Spring na inhoud

Die oorsprong van Allerheiligeaand—Wat sê die Bybel daaroor?

Die oorsprong van Allerheiligeaand—Wat sê die Bybel daaroor?

Die Bybel se antwoord

Die Bybel meld nie Allerheiligeaand nie. Maar die eertydse oorsprong van Allerheiligeaand sowel as sy moderne gebruike toon dat dit ’n viering is wat gebaseer is op valse opvattings oor die dooies en onsigbare geeste, of demone.—Sien “Allerheiligeaand se geskiedenis en gebruike”.

Die Bybel waarsku: “Daar mag nooit iemand onder julle wees wat . . . spoke of geeste raadpleeg of die dooies oproep nie” (Deuteronomium 18:10-12, The Jerusalem Bible). Terwyl party mense Allerheiligeaand as onskadelike pret beskou, toon die Bybel dat die gebruike wat daarmee gepaardgaan, nie onskadelik is nie. In 1 Korintiërs 10:20, 21 sê die Bybel: “Ek wil nie hê dat julle deelgenote met demone moet wees nie. Julle kan nie die beker van die Here en ook die beker van demone drink nie.”​—New International Version.

Allerheiligeaand se geskiedenis en gebruike

  1. Samhain: Die oorsprong van Allerheiligeaand kan teruggevoer word tot hierdie “ou heidense fees wat meer as 2 000 jaar gelede deur die Keltiese volk gevier is”, sê The World Book Encyclopedia. “Die Kelte het geglo dat die dooies gedurende hierdie tyd onder die lewendes kan wandel. Tydens Samhain kon die lewendes met die dooies assosieer.” Maar die Bybel leer duidelik dat die dooies ‘bewus is van hoegenaamd niks’ (Prediker 9:5). Hulle kan dus nie met die lewendes in aanraking kom nie.

  2. Kostuums, lekkers en “trick or treat” op Allerheiligeaand: Volgens die boek Halloween​—An American Holiday, An American History het party van die Kelte monsteragtige kostuums gedra sodat wandelende geeste sou dink dat hulle ook ’n gees is en hulle sou uitlos. Ander het vir die geeste lekkers aangebied om hulle te paai. In die Middeleeuse Europa het die Katolieke geestelikes plaaslike heidense gebruike aangeneem en hulle lidmate in kostuums van huis tot huis laat gaan en geskenkies laat vra. Daarenteen verbied die Bybel die vermenging van valse godsdiensgebruike met die aanbidding van God.—2 Korintiërs 6:17.

  3. Spoke, vampiere, weerwolwe, hekse en zombies: Dit word al lank met die bose geestewêreld geassosieer (Halloween Trivia). Die Bybel sê uitdruklik dat ons bose geesmagte moet teëstaan, nie saam met hulle moet feesvier nie.—Efesiërs 6:12.

  4. Pampoenlanterns op Allerheiligeaand: In Middeleeuse Brittanje het “smekers van deur tot deur gegaan en kos gevra in ruil vir ’n gebed vir die dooies”, en hulle het “uitgeholde raaplanterns [gedra], waarvan die kers ’n siel uitgebeeld het wat in die vaevuur vasgevang is” (Halloween​—From Pagan Ritual to Party Night). Ander sê dat die lanterns gebruik is om bose geeste weg te hou. Gedurende die 1800’s in Noord-Amerika is rape met pampoene vervang omdat dit volop is asook maklik is om uit te hol en te kerf. Die opvattings agter hierdie gebruik—die onsterflikheid van die siel, die vaevuur en gebede vir die dooies—is nie op die Bybel gebaseer nie.—Esegiël 18:4.