Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek beheer hoeveel ek spandeer?

Hoe kan ek beheer hoeveel ek spandeer?

“Ek het nou die dag by ’n winkel ingegaan net om rond te kyk. Ek was glad nie van plan om iets te koop nie, maar toe ek daar uitkom, het ek iets gekoop wat baie duur is!” — Colin.

Colin erken dat hy te veel geld spandeer. Sukkel jy ook met hierdie probleem? Hierdie artikel kan jou hiermee help.

 Hoekom moet jy beheer hoeveel jy spandeer?

Wat mense glo: Jy het minder vryheid wanneer jy stres oor hoeveel jy spandeer.

Feit: Eintlik sal jy meer vryheid hê wanneer jy beheer hoeveel jy spandeer, nie minder vryheid nie. Die boek I’m Broke! The Money Handbook sê: “Hoe meer jy oor geld weet, hoe meer sal jy daarvan hê om nou en in die toekoms te spandeer op wat jy ook al wil.”

Iets om oor te dink: As jy beheer hoeveel jy spandeer . . .

  • Sal jy meer geld hê wanneer jy dit nodig het. ’n Tiener met die naam Inez sê: “Ek wil baie graag eendag Suid-Amerika toe gaan. Wanneer ek geld spaar, dink ek hieraan.”

  • Sal jy minder (of dalk geen) skuld hê. Die Bybel sê: “Die lener is ’n kneg van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7). ’n Jong vrou met die naam Anna stem saam en sê: “Skuld kan jou hele lewe oorneem. Wanneer jy nie skuld het nie, kan jy op jou doelwitte fokus.”

  • Sal dit wys dat jy volwasse is. Mense wat beheer hoeveel hulle spandeer, is beter voorbereid vir die grootmenswêreld. Die 20-jarige Jean sê: “Dit is goeie oefening vir die toekoms, wanneer ek op my eie gaan bly. Ek probeer om nou al verantwoordelik met geld te werk sodat ek dit kan doen wanneer ek ouer is.”

Kortliks: Die boek The Complete Guide to Personal Finance: For Teenagers and College Students sê: “As jy dit kan regkry om mooi met jou geld te werk, wys dit dat jy besig is om groot te word. Om goed met jou geld te kan werk, is iets wat jou vir die res van jou lewe sal help.”

 Hoe om dit te doen

Weet wat jou swakhede is. As jy die heeltyd nie genoeg geld het nie, moet jy eers uitvind wat jy daarmee doen. Party mense spandeer hulle geld aanlyn. Ander mense gee hulle geld bietjie vir bietjie uit totdat hulle niks meer oorhet nie!

“Jy spandeer dalk net ’n klein bietjie geld elke dag. ’n Geskenkie hier, ’n koppie koffie daar, ietsie ekstra op ’n uitverkoping en aan die einde van die maand wonder jy waar ’n paar honderd rand heen is!” Hailey.

Werk ’n begroting uit. Die Bybel sê: “Die planne van die vlytige [hardwerkende] lei gewis tot voordeel” (Spreuke 21:5). Wanneer jy ’n begroting uitwerk, kan jy seker maak dat jy nie meer geld uitgee as wat jy inkry nie.

“As jy meer geld uitgee as wat jy inkry, moet jy vasstel waarop jy jou geld uitgee en dan ophou om goed te koop wat jy nie regtig nodig het nie. Maak die lysie van jou uitgawes minder totdat die geld wat jy inkry, meer is as dit wat jy uitgee.” Danielle.

Werk ’n plan uit. Daar is ’n paar maniere waarop jy kan beheer hoeveel geld jy spandeer sodat jy nie onnodige goed koop nie. Party jongmense het dit reggekry deur die volgende dinge te doen:

  • “Ek sit my geld gewoonlik dadelik in die bank, want ek weet ek sal dit nie so maklik spandeer as dit daar is nie.” David.

  • “Wanneer ek winkel toe gaan, vat ek net genoeg geld saam. Dan weet ek dat ek nie meer sal spandeer as wat ek beplan het nie.” Ellen.

  • “Hoe langer ek wag voordat ek iets koop, hoe meer tyd het ek om mooi te dink of ek dit regtig nodig het of nie.” Jesiah.

  • “Ek hoef nie elke keer saam met my vriende uit te gaan nie! Dis OK om nee te sê as jy nie genoeg geld het nie.” Jennifer.

Kortliks: Om jou geld goed te beheer, is ’n ernstige verantwoordelikheid. Dit is wat Colin, wat ons vroeër genoem het, begin besef het. Hy sê: “As ek eendag die man in die huis gaan wees, kan ek nie sommer net geld mors nie! As ek nou as ’n ongetroude persoon nie mooi met my geld kan werk nie, gaan dit nog moeiliker wees as ek eers getroud is.”

Wenk: “Vertel iemand van jou begroting, en vra daardie persoon om jou af en toe te vra of jy dit regkry om daarby te bly. Om verantwoordelik te wees is ’n goeie ding!” — Vanessa.