Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Kan ek al met iemand begin uitgaan?

Kan ek al met iemand begin uitgaan?

 Wat beteken dit om met iemand uit te gaan?

  • Jy doen gereeld dinge saam met ’n spesifieke persoon van die teenoorgestelde geslag. Beteken dit julle gaan uit?

  • Jy en iemand van die teenoorgestelde geslag voel aangetrokke tot mekaar. Jy SMS of bel hierdie persoon ’n paar keer per dag. Beteken dit julle gaan uit?

  • Elke keer wanneer jy en jou vriende bymekaarkom, paar jy af met dieselfde persoon van die teenoorgestelde geslag. Beteken dit julle gaan uit?

Dit was heel moontlik vir jou glad nie moeilik om die eerste vraag te beantwoord nie. Maar jy het dalk gehuiwer voordat jy die tweede en derde vraag beantwoord het. Presies wat beteken dit om met iemand uit te gaan?

Om uit te gaan, verwys in werklikheid na enige sosiale bedrywigheid waartydens jy jou romantiese belangstelling op een spesifieke persoon toespits en daardie persoon sy of haar belangstelling op jou toespits.

Die antwoord op al drie vrae is dus ja. Of dit nou oor die telefoon of van aangesig tot aangesig, in die openbaar of in die geheim is, as jy en ’n vriend van die teenoorgestelde geslag ’n spesiale romantiese verstandhouding het en gereeld kommunikeer, gaan julle uit.

 Wat is die doel daarvan om met iemand uit te gaan?

Om met iemand uit te gaan, behoort ’n eerbare doel te hê—om ’n jong man en vrou te help besluit of hulle met mekaar wil trou.

Party van jou portuurs beskou dit dalk nie juis as iets ernstigs om met iemand uit te gaan nie. Hulle geniet dit miskien net om saam met ’n spesiale vriend van die teenoorgestelde geslag te wees, al is hulle glad nie van plan om met hom of haar te trou nie. Party beskou so ’n vriend(in) dalk bloot as ’n trofee of wil net graag saam met hom of haar in die openbaar gesien word om hulle selfbeeld ’n hupstoot te gee.

Maar sulke oppervlakkige verhoudings duur dikwels nie lank nie. “Baie jongmense begin met mekaar uitgaan, maar maak ’n week of twee later weer uit”, sê ’n meisie met die naam Heather. Hulle begin verhoudings as iets tydeliks beskou—wat hulle eintlik meer vir egskeiding voorberei as vir die huwelik.”

Wanneer jy met iemand uitgaan, het jy beslis ’n invloed op daardie persoon se gevoelens. Sorg dus dat jou bedoelings eerbaar is.—Lukas 6:31.

As jy met iemand uitgaan sonder dat jy met hom of haar wil trou, is jy soos ’n kind wat met ’n nuwe speelding speel en dit dan weggooi.

Dink net: Sou jy daarvan hou as iemand met jou gevoelens speel asof dit ’n kind se speelding is—iets om ’n rukkie mee te speel en dan gou weer te los? Moet dit dan nie aan iemand anders doen nie! Die Bybel sê dat ‘liefde hom nie onwelvoeglik gedra nie’.—1 Korintiërs 13:4, 5.

’n Meisie met die naam Chelsea sê: “’n Deel van my wil sê dat dit net pret moet wees om met iemand uit te gaan, maar dis glad nie pret wanneer die een persoon dit ernstig opneem en die ander nie.”

Wenk: Om jou voor te berei om met iemand uit te gaan en te trou, lees 2 Petrus 1:5-7 en kies een eienskap waaraan jy moet werk. Kyk ná ’n maand hoeveel jy oor daardie eienskap geleer het—en hoeveel jy verbeter het.

 Is ek oud genoeg om met iemand uit te gaan?

  •  Hoe oud dink jy moet ’n mens wees voordat jy met iemand begin uitgaan?

  •  Vra nou een van jou ouers dieselfde vraag.

Jou antwoord sal heel moontlik verskil van jou ouers s’n. Of dalk nie! Jy is miskien een van baie jongmense wat wyslik wag totdat hulle oud genoeg is om hulleself beter te ken voordat hulle met iemand begin uitgaan.

Dit is wat Danielle, 17, besluit het om te doen. Sy sê: “As ek dink aan wat ek twee jaar gelede in ’n potensiële maat sou gesoek het, is dit baie anders as waarna ek nou sal soek. Ek vertrou myself nie eens nou om so ’n besluit te neem nie. Eers wanneer ek voel dat my persoonlikheid al ’n paar jaar lank stabiel is, sal ek daaraan dink om met iemand te begin uitgaan.”

Daar is nog ’n rede waarom dit wys is om te wag. Die Bybel gebruik die uitdrukking “die bloei van die jeug” om die tydperk te beskryf wanneer seksuele gevoelens en romantiese emosies sterk word (1 Korintiërs 7:36). As ’n mens noue assosiasie met een spesifieke persoon van die teenoorgestelde geslag het terwyl jy nog in hierdie stadium is, kan dit seksuele begeertes wek en tot verkeerde gedrag lei.

Dit is miskien nie vir jou portuurs belangrik nie. Baie van hulle is maar alte gretig om met seks te eksperimenteer. Maar jy kan—jy moet—bo sulke denke uitstyg! (Romeine 12:2). Die Bybel spoor jou immers aan om te “vlug vir geslagsonsedelikheid” (1 Korintiërs 6:18, New International Version). As jy wag totdat jy verby die bloei van die jeug is, kan jy ‘rampspoed van jou af weghou’.—Prediker 11:10.

 Waarom moet ek wag voordat ek met iemand begin uitgaan?

As jy onder druk geplaas word om te begin uitgaan voordat jy gereed is daarvoor, is dit soos om gedwing te word om die finale eksamen te skryf in ’n vak waaraan jy nog skaars begin aandag skenk het. Dit sal mos nie regverdig wees nie! Jy het tyd nodig om die vak te bestudeer sodat jy kan sien watter probleme jy in die toets sal teëkom.

Dis dieselfde om met iemand te begin uitgaan.

Om met iemand uit te gaan, is nie sommer ’n kleinigheid nie. Voordat jy gereed is om op een spesifieke persoon te konsentreer, moet jy dus die tyd neem om ’n baie belangrike “vak” te bestudeer—hoe om vriendskappe te bou.

Later, wanneer jy die regte persoon ontmoet, sal jy in ’n beter posisie wees om ’n bestendige verhouding te bou. ’n Goeie huwelik is immers ’n verbintenis tussen twee goeie vriende.

As jy wag voordat jy begin uitgaan, sal dit nie jou vryheid beperk nie. Inteendeel, dit sal jou meer vryheid gee om ‘jou in jou jeug te verbly’ (Prediker 11:9). Jy sal ook tyd hê om jouself voor te berei deur jou persoonlikheid en, die heel belangrikste, jou geestelikheid te ontwikkel.—Klaagliedere 3:27.

Intussen kan jy die geselskap van die teenoorgestelde geslag geniet. Wat is die beste manier om dit te doen? Assosieer met mekaar in gemengde groepe met behoorlike toesig. ’n Meisie met die naam Tammy sê: “Ek dink dis meer pret om dit so te doen. Dis beter om baie vriende te hê.” Monica stem saam. “Om in groepe te assosieer, is regtig ’n goeie idee”, sê sy, “want jy ontmoet mense met verskillende persoonlikhede.”

Maar as jy te gou op een persoon konsentreer, vergroot jy die kans dat jy sal seerkry. Moet dus nie haastig wees nie. Gebruik hierdie tyd in jou lewe om te leer hoe om vriendskappe aan te kweek en aan die gang te hou. As jy later besluit om met iemand uit te gaan, sal jy ’n beter idee hê van wie jy is en wat jy in ’n lewensmaat soek.