Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor homoseksualiteit?

Wat sê die Bybel oor homoseksualiteit?

Die Bybel se antwoord

God het mense geskep om net seks te hê in ’n huwelik tussen ’n man en ’n vrou (Genesis 1:27, 28; Levitikus 18:22; Spreuke 5:18, 19). Die Bybel veroordeel seksuele bedrywighede tussen persone wat nie as man en vrou getroud is nie, hetsy dit homoseksuele of heteroseksuele gedrag is (1 Korintiërs 6:18). Dit sluit geslagsomgang in, asook die streling van ’n ander se geslagsdele en orale of anale seks.

Hoewel die Bybel homoseksuele dade veroordeel, keur dit nie haat vir homoseksuele mense of homofobie goed nie. Christene word eerder gemaan om “almal te respekteer”.—1 Petrus 2:17, Good News Translation.

Kan iemand as ’n homoseksueel gebore word?

Die Bybel bespreek nie spesifiek die biologie van homoseksuele begeertes nie, hoewel dit erken dat ons almal gebore word met ’n neiging om in stryd met God se gebooie te handel (Romeine 7:21-25). Die Bybel konsentreer nie op die oorsaak van homoseksuele begeertes nie, maar verbied eerder homoseksuele dade.

Hoe om God te behaag ten spyte van aangetrokkenheid tot dieselfde geslag.

Die Bybel sê: “Moenie deur jou liggaam beheer word nie. Maak elke begeerte na die verkeerde soort seks dood’’ (Kolossense 3:5, Contemporary English Version). Om verkeerde begeertes, wat tot verkeerde dade lei, dood te maak, moet jy jou denke beheer. As jy gereeld jou verstand met heilsame gedagtes vul, sal jy verkeerde begeertes makliker kan verwerp (Filippense 4:8; Jakobus 1:14, 15). Al is dit aan die begin vir jou baie moeilik, kan dit makliker word. God belowe om jou te help om ‘vernuwe te word in die krag wat jou verstand aandryf’.—Efesiërs 4:22-24.

Dieselfde stryd word gevoer deur miljoene met heteroseksuele begeertes wat aan Bybelstandaarde wil voldoen. Byvoorbeeld, ongetroude mense wat heel moontlik nie ’n huweliksmaat sal vind nie of diegene wat getroud is met iemand wat nie seks kan hê nie, kies om hulle geslagsdrange te beheer ondanks enige versoekings waarvoor hulle te staan kom. Hulle kan ’n gelukkige lewe lei, en diegene wat tot dieselfde geslag aangetrokke voel, kan ook ’n gelukkige lewe lei as hulle God werklik wil behaag.—Deuteronomium 30:19.