Spring na inhoud

Antieke seëls – Wat was dit?

Antieke seëls – Wat was dit?

Seëls was klein, gegraveerde voorwerpe wat gebruik is om afdrukke gewoonlik in klei of was te maak. Seëls kom in verskillende vorme voor. Dit kon keëlvormig of vierkantig wees, of in die vorm van ’n silinder of selfs van ’n dier se kop. Seëlafdrukke kon wys dat iets aan iemand behoort of dat ’n dokument eg is. Dit kon ook gebruik word om sakke of openinge te seël, soos deure of die ingang van grafkelders.

’n Silindervormige seël van die Persiese heerser Darius I waar hy jag, en ’n klei-afdruk van die seël

Seëls is van verskillende dinge gemaak, insluitende been, kalksteen, metaal, halfedelstene of hout. Partykeer is die name van die eienaar en sy pa in die seël gegraveer. Op party seëls was die eienaar se titel gesit.

Om te bewys dat ’n dokument eg is, het die eienaar van die seël die gravering daarvan gedruk in die klei, was of ’n ander sagte stof wat op die dokument gesit is (Job 38:14). Die stof sou dan hard word en hopelik keer dat die dokument deur die verkeerde persoon oopgemaak word.

Seëls kon gebruik word om mag aan iemand anders oor te dra

’n Seël kon aan ’n persoon gegee word, wat hom die mag gegee het om die eienaar van die seël te verteenwoordig. Een voorbeeld hiervan sluit ’n Farao van antieke Egipte in en die Hebreeuse man Josef, die seun van Jakob. Josef was ’n slaaf in Egipte. Hy was later onregverdig in die tronk gesit. Maar ná ’n tyd het Farao hom vrygelaat en hom die eerste minister gemaak. Die Bybel sê: “Daarop het Farao sy seëlring van sy hand afgehaal en dit aan Josef se hand gesit” (Genesis 41:42). Omdat daar ’n amptelike seël op die seëlring was, het Josef toe die mag gehad om sy belangrike werk te doen.

Koningin Isebel van eertydse Israel het haar man se seël gebruik in haar plan om ’n man met die naam Nabot dood te maak. Sy het in koning Agab se naam briewe geskryf aan sekere ouer manne en hulle gevra om die onskuldige man Nabot daarvan te beskuldig dat hy God vervloek het. Sy het die briewe met die koning se seël verseël en haar aaklige plan suksesvol uitgevoer. – 1 Konings 21:5-14.

Die Persiese koning Ahasveros het ’n seëlring gebruik om sy amptelike bevele te bevestig. – Ester 3:10, 12.

Die Bybelskrywer Nehemia het gesê dat die Israelitiese prinse, Leviete en priesters ’n geskrewe ooreenkoms goedgekeur het deur hulle seël daarop te sit. – Nehemia 1:1; 9:38.

Die Bybel noem twee gevalle waar seëls gebruik is om ingange te verseël. Toe die profeet Daniël in die leeukuil gegooi is, is “’n klip . . . gebring en op die opening van die kuil gesit”. Toe het koning Darius, die heerser van Medië en Persië, “dit met sy seëlring en met die seëlring van sy edelmanne verseël, sodat niks in die geval van Daniël verander sou word nie”. – Daniël 6:17.

Toe Jesus Christus se liggaam in ’n graf gesit is, het sy vyande “die graf beveilig deur die klip te verseël” wat voor die ingang gesit is om dit toe te maak (Matteus 27:66). As dit ’n amptelike seël deur die Romeinse regering was, dan sou “die seël van klei of was gemaak wees en in die opening gedruk word tussen die . . . klip en die graf se ingang”, volgens ’n verduideliking van die Bybelboek Matteus deur David L. Turner.

Omdat antieke seëls ons baie oor die geskiedenis kan leer, stel argeoloë en geskiedkundiges baie hierin belang. Om die waarheid te sê, seëlkunde, ’n studie van seëls, is nou ’n belangrike studieveld.