Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat kan ek omtrent angstigheid doen?

Wat kan ek omtrent angstigheid doen?

 Wat maak jou angstig?

 Beskryf die volgende kommentare hoe jy soms voel?

 “Ek dink voortdurend: ‘Sê nou . . . ?’ ‘Sê nou ons is in ’n motorongeluk?’ ‘Sê nou ons vliegtuig val?’ Ek is angstig oor dinge waaroor ’n redeliker persoon hom nie soveel sou bekommer het nie.”—Charles.

 “Ek is heeltyd angstig. Ek voel soos ’n hamster in ’n wiel wat hardloop en nêrens kom nie. Ek werk my dood, maar bereik eintlik niks!”—Anna.

 “Wanneer mense vir my sê dat ek gelukkig is dat ek nog op skool is, dink ek: ‘Hulle het geen idee hoe stresvol skool is nie!’”—Daniel.

 “Ek voel heeltyd onder druk. Ek is altyd bekommerd oor wat gaan gebeur of wat ek moet doen.”—Laura.

 Lewenswaarheid: Ons lewe in ’n tyd wat die Bybel beskryf as ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Daarom kan jongmense net so angstig raak soos volwassenes.

 Is angstigheid altyd sleg?

 Die antwoord is nee. Om die waarheid te sê, die Bybel sê dat dit gepas is dat mense daaroor besorg is om hulle geliefdes gelukkig te maak.—1 Korintiërs 7:32-34; 2 Korintiërs 11:28.

 En kom ons wees eerlik—angstigheid kan ’n groot dryfkrag wees. Byvoorbeeld, gestel jy moet volgende week ’n toets by die skool skryf. Angstigheid kan jou aanspoor om hierdie week te studeer—en dit kan jou help om beter punte te kry!

 ’n Mate van angstigheid kan jou ook bewus maak van gevaar. “Jy voel dalk angstig omdat jy weet dat jy ’n verkeerde weg ingeslaan het en dat jy veranderinge moet aanbring om ’n skoon gewete te hê”, sê ’n tiener met die naam Serena.—Vergelyk Jakobus 5:14.

 Lewenswaarheid: Angstigheid kan jou bevoordeel—solank dit jou beweeg om te doen wat reg is.

 Maar sê nou angstigheid veroorsaak dat jy vasgevang word in ’n doolhof van negatiewe gedagtes?

Angstigheid kan jou laat voel asof jy in ’n doolhof vasgevang is, maar iemand met ’n ander perspektief kan jou help om daar uit te kom

 Voorbeeld: “Wanneer ek in ’n stresvolle situasie is, raak ek baie angstig omdat ek dink aan alles wat kan skeef loop”, sê 19-jarige Richard. “Hierdie gedagtes maal voortdurend deur my kop en maak my baie angstig.”

 Die Bybel sê: “’n Kalm gemoed hou die liggaam gesond” (Spreuke 14:30, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Maar angstigheid kan tot ’n aantal onaangename fisiese simptome lei, insluitende kopseer, duiseligheid, ’n omgekrapte maag en hartkloppings.

 Wat kan jy doen as dit lyk asof angstigheid jou benadeel eerder as bevoordeel?

 Wat jy kan doen

  •   Vra jou af of jou angstigheid redelik is. “Om oor jou verantwoordelikhede besorg te wees, is een ding; maar om baie angstig te wees, is iets heeltemal anders. Dit laat my dink aan die gesegde: Angstigheid is soos ’n wiegstoel. Dit gee jou iets om te doen, maar dit bring jou nêrens nie.”—Katherine.

     Die Bybel sê: “Wie van julle kan deur hom te kwel een el by sy lewensduur voeg?”—Matteus 6:27.

     Wat dit beteken: Tensy angstigheid jou ’n oplossing laat vind, sal dit net jou probleem vererger—of jou probleem word.

  •   Pak een dag op ’n slag aan. “Dink goed daaroor na. Sal die ding waaroor jy jou bekommer, môre, oor ’n maand, oor ’n jaar, oor vyf jaar, nog saak maak?”—Anthony.

     Die Bybel sê: “Moet julle . . . nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.”—Matteus 6:34.

     Wat dit beteken: Dit maak nie sin om jou oor môre se probleme te bekommer nie—party daarvan sal dalk nooit eens ontstaan nie.

  •   Leer om te aanvaar wat jy nie kan verander nie. “Die beste wat jy kan doen, is om sover moontlik vir situasies voor te berei, maar aanvaar die feit dat party situasies buite jou beheer is.”—Robert.

     Die Bybel sê: ‘Die vinniges [wen] nie die wedloop nie, en selfs dié wat kennis het, het nie die guns nie; want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.’—Prediker 9:11.

     Wat dit beteken: Jy kan nie altyd jou omstandighede verander nie, maar jy kan jou beskouing daarvan verander.

  •   Sien jou situasie in perspektief. “Ek vind dat ek na die groter prentjie moet kyk en my nie oor die besonderhede moet bekommer nie. Ek moet besluit wat die belangrikste is en my energie daaraan bestee.”—Alexis.

     Die Bybel sê: “Maak [seker] van die belangriker dinge.”—Filippense 1:10.

     Wat dit beteken: Mense wat hulle bekommernisse in perspektief sien, word nie so maklik daardeur oorweldig nie.

  •   Praat met iemand. “Toe ek in graad ses was, het ek baie angstig huis toe gekom, en ek was glad nie lus vir die volgende dag nie. My ma en pa het geluister wanneer ek vertel het hoe ek voel. Dit was wonderlik om hulle daar te hê. Ek kon hulle vertrou en openlik met hulle praat. Dit het my gehelp om moed te hê vir die volgende dag.”—Marilyn.

     Die Bybel sê: “Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig, maar die goeie woord maak dit bly.”—Spreuke 12:25.

     Wat dit beteken: ’n Ouer of ’n vriend kan jou miskien wenke gee oor hoe om jou angstigheid te verminder.

  •   Bid. “Dit help as ek bid—en veral as ek dit hardop doen sodat ek my stem kan hoor. Dit stel my in staat om uiting te gee aan die dinge waaroor ek angstig is in plaas van dit in my kop te hou. Dit help my ook om te besef dat Jehovah groter is as my angstigheid.”—Laura.

     Die Bybel sê: “[Werp] al julle sorge op [God], want hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:7.

     Wat dit beteken: Gebed is nie ’n verstandelike oefening waardeur ons ons eie probleme oplos nie. Dit is ware kommunikasie met Jehovah God, wat belowe: “Moenie [angstig] rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help.”—Jesaja 41:10.