Spring na inhoud

’n Ope dag op die ‘Rots’

’n Ope dag op die ‘Rots’

Jehovah se Getuies het regoor die wêreld 15 takkantore wat drukwerk doen. Een daarvan, die Sentraal-Europese takkantoor, is geleë in Selters, Duitsland, in ’n gebied wat Steinfels genoem word, wat in Duits “Kliprots” beteken.

Op 23-25 Mei 2014 het die Sentraal-Europese takkantoor bure, sakemense en plaaslike beamptes na ’n ope dag genooi. Die geleentheid is “Dertig jaar in Selters” genoem, want die takfasiliteite is op 21 April 1984 amptelik ingewy.

Gedurende die ope dag het meer as 3 000 gaste deur die fasiliteite getoer. “’n Besoek aan die takkantoor van Jehovah se Getuies is altyd ’n spesiale geleentheid”, het die burgemeester gesê, wat al byna 30 jaar ’n lid van die plaaslike owerheid is. Hy het gesê: “Dit beïndruk my nog steeds hoe vinnig, van 1979 tot 1984, die takkantoor in Steinfels opgerig is.”

Glanspunte van die ope dag

Die tema van een uitstalling was “Jehovah se volk in Sentraal-Europa”. Besoekers is ingelig omtrent sowat 120 jaar van die geskiedenis van die Getuies in hierdie gebied. Die geskiedkundige uitstalling is nou ’n permanente kenmerk van die takkantoor.

Nog ’n uitstalling het bestaan uit seldsame en belangrike Bybels. Byvoorbeeld, dit het ’n vroeë uitgawe van die volledige Duitse Bybel van 1534 ingesluit, asook ’n deel van Elias Hutter se Poliglot-Bybel van 1599, wat teks in 12 tale bevat. Daarbenewens het uitstallings, tabelle en video-aanbiedings die aandag gevestig op die praktiese waarde van Bybelbeginsels vir die hedendaagse lewe.

In twee onbegeleide toere het besoekers meer geleer omtrent die daaglikse roetine van die meer as 1 000 mans en vroue wat by die takkantoor woon en werk. In die eerste toer, met die tema “Hoe ons lewe”, het gaste na ’n paar van die inwoners se kamers gekyk. Hulle het ook in die eetsaal geëet en op die parkagtige perseel rondgeloop. “Die plek is ongelooflik mooi”, het ’n besoeker gesê.

Die tweede toer, met die tema “Produksie”, het die Drukkery, die Boekbindery en die Versendingsafdeling ingesluit. Besoekers het gesien hoe Bybellektuur gedruk, gebind en dan na meer as 50 lande versend word. Een man het gesê: “Ek het nooit gedink dat Jehovah se Getuies ’n wêreldwye organisasie is nie. Hulle publikasies bereik elke uithoek van die aarde. Om dit met vrywilligers te doen, is ’n wonderwerk.”

Besoekers word omtrent jw.org ingelig

’n Besondere glanspunt was die jw.org-stalletjie wat die aandag op die amptelike webwerf van Jehovah se Getuies gevestig het. Oud en jonk het na aanbiedings en video’s gekyk, en hulle het antwoorde op hulle tallose vrae gekry.

Danksy die nuwe insig wat hulle in die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies gekry het, het baie besoekers ná hulle toer bewondering vir die werk en ’n glimlag op hulle gesig gehad. Een man het gesê: “Ek het soveel wanopvattings van die Getuies gehad. Ek moet regtig my opinie heroorweeg.” Een vrou het oor en oor gesê: “Vandag word vooroordele werklik afgebreek.”

^ par. 17 Syfers van 2014

^ par. 21 Syfers van 2014

^ par. 24 Syfers van 2014