidelike Produksiegebou

Dakbalke van staal word in plek gesit. In hierdie gebou sal daar werkswinkels en kantore wees.

2 Augustus 2018 – Takkantoorbouterrein

’n Lugfoto vanuit die noordwestelike kant. In die middel regs is die voltooide staalraamwerk van die Suidelike Produksiegebou, en daar word nog aan die buitemure gewerk. In die voorkant is hulle reeds besig met die Noordelike Produksiegebou, en die teerblad voor die gebou is klaar gelê. In die middel links is die kantoorkompleks en agter dit is die woongeboue.

3 Augustus 2018 – Woongeboue

’n Lugfoto vanuit die ooste gedurende sonsopkoms. In die voorgrond is die voltooide Woongeboue D, E en F. As alles volgens plan gaan, behoort Woongebou C teen Oktober klaar te wees.

7 Augustus 2018 – Kantoorgebou

Werkers gebruik rotse van kalksteen om ’n muur om ’n dammetjie te bou. Dit sal ’n mooi ingang wees by die kantoorkompleks wat deur die bome in die agtergrond gesien kan word.

7 Augustus 2018 – Kantoorgebou

Werkers installeer lugreëling en beligting in die plafon van ’n kantoor. Hierdie kantoor sal gebruik word om die volgorde van die werk van elke bouspan vas te stel.

21 Augustus 2018 – Kantoorgebou

Betonpanele word geïnstalleer by die Kantoorgebou. Die gebruik van voorafgegiete panele het die konstruksie vinniger laat plaasvind en teen die einde van Augustus was die Kantoorgebou heeltemal toegemaak. Die groot vensters laat soveel natuurlike lig as moontlik in die kantore in. Die vensters is diep in die rame geïnstalleer om die skerp lig van die lae winterson en die hitte van die somerson te verminder.

24 Augustus 2018 – Kantoorgebou

Werkers doen voorbereiding om die dakkappe bo die eetsaal en die ouditorium toe te bou. Hierdie mure sal die klank verminder wanneer die twee areas op dieselfde tyd gebruik word.