Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is ek gereed vir die huwelik?

Is ek gereed vir die huwelik?

Voordat jy hierdie vraag kan beantwoord, moet jy jouself eers goed ken. Dink byvoorbeeld na oor die volgende faktore:

Verhoudings

Hoe behandel jy jou ouers en jou broers en susters? Verloor jy dikwels jou selfbeheersing met hulle, en gebruik jy dalk kwaai of sarkastiese woorde om jou punt te maak? Wat sal hulle in hierdie verband oor jou sê? Hoe jy teenoor gesinslede optree, is ’n aanduiding van hoe jy ’n huweliksmaat sal behandel.—Efesiërs 4:31.

Gesindheid

Is jy positief of pessimisties? Is jy redelik, of dring jy altyd daarop aan dat dinge op ’n sekere manier gedoen moet word—jou manier? Kan jy kalm bly wanneer jy onder druk verkeer? Is jy geduldig? As jy nóú die vrug van God se gees aankweek, sal dit jou help om jou vir die huwelik voor te berei.—Galasiërs 5:22, 23.

Finansies

Hoe goed werk jy met geld? Is jy dikwels in die skuld? Kan jy ’n werk behou? Indien nie, waarom nie? Is dit as gevolg van die werk? Die werkgewer? Of is dit omdat jy die een of ander ongewenste gewoonte of eienskap het? As jy sukkel om jou eie finansies verantwoordelik te hanteer, hoe sal jy dit vir ’n gesin kan doen?—1 Timoteus 5:8.

Geestelikheid

As jy een van Jehovah se Getuies is, watter geestelike eienskappe het jy? Neem jy die inisiatief om God se Woord te lees, om in die bediening uit te gaan en om aan Christelike vergaderinge deel te neem? Die persoon met wie jy trou, verdien niks minder nie as om ’n geestelike sterk huweliksmaat te kry.—Prediker 4:9, 10.

Hoe beter jy jouself verstaan, hoe beter toegerus sal jy wees om iemand te vind wat jou sterk punte eerder as jou swak punte na vore sal bring.