Spring na inhoud

Hoekom vier Jehovah se Getuies nie sekere vakansiedae nie?

Hoekom vier Jehovah se Getuies nie sekere vakansiedae nie?

 Hoe besluit Jehovah se Getuies of ’n vakansiedag aanvaarbaar is of nie?

Voordat Jehovah se Getuies besluit of hulle ’n sekere vakansiedag sal vier, kyk hulle eers wat die Bybel daaroor sê. Party vakansiedae en vieringe is direk teen Bybelbeginsels. In sulke gevalle sal Jehovah se Getuies nie daaraan deelneem nie. Wanneer dit by ander vakansiedae kom, maak elke Getuie sy of haar eie keuse, maar hulle doen hulle bes om ‘geen oortreding teen God en mense te begaan nie’. — Handelinge 24:16.

Hier volg ’n paar vrae wat Jehovah se Getuies hulle afvra wanneer hulle besluit of hulle ’n vakansiedag sal vier of nie. *

  • Is die vakansiedag gebaseer op ’n lering wat nie deur die Bybel ondersteun word nie?

    Bybelwaarheid: “‘Gaan . . . onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is, aan te raak.’” — 2 Korintiërs 6:15-17.

    Jehovah se Getuies bly heeltemal weg van leringe wat geestelik onrein is, dit wil sê iets wat in stryd is met wat die Bybel sê. Daarom vier hulle nie vakansiedae wat die volgende kenmerke insluit nie.

    Vakansiedae wat gebaseer is op die geloof in en aanbidding van ander gode. Jesus het gesê: “Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig” (Matteus 4:10). Omdat Jehovah se Getuies aan hierdie bevel gehoorsaam is, vier hulle nie Kersfees, Paasfees of Meidag nie, aangesien hierdie vakansiedae die aanbidding van ander gode bevorder en nie van Jehovah nie. En hulle vier ook nie die volgende vakansiedae nie.

    • Kwanzaa. Die naam Kwanzaa “kom van die Swahili woorde matunda ya kwanza, wat ‘eerste vrugte’ beteken en [dit] wys dat die vakansiedag sy oorsprong het in die eerste oesvieringe wat opgeteken is in Afrika se geskiedenis” (Encyclopedia of Black Studies). Hoewel baie mense Kwanzaa as ’n nie-godsdienstige viering beskou, vergelyk die Encyclopedia of African Religion dit met ’n Afrika-oesfees. In hierdie viering het mense offerandes aan hulle gode en voorouers gebring om hulle te bedank. Kwanzaa, wat ’n Afro-Amerikaanse vakansiedag is, is op hierdie vieringe gebaseer.

      Kwanzaa

    • Midherfsfees. Dit is ’n “fees wat die maangodin vereer” (Holidays, Festivals, and Celebrations of the World Dictionary). Dit sluit rituele in “soos die vroue van die huis . . . wat voor die godin neerbuig”. — Religions of the World​—A Comprehensive Encyclopedia of Beliefs and Practices.

    • Nauruz (Nowruz). “Hierdie fees kom van die godsdiens Zoroastrianisme en is een van die heiligste dae op die eertydse Zoroastriese kalender. . . . Die Gees van die Middag staan bekend as [Rapithwin]. Hy is blykbaar gedurende die koue maande deur die Gees van die Winter ondergrond gedryf. Volgens Zoroastriese tradisie is hy met vieringe in die middel van die dag op Nowruz terugverwelkom.” — Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie.

    • Shab-e Yalda. Volgens die boek Sufism in the Secret History of Persia is dit ’n viering van die wintersonstilstand en “hou dit definitief verband met die aanbidding van Mitra”, die god van lig. Daar is ook al gesê dat die vakansiedag moontlik te doen het met die aanbidding van die Romeinse en Griekse songode. *

    • Thanksgiving. Soos Kwanzaa het hierdie vakansiedag ook sy oorsprong in eertydse oesvieringe wat verskillende gode vereer het. Mettertyd “is hierdie ou volkstradisies deur Christelike godsdienste aangeneem”. — A Great and Godly Adventure​—The Pilgrims and the Myth of the First Thanksgiving.

    Vakansiedae wat op bygelowigheid of geloof in geluk gebaseer is. Die Bybel sê dat diegene “wat ’n tafel vir die Geluksgod dek” onder diegene is “wat Jehovah verlaat” (Jesaja 65:11). Daarom vier Jehovah se Getuies nie die volgende vakansiedae nie:

    • Ivan Kupala. Volgens die boek The A to Z of Belarus glo mense dat die natuur baie toorkrag het gedurende die dag van Ivan Kupala en as jy dapper en gelukkig is, kan jy van daardie krag kry. Oorspronklik was dit ’n heidense vakansiedag wat die somersonstilstand gevier het. Maar die Encyclopedia of Contemporary Russian Culture sê dat “dit gemeng is met die godsdienstige vakansiedag [die “heiligedag” van Johannes die Doper] nadat die Christelike godsdiens aanvaar is”.

    • Nuwe Maanjaar (Chinese of Koreanse Nuwejaar). “Op hierdie tyd van die jaar is die belangrikste ding vir familie en vriende om seker te maak dat net goeie dinge met hulle gedurende die jaar gebeur, om die gode en geeste te vereer en om almal goeie voorspoed vir die komende jaar toe te wens” (Mooncakes and Hungry Ghosts​—Festivals of China). Op dieselfde manier bestaan die Koreaanse Nuwejaar uit “vooroueraanbidding, rituele om slegte geeste te verdryf, om te verseker dat goeie dinge in die Nuwejaar gebeur en om deur middel van waarsêery uit te vind wat vir die Nuwejaar belowe is.” — Encyclopedia of New Year’s Holidays Worldwide.

      Chinese Nuwejaar

    Vakansiedae wat gebaseer is op die idee dat die siel onsterflik is. Die Bybel sê duidelik dat die siel kan sterf (Esegiël 18:4). Daarom vier Jehovah se Getuies nie die vakansiedae wat hieronder bespreek word nie omdat dit die idee bevorder dat die siel onsterflik is:

    • Allersieledag (Dag van die Dooies). Volgens die New Catholic Encyclopedia word hierdie dag gebruik om die dooies te vereer. “Regdeur die Middeleeue is daar geglo dat die siele wat in die vaevuur is, op hierdie dag as spoke, hekse, paddas, ensovoorts, aan mense kan verskyn wat hulle gedurende hulle lewe onregverdig behandel het.”

    • Qingming-fees (Ch’ing Ming) en die Geestefees. Hierdie twee feeste word gehou om voorouers te vereer. Die boek Celebrating Life Customs Around the World​—From Baby Showers to Funerals sê dat gedurende Ch’ing Ming word “kos, drinkgoed en papiergeld verbrand om seker te maak dat die dooies nie honger of dors is en nie sonder geld is nie”. Die boek sê ook dat “[volgens die mense wat hierdie fees vier], daar gedurende die feesmaand en veral op die aand van die volmaan ’n sterker band tussen die dooies en die lewendes is as op enige ander aand. Daarom is dit belangrik om alles moontlik te doen om die dooies gelukkig te hou en om die voorouers te vereer.”

    • Tsjoeseok. The Korean Tradition of Religion, Society, and Ethics sê dat hierdie fees insluit dat “kos en wyn aan die siele van die dooies geoffer word”. Mense bring hierdie offerandes omdat hulle glo dat “die siel aanhou bestaan nadat die liggaam dood is”.

    Vakansiedae wat te doen het met bonatuurlike magte. Die Bybel sê: “Daar mag niemand onder jou gevind word . . . wat van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is nie, of wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek of ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller van gebeure om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik” (Deuteronomium 18:10-12). Omdat Jehovah se Getuies wegbly van dinge wat te doen het met bonatuurlike magte, insluitende astrologie (’n vorm van waarsêery), vier hulle nie Halloween of die volgende vakansiedae nie:

    • Sinhala en Tamil-Nuwejaar. “Die tradisionele rituele wat verband hou met hierdie geleentheid . . . sluit in dat sekere dinge gedoen word op spesifieke tye wat astroloë vasgestel het voorspoedig sal wees.” — Encyclopedia of Sri Lanka.

    • Songkran. Die naam van hierdie Asiatiese fees “kom van die Sanskritwoord . . . wat ‘beweging’ of ‘verandering’ beteken, en [die fees] vier die beweging van die son in die diereriem se sterrebeeld van die Ram”. — Food, Feasts, and Faith​—An Encyclopedia of Food Culture in World Religions.

    Vieringe in verband met aanbidding onder die Mosaïese Wet, wat met Jesus se offerande geëindig het. Die Bybel sê: “Christus is die einde van die Wet” (Romeine 10:4). Christene vind nog baat by die beginsels van die Mosaïese Wet wat aan Israel gegee is. Maar hulle vier nie die feeste daarvan nie, veral nie die feeste wat wys dat daar ’n Messias sal kom nie, want Christene glo dat hy reeds gekom het. Die Bybel sê: “Dié dinge is ’n skaduwee van die toekomstige dinge, maar die werklikheid behoort aan die Christus” (Kolossense 2:17). As gevolg hiervan, en omdat sekere feeste gebruike insluit wat nie op die Bybel gebaseer is nie, vier Jehovah se Getuies nie die volgende feeste nie:

    • Hanukka. Hierdie fees herdenk die hertoewyding van die Joodse tempel in Jerusalem. Maar die Bybel sê dat Jesus die Hoëpriester geword het van ’n “groter en volmaakter tent [of tempel] wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê wat nie van hierdie skepping is nie” (Hebreërs 9:11). Vir Christene het die geestelike tempel die fisiese tempel in Jerusalem vervang.

    • Roosj Hasjana (Joodse Nuwejaar). Dit is die eerste dag van die Joodse jaar. In die ou tyd het hierdie fees spesiale offerandes aan God ingesluit (Numeri 29:1-6). Maar as die Messias het Jesus Christus “offerande en offergawe laat ophou” sodat dit nie meer waarde in God se oë het nie. — Daniël 9:26, 27.

  • Bevorder die vakansiedag godsdiensvermenging?

    Bybelwaarheid: “Watter aandeel het ’n getroue met ’n ongelowige? En watter ooreenkoms het God se tempel met afgode?” — 2 Korintiërs 6:15-17.

    Jehovah se Getuies doen hulle bes om in vrede saam met ander mense te lewe en respekteer die reg wat elke persoon het om te kies wat hy wil glo. Maar hulle vermy vieringe wat op die volgende maniere godsdiensvermenging bevorder.

    Vieringe van ’n godsdiensfiguur of -gebeurtenis wat verenigde aanbidding bevorder onder mense wat aan verskillende godsdienste behoort. Toe God sy volk in die ou tyd na ’n nuwe land gelei het waar die inwoners ander godsdienste beoefen het, het hy vir hulle gesê: “Jy mag geen verbond met hulle of hulle gode sluit nie ... As jy hulle gode dien, sal dit vir jou ’n strik word” (Eksodus 23:32, 33). Daarom neem Jehovah se Getuies nie deel aan vakansiedae soos die volgende nie.

    • Loy Krathong. Gedurende hierdie Thai-fees “maak mense bakkies uit blare en sit hulle kerse en wierookstokkies daarin, en laat hulle die bakkies op die water wegdryf. Die bootjies is veronderstel om slegte geluk weg te dra. Die fees herdenk eintlik die heilige voetspoor wat deur die Boeddha agtergelaat is.” — Encyclopedia of Buddhism.

    • Nasionale Beroudag. ’n Regeringsamptenaar wat aangehaal word in The National, ’n koerant in Papoea-Nieu-Guinee, het gesê dat mense wat aan hierdie geleentheid deelneem, “instem [tot] die grondleringe van die Christengeloof”. Hy sê ook dat die dag help om Christelike beginsels in die land te bevorder.

    • Vesak. “Dit is die heiligste van die Boeddhistiese vakansiedae, want dit vier die Boeddha se geboorte, verligting en dood, dit wil sê toe hy Nirwana bereik het.” — Holidays, Festivals, and Celebrations of the World Dictionary.

      Vesak

    Vieringe wat gebaseer is op godsdienstradisies wat nie deur die Bybel ondersteun word nie. Jesus het vir godsdiensleiers gesê: “So het julle die woord van God kragteloos gemaak weens julle oorlewering.” Hy het ook gesê dat hulle aanbidding nutteloos is omdat hulle “gebooie van mense as leerstellings” geleer het (Matteus 15:6, 9). Omdat Jehovah se Getuies hierdie waarskuwing ernstig opneem, is daar baie godsdiensvieringe waaraan hulle nie deelneem nie.

    • Epifanie (Drie Konings se Fees, Timkat of Los Reyes Magos). Mense wat dit vier, herdenk die astroloë se besoek aan Jesus of Jesus se doop. Die fees “het sekere heidense lentefeeste, wat die gode van lopende water, riviere en waterstrome vereer, verchristelik” (The Christmas Encyclopedia). Timkat, ’n verwante fees, “het sy oorsprong in tradisie”. — Encyclopedia of Society and Culture in the Ancient World.

    • Fees van die Hemelvaart van Maria. Hierdie viering herdenk die opvatting dat Jesus se ma met haar fisiese liggaam hemel toe opgevaar het. Volgens Religion and Society​—Encyclopedia of Fundamentalism “was hierdie opvatting nie bekend onder die vroeë Christene nie en is daar geen verwysing hierna in die Bybel nie”.

    • Fees van die Onbevlekte Ontvangenis. “Die Onbevlekte Ontvangenis [van Maria] word nie uitdruklik in die Bybel geleer nie . . . [Dit] is iets wat die Kerk besluit het.” — New Catholic Encyclopedia.

    • Vastyd. Volgens die New Catholic Encyclopedia is dit ’n tyd van berou en vas en is dit “in die vierde eeu” gevestig, meer as 200 jaar nadat die Bybel voltooi is. Die ensiklopedie sê ook die volgende oor die eerste dag van die Vastyd: “Die gebruik wat behels dat die getroues op Aswoensdag as op hulle voorkoppe kry, is sedert die Sinode van Benevento in 1091 algemeen beoefen.”

    • Meskel (of Maskal). Hierdie Etiopiese fees vier “die feit dat die Ware Kruis (die kruis waarop Jesus gekruisig is) gevind is. Dit word gevier deur groot vure aan te steek en rondom die vure te dans”, sê die Encyclopedia of Society and Culture in the Medieval World. Maar Jehovah se Getuies gebruik nie die kruis in hulle aanbidding nie.

  • Vereer die vakansiedag ’n mens, organisasie of nasionale simbool?

    Bybelwaarheid: “Só het Jehovah gesê: ‘Vervloek is die man wat op die mens vertrou en wat vlees sy arm maak en wie se hart van Jehovah afwyk.’” — Jeremia 17:5.

    Hoewel Jehovah se Getuies wys dat hulle hulle medemens liefhet en selfs vir hulle bid, neem hulle nie deel aan die volgende soort gebeurtenisse of vieringe nie:

    Vakansiedae wat ’n heerser of ’n belangrike persoon vereer. Die Bybel sê: “Bly om julle eie ontwil weg van die mens wie se asem in sy neusgate is, want op grond waarvan moet hy in aanmerking geneem word?” (Jesaja 2:22). Daarom vier Jehovah se Getuies nie byvoorbeeld ’n koning of koningin se verjaarsdag nie.

    Viering van ’n nasie se vlag. Jehovah se Getuies vier nie Vlagdag nie. Hoekom nie? Omdat die Bybel sê: “Kindertjies, bewaar julle van afgode” (1 Johannes 5:21). Vandag beskou party mense ’n vlag nie as ’n afgod of iets wat aanbid moet word nie, maar geskiedkundige Carlton J.H. Hayes het geskryf: “Nasionalisme se hoofsimbool van geloof en hoofvoorwerp van aanbidding is die vlag.”

    Vakansiedae of vieringe wat ’n heilige vereer. Wat het gebeur toe ’n godvresende man voor die apostel Petrus neergebuig het? Die Bybel sê: “Petrus het hom opgehelp en gesê: ‘Staan op; ek is self ook ’n mens’” (Handelinge 10:25, 26). Aangesien nie Petrus of die ander apostels spesiale verering aanvaar het nie, neem Jehovah se Getuies nie deel aan gebeurtenisse om persone wat as heiliges beskou word, te eer nie. Dit sluit die volgende vieringe in:

    • Allerheiligedag. “’n Fees wat alle heiliges vereer . . . Die oorsprong van hierdie fees is onseker.” — New Catholic Encyclopedia.

    • Fiesta van Ons Liewe Vrou van Guadalupe. Hierdie fees vereer “die beskermheilige van Mexiko,” wat party meen Maria, die ma van Jesus, is. Daar word gesê dat sy in 1531 wonderdadig aan ’n gewone mens verskyn het. —The Greenwood Encyclopedia of Latino Literature.

      Fiesta van Ons Liewe Vrou van Guadalupe

    • Naamdag. “’n Naamdag is die feesdag van die heilige waarna ’n kind vernoem is toe hy gedoop of deur die kerk aangeneem is”, sê die boek Celebrating Life Customs Around the World​—From Baby Showers to Funerals. Dit sê ook dat “hierdie dag sterk verband hou met godsdienstige gebruike”.

    Vieringe van politieke of sosiale bewegings. Die Bybel sê: “Dit is beter om jou toevlug tot Jehovah te neem as om op die mens te vertrou” (Psalm 118:8, 9). Omdat Jehovah se Getuies wil wys dat hulle op God vertrou om die wêreld se probleme op te los, en nie op mense nie, vier hulle nie Jeugdag of Vrouedag nie. Daarom neem hulle ook nie deel aan Emansipasiedag of soortgelyke vieringe nie. Hulle vertrou eerder op God se Koninkryk om die probleme van rassisme en ongelykheid op te los. — Romeine 2:11; 8:21.

  • Stel die vakansiedag een nasie of etniese groep bo die ander?

    Bybelwaarheid: “God [is] nie partydig ... nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik.” — Handelinge 10:34, 35.

    Alhoewel baie van Jehovah se Getuies hou van die land waarin hulle woon, vermy hulle vieringe wat nasies of etniese groepe verhef op die manier wat in die volgende lys beskryf word.

    Geleenthede wat die militêre magte vereer. Jesus het nie oorlog ondersteun nie, maar het eerder vir sy volgelinge gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matteus 5:44). Daarom neem Jehovah se Getuies nie deel aan vieringe wat soldate vereer nie, wat die volgende vakansiedae insluit:

    • Anzacdag. “Anzac staan vir Australian and New Zealand Army Corps [en] Anzacdag het geleidelik ’n dag geword waarop mense wat in oorlog gesterf het, herdenk word.” — Historical Dictionary of Australia.

    • Veteranedag (Wapenstilstandsdag, Nasionale Roudag). Hierdie vakansiedae vereer “ou soldate van die weermag en diegene wat in die land se oorloë gesterf het”. — Encyclopædia Britannica.

    Vieringe van ’n nasie se geskiedenis of onafhanklikheid. Jesus het oor sy volgelinge gesê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Hoewel Jehovah se Getuies graag meer oor ’n nasie se geskiedenis wil leer, neem hulle nie deel aan die volgende soort geleenthede nie:

    • Australiëdag. Volgens die Worldmark Encyclopedia of Cultures and Daily Life vier hierdie vakansiedag “die dag in 1788 toe die Engelse soldate hulle vlag gehys het en Australië as ’n nuwe kolonie verklaar het”.

    • Guy Fawkes-dag. Dit is “’n nasionale dag ter herdenking van Guy Fawkes en ander Katolieke ondersteuners se mislukte poging in 1605 om koning Jakobus I en die lede van die Engelse regering op te blaas”. — A Dictionary of English Folklore.

    • Onafhanklikheidsdag. In verskillende lande is dit ’n dag wanneer mense hulle land se onafhanklikheid van ’n ander land herdenk. — Merriam-Webster’s Unabridged Dictionary.

  • Is die vakansiedag daarvoor bekend dat mense dronk word of hulle sleg gedra?

    Bybelwaarheid: “Die tyd wat verby is, is voldoende vir julle om die wil van die nasies te kon volbring toe julle in losbandige dade, welluste, oordadighede met wyn, swelgerye, drinkpartye en onwettige afgoderye gewandel het.” — 1 Petrus 4:3.

    In ooreenstemming met hierdie Bybelwaarheid vermy Jehovah se Getuies vieringe wat gepaardgaan met dronkenskap en wilde partytjies. Jehovah se Getuies geniet dit om saam met hulle vriende te kuier, en hulle drink dalk soms alkoholiese drankies in matigheid. Hulle probeer hard om die Bybel se raad te volg: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God.” — 1 Korintiërs 10:31.

    Daarom neem Jehovah se Getuies nie deel aan karnavalle of soortgelyke feeste wat slegte gedrag bevorder en deur die Bybel veroordeel word nie. Dit sluit die Joodse fees Purim in. Hoewel Purim al lank die bevryding van die Jode in die vyfde eeu VHJ herdenk, kan dit nou “as die Joodse weergawe van Mardi Gras of Karnaval beskryf word”, sê die boek Essential Judaism. Vir baie partytjiegangers “sluit dit in dat mans dikwels vroueklere aantrek, dat daar wilde gedrag is, te veel gedrink word en baie geraas gemaak word”.

 Is Jehovah se Getuies, wat nie sekere vakansiedae vier nie, nog steeds lief vir hulle familie?

Ja. Die Bybel wys dat mense hulle familie moet liefhê en respekteer, ongeag hulle geloof (1 Petrus 3:1, 2, 7). Maar wanneer een van Jehovah se Getuies ophou om ’n sekere viering te vier, voel party in sy of haar familie dalk ontsteld, seergemaak of selfs verraai. Daarom neem baie Getuies van Jehovah die inisiatief om hulle familie te verseker van hulle liefde, om vriendelik die redes vir hulle besluite te verduidelik en om hulle familie op ander kere te besoek.

 Sê Jehovah se Getuies vir ander om nie sekere vakansiedae te vier nie?

Nee. Hulle glo dat elke persoon sy eie besluit moet maak (Josua 24:15). Jehovah se Getuies “eer alle soorte mense”, maak nie saak wat hulle godsdiensoortuigings is nie. — 1 Petrus 2:17.

^ par. 7 Hierdie artikel gee nie ’n lys van al die vakansiedae wat Jehovah se Getuies nie vier nie, en dit bespreek ook nie al die Bybelwaarhede wat dalk van toepassing is nie.

^ par. 15 Mithra, Mithraism, Christmas Day & Yalda deur K. E. Eduljee, bladsy 31-33.