Spring na inhoud

Wat is die hel? Is dit ’n plek van ewige foltering?

Wat is die hel? Is dit ’n plek van ewige foltering?

Die Bybel se antwoord

Party Bybelvertalings gebruik die woord “hel” vir die Hebreeuse woord “Sjeool” en die ooreenstemmende Griekse woord “Hades”, wat albei na die gemeenskaplike graf van die mensdom verwys (Psalm 16:10; Handelinge 2:27). Baie mense glo aan ’n brandende hel, soos getoon word deur die godsdienstige kunswerk in hierdie artikel. Maar die Bybel leer iets anders.

  1. Diegene wat in die hel is, is van niks bewus nie en kan dus nie pyn voel nie. “Daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool [nie].”—Prediker 9:10.

  2. Goeie mense gaan hel toe. Die getroue manne Jakob en Job het verwag om soontoe te gaan.—Genesis 37:35; Job 14:13.

  3. Die dood, nie foltering in ’n brandende hel nie, is die straf vir sonde. “Hy wat gesterf het, is van sy sonde vrygespreek.”—Romeine 6:7.

  4. Ewige foltering sou in stryd wees met God se geregtigheid (Deuteronomium 32:4). Toe die eerste man, Adam, gesondig het, het God vir hom gesê dat hy as straf eenvoudig sou ophou bestaan: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). God sou gelieg het as hy Adam in werklikheid na ’n brandende hel gestuur het.

  5. God oorweeg nie eens ewige foltering nie. Die idee dat hy mense in ’n helse vuur straf, is in stryd met die Bybel se lering dat ‘God liefde is’.—1 Johannes 4:8; Jeremia 7:31.