Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan die Bybel my help? – Deel 3: Kry die meeste uit jou Bybellees

Hoe kan die Bybel my help? – Deel 3: Kry die meeste uit jou Bybellees

 Wanneer jy in die Bybel kyk, sal jy baie woorde sien. Moenie dat dit jou oorweldig nie! Dink eerder aan die Bybel as ’n tafel by ’n restaurant met verskillende soorte kos. Jy kan nie alles eet wat jy sien nie. Maar jy kan genoeg kies om ’n lekker ete te hê.

 Om die meeste uit jou Bybellees te kry, moet jy konsentreer op wat jy lees. Hierdie artikel sal jou help om dit te doen.

In hierdie artikel

 Hoekom moet jy konsentreer op wat jy in die Bybel lees?

 Hoe meer jy insit, hoe meer sal jy uitkry. Dink aan hierdie vergelyking: Jy kan ’n teesakkie vinnig in warm water sit en ’n bietjie geur daaruit kry. Maar jy sal meer geur kry as jy die teesakkie langer in die warm water los.

 Dit is dieselfde met Bybellees. Eerder as om die Bybel baie vinnig te lees, vat ’n bietjie tyd om na te dink oor wat jy lees. Dit is wat die skrywer van Psalm 119 gedoen het. Hy het oor God se wet gesê: “Die hele dag lank dink ek daaroor na.” – Psalm 119:97.

 Dit beteken natuurlik nie dat jy letterlik die hele dag moet spandeer om die Bybel te lees en daaroor na te dink nie. Die punt is: Die psalmskrywer het tyd gemaak om oor God se Woord na te dink. Dit het hom gehelp om goeie besluite te maak. – Psalm 119:98-100.

 “My ma het eenkeer vir my gesê: ‘Jy het sewe dae in ’n week, en in daardie week doen jy baie dinge vir jouself. Hoekom gee jy nie ’n bietjie tyd vir Jehovah nie? Dit is die regte ding om te doen!” – Melanie.

 Wanneer jy oor Bybelbeginsels nadink, sal dit jou help om goeie besluite te maak – byvoorbeeld, wanneer jy vriende kies of wanneer jy in die versoeking kom om verkeerde dinge te doen.

 Hoe kan jy die meeste uit jou Bybellees kry?

  •   Beplan. ’n Tiener met die naam Julia stel voor: “Stel ’n rooster vir Bybellees op. Maak seker wat jy wil lees, wanneer jy wil lees en waar jy wil lees.”

  •   Skep die regte omgewing. ’n Jong vrou met die naam Gianna stel voor: “Vind ’n stil plek. Laat ander in jou gesin ook weet van jou rooster vir Bybellees sodat hulle jou nie pla nie.”

     As jy ’n elektroniese toestel gebruik, stel dit sodat jy nie boodskappe kan sien of hoor nie. Jy kan selfs probeer om uit ’n gedrukte Bybel te lees. Om die waarheid te sê, navorsing wys dat dit vir jou makliker kan wees om te verstaan wat jy lees as jy ’n gedrukte publikasie gebruik. Maar dit kan moeiliker wees om te konsentreer wanneer jy op ’n skerm lees.

     “Ek vind dat dit my aandag aftrek wanneer ek op ’n skerm lees. My toestel kry boodskappe of die battery is pap of die internet is af. Met ’n gedrukte boek hoef ek net seker te maak dat ek genoeg lig het.” – Elena.

  •   Bid eers. Vra Jehovah om jou te help om te verstaan, te onthou en die meeste te kry uit die gedeelte van die Bybel wat jy beplan om te lees. – Jakobus 1:5.

     Om vir Jehovah te wys dat jy saam met jou gebede werk, studeer die verslag wat jy lees, deeglik. Hoe kan jy dit doen? As jy die JW Library-app gebruik of die Bybel aanlyn lees, kan jy op ’n vers kliek om meer inligting en artikels te kry.

  •   Vra vrae. Byvoorbeeld: ‘Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah? Beklemtoon dit ’n eienskap van Jehovah wat ek kan navolg?’ (Efesiërs 5:1). ‘Watter les leer ek uit hierdie verslag wat ek in my lewe kan toepas?’ (Psalm 119:105). ‘Kan ek dit wat ek gelees het, gebruik om ander op die een of ander manier te help?’ – Romeine 1:11.

     Vra jouself ook af: ‘Hoe hou dit wat ek gelees het, verband met die tema van die Bybel?’ Dit is veral ’n belangrike vraag. Hoekom? Omdat alles in die Bybel – van Genesis tot Openbaring – op die een of ander manier verband hou met ’n hooftema: Hoe Jehovah sy naam sal verheerlik deur middel van sy hemelse Koninkryk en bewys dat hy die reg het om te regeer en dat sy manier van regeer die beste is.