Spring na inhoud

VOLG HULLE GELOOF NA | MARIA MAGDALENA

“Ek het die Here gesien!”

“Ek het die Here gesien!”

Maria Magdalena het opgekyk en die trane van haar oë afgevee. Haar geliefde Here het aan ’n paal gehang. Dit was omtrent in die middel van ’n lentedag, “tog het die hele land donker geword”! (Lukas 23:44, 45). Sy het haar kleed stywer om haar gevou en by die groepie vroue daar naby gaan staan. ’n Sonsverduistering, wat net ’n paar minute aanhou, kon nie hierdie duisternis van drie uur veroorsaak het nie. Dalk het Maria en die ander wat naby Jesus gestaan het, nagdiere begin hoor wat nie gewoonlik deur die dag gehoor word nie. Party mense wat daar was, het “baie bang geword en gesê: ‘Hy was beslis God se Seun’” (Matteus 27:54). Jesus se volgelinge en ander kon dalk gedink het dat Jehovah wys hoe hartseer en kwaad hy is omdat mense sy Seun so wreed behandel het.

Maria Magdalena kon dit amper nie verdra om te kyk nie, maar sy wou naby hom bly (Johannes 19:25, 26). Jesus se pyn moes verskriklik gewees het. Jesus se ma het ook vertroosting en ondersteuning nodig gehad.

Ná alles wat Jesus vir Maria gedoen het, het sy gevoel dat sy alles in haar vermoë vir hom wou doen. Sy was eers ’n vrou wat gebroke en verag is, maar Jesus het dit alles verander. Hy het haar selfrespek en ’n doel in die lewe gegee. Sy het ’n vrou met sterk geloof geword. Hoe? En wat kan ons vandag by haar geloof leer?

‘Hulle het hulle besittings gebruik om hulle te bedien’

In die Bybel begin die storie van Maria Magdalena met ’n geskenk. Jesus het haar vrygemaak van ’n aaklige situasie wat soos ’n nagmerrie was. In daardie dae was die invloed van demone algemeen, en hierdie goddelose geeste het baie mense aangeval. Hulle het selfs in party mense ingevaar en hulle beheer. Ons weet nie watter uitwerking die demone op arme Maria Magdalena gehad het nie. Al wat ons weet, is dat daar sewe van hierdie wrede siek demone in haar was. En danksy Jesus Christus het hulle almal uit haar uitgekom! – Lukas 8:2.

Maria was uiteindelik vry en baie verlig, en haar hele lewe het voor haar gelê. Hoe kon sy wys dat sy dit waardeer? Sy het ’n lojale volgeling van Jesus geword. Sy het ook gesien dat daar ’n behoefte is en iets daaraan gedoen. Jesus en sy apostels het kos, klere en ’n plek nodig gehad om te slaap. Hulle was nie ryk manne nie en hulle het nie op daardie stadium gewerk nie. Hulle het materiële ondersteuning nodig gehad sodat hulle op die predikings- en onderrigtingswerk kon fokus.

Maria en ’n paar ander vroue het gehelp om in hierdie behoeftes te voorsien. Die vroue het “hulle besittings gebruik . . . om Jesus en sy apostels te bedien” (Lukas 8:1, 3). Party van hierdie vroue was dalk ryk. Die Bybel sê nie of hulle kos gemaak het, klere gewas het of blyplek gereël het op die een dorp na die ander nie. Maar hulle was bereid om die werk te doen om hierdie reisende groep te ondersteun, wat moontlik meer as 20 mense ingesluit het. Wat daardie vroue gedoen het, het Jesus en sy apostels beslis gehelp om net op die predikingswerk te fokus. Maria het natuurlik geweet dat sy Jesus nooit sou kon terugbetaal vir dit wat hy vir haar gedoen het nie. Maar dit het haar baie bly gemaak om te doen wat sy kon!

Baie mense kyk neer op mense wat eenvoudige werk vir ander doen. Maar dit is nie hoe God voel nie. Dink net hoe bly dit hom gemaak het om te sien hoe Maria van haarself gee en alles doen wat sy kan om Jesus en sy apostels te ondersteun! Vandag is baie Christene wat getrou is, ook bly om nederige werk vir ander te doen. Partykeer kan dit iemand baie help wanneer jy iets prakties vir hulle doen of iets aanmoedigends vir hulle sê. Jehovah waardeer sulke bydraes. – Spreuke 19:17; Hebreërs 13:16.

‘By Jesus se folterpaal’

Maria Magdalena was een van baie vroue wat saam met Jesus na Jerusalem gegaan het vir die Pasga van 33 HJ (Matteus 27:55, 56). Toe sy hoor dat Jesus gedurende die nag gearresteer en verhoor is, kan ons seker wees dat sy baie ontsteld was. En die nuus het erger geword. Goewerneur Pontius Pilatus het Jesus tot ’n wrede dood aan ’n paal gevonnis nadat hy ingegee het onder die druk van die Joodse godsdiensleiers en die mense onder hulle invloed. Maria het dalk klaar haar Meester vol bloed en uitgeput gesien terwyl hy deur die strate aangesukkel het en die lang paal vir sy doodsvonnis gesleep het. – Johannes 19:6, 12, 15-17.

By die plek waar Jesus doodgemaak is en nadat dit omtrent die middel van die dag donker geword het, het Maria Magdalena en die ander vroue “by sy folterpaal gestaan” (Johannes 19:25). Maria, wat tot die einde toe daar was, het gesien en gehoor hoe Jesus die sorg van sy ma aan sy geliefde apostel Johannes toevertrou. Sy het gehoor hoe Jesus angstig tot sy Vader roep. En sy het gehoor hoe hy, net voordat hy gesterf het, sy laaste oorwinnende woorde gesê het: “Dit is afgehandel!” Sy was baie hartseer. Maar dit lyk asof sy daar gebly het nadat Jesus gesterf het. Later het sy by die nuwe graf gebly waar ’n ryk man met die naam Josef van Arimatea Jesus se liggaam gesit het. – Johannes 19:30; Matteus 27:45, 46, 57-61.

Maria se voorbeeld herinner ons aan wat ons kan doen wanneer ons medegelowiges deur ’n moeilike tyd gaan. Ons kan dalk nie voorkom dat iets slegs met hulle gebeur of hulle pyn wegneem as hulle seergekry het nie. Maar ons kan meegevoel hê en moedig wees. Wanneer iemand in ’n moeilike situasie is, kan dit hom regtig help as daar ’n vriend by hom is wat hom ondersteun. As ons ’n vriend bystaan wanneer hy dit nodig het, wys dit dat ons getrou is en kan dit hom baie vertroos. – Spreuke 17:17.

Maria Magdalena se teenwoordigheid het Jesus se ma sekerlik vertroos

“Ek sal hom wegneem”

Nadat Jesus se liggaam in die graf gesit is, was Maria een van die vroue wat ekstra speserye gekoop het sodat hulle dit later aan sy liggaam kon smeer (Markus 16:1, 2; Lukas 23:54-56). Toe het sy vroeg in die oggend opgestaan nadat die Sabbat verby was. Stel jou voor hoe sy saam met ander vroue in die donker strate na Jesus se graf loop. Op pad soontoe het hulle gewonder hoe hulle die swaar klip wat voor die ingang is, sou kon wegrol (Matteus 28:1; Markus 16:1-3). Maar hulle het nie teruggedraai nie. Hulle geloof het hulle heel moontlik beweeg om te doen wat hulle kon en om op Jehovah te vertrou om die res te doen.

Maria het dalk voor die ander by die graf aangekom. Sy het geskok doodstil gaan staan. Die klip was weggerol en die graf was leeg! Maria was ’n vrou wat nie bang was om iets te doen nie, en daarom het sy teruggehardloop na Petrus en Johannes om hulle te vertel wat sy gesien het. Stel jou voor hoe sy uitasem uitroep: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle hom neergelê het nie”! Petrus en Johannes het vinnig na die graf gegaan en gesien dat dit leeg is. Hulle het toe teruggegaan na hulle huise toe. – Johannes 20:1-10. *

Toe Maria weer by die graf kom, het sy alleen daar gebly. Vroeg daardie oggend het die stilte van die leë graf te veel vir haar geraak, en toe het sy bitterlik begin huil. Sy het gebuk om in die graf te kyk omdat sy nog steeds nie kon glo dat die Here weg was nie, en toe sien sy iets wat haar baie verbaas het. Twee engele in wit het daar gesit! Hulle vra haar toe: “Hoekom huil jy?” Sy was stomgeslaan en het herhaal wat sy vir die apostels gesê het: “Hulle het my Here weggeneem, en ek weet nie waar hulle hom neergelê het nie.” – Johannes 20:11-13.

Sy het omgedraai en toe staan daar ’n man agter haar. Sy het hom nie herken nie, en daarom het sy aangeneem dat hy die tuinier was wat na die plek omsien. Hierdie man het haar vriendelik gevra: “Vrou, hoekom huil jy? Na wie soek jy?” Maria het geantwoord: “Meneer, as u hom weggedra het, sê vir my waar u hom neergelê het, en ek sal hom wegneem” (Johannes 20:14, 15). Dink net aan wat sy gesê het. Kon daardie vrou regtig op haar eie Jesus Christus, wat ’n sterk en kragtige man was, se liggaam optel en wegdra? Maria het nie twee keer hieroor gedink nie. Sy het net geweet dat sy moes doen wat sy kon.

“Ek sal hom wegneem”

Kan ons Maria Magdalena se voorbeeld navolg wanneer ons deur moeilike tye gaan en voor uitdagings te staan kom wat te moeilik is om te hanteer? As ons net op ons eie swakhede en beperkings fokus, kan dit maak dat ons so bang en swak word dat ons niks kan doen nie. Maar as ons vasbeslote is om alles te doen wat ons kan en die res aan ons God oorlaat, kan ons baie meer bereik as wat ons gedink het ons kan (2 Korintiërs 12:10; Filippense 4:13). Nog belangriker, ons sal Jehovah bly maak. Maria het Jehovah bly gemaak, en hy het haar op ’n besondere manier beloon.

“Ek het die Here gesien!”

Die man wat voor Maria gestaan het, was nie ’n tuinier nie. Hy was eers ’n timmerman, toe ’n onderrigter en toe Maria se geliefde Here. Maar sy het hom nie herken nie en het weggedraai. Maria sou nie kon raai wat die waarheid is nie: Jesus is weer lewend gemaak as ’n magtige geespersoon. Jesus het aan Maria as ’n mens verskyn, maar nie met die liggaam wat hy voorheen gehad het nie. Gedurende die opwindende dae ná sy opstanding is hy dikwels nie herken nie, nie eers deur die mense wat hom goed geken het nie. – Lukas 24:13-16; Johannes 21:4.

Hoe het Jesus vir Maria laat weet wie hy is? Dit was hoe hy ’n enkele woord gesê het: “Maria!” Sy het omgedraai en die bekende Hebreeuse woord uitgeroep wat sy sonder twyfel keer op keer gebruik het om hom aan te spreek – “Rabboeʹni!” Dit was haar geliefde Leermeester! Sy was baie gelukkig. Sy het hom vasgegryp en wou hom nie laat gaan nie. – Johannes 20:16.

Jesus het geweet wat sy dink. Hy het vir haar gesê: “Hou op om aan my vas te klou.” Ons kan ons net indink hoe hy liefdevol met ’n glimlag hierdie woorde vir haar sê terwyl hy homself saggies losmaak van haar greep en haar verseker deur te sê: “Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie.” Dit was nog nie tyd vir hom om hemel toe te gaan nie. Hy het nog werk op die aarde gehad om te doen, en hy wou hê dat Maria hom moes help. Maria het natuurlik gretig na hom geluister. Hy het vir haar gesê: “Gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader en julle Vader en na my God en julle God.’” – Johannes 20:17.

Wat ’n toewysing is dit tog van haar Meester! Maria was een van die eerste dissipels wat die voorreg gehad het om Jesus ná sy opstanding te sien, en nou het sy die voorreg gehad om die goeie nuus aan ander te vertel. Stel jou voor hoe gelukkig en gretig sy is om die dissipels te vind. Dink net hoe sy uitasem die woorde uitroep waaroor hulle lank daarna sou aanhou dink: “Ek het die Here gesien!” Sy het vir hulle alles vertel wat Jesus gesê het, en sy was so opgewonde dat sy baie vinnig gepraat het (Johannes 20:18). Wat sy vir hulle vertel het, het ooreengestem met wat die dissipels by die ander vroue gehoor het wat na Jesus se leë graf gegaan het. – Lukas 24:1-3, 10.

“Ek het die Here gesien!”

“Hulle wou hulle nie glo nie”

Hoe het die mans gereageer? Eers nie baie goed nie. Die Bybel sê: “Hulle het gedink dat die vrouens hierdie dinge opmaak, en hulle wou hulle nie glo nie” (Lukas 24:11). Al het daardie mans goed bedoel, het hulle in ’n gemeenskap grootgeword waar vroue nie gewoonlik vertrou is nie. Volgens die rabbynse tradisie kon ’n vrou nie in die hof getuig nie. Dalk is die apostels meer deur hulle kultuur beïnvloed as wat hulle besef het. Maar Jesus en sy Vader diskrimineer nie. Wat ’n voorreg het hulle daardie getroue vrou tog gegee!

Maria het beslis nie toegelaat dat die mans se reaksie haar ontstel nie. Sy het geweet dat haar Meester haar vertrou, en dit was vir haar genoeg. Almal wat Jesus volg, het ook ’n boodskap wat hulle moet verkondig. Die Bybel noem hierdie boodskap “die goeie nuus van die Koninkryk van God” (Lukas 8:1). Jesus het nie vir sy volgelinge belowe dat almal hulle sou glo of hulle werk sou waardeer nie. Hy het eintlik gesê dat die teenoorgestelde sou gebeur (Johannes 15:20, 21). So dit sal goed wees dat Christene vir Maria Magdalena onthou. Selfs die twyfelgedagtes van haar eie geestelike broers kon haar nie onderkry of haar keer om die goeie nuus van Jesus wat weer lewend gemaak is, te vertel nie!

Later het Jesus aan sy apostels verskyn, en toe aan al hoe meer van sy volgelinge. By een geleentheid het hy aan meer as 500 verskyn! (1 Korintiërs 15:3-8). Maria se geloof het sekerlik sterker geword elke keer wat Jesus verskyn het, of sy dit nou gesien het of net daarvan gehoor het. Maria Magdalena was dalk een van die vroue wat genoem is wat by die vergadering in Jerusalem op Pinkster was toe heilige gees op Jesus se volgelinge uitgestort is. – Handelinge 1:14, 15; 2:1-4.

Ons het meer as genoeg rede om die volgende te sê: Maria Magdalena het tot die einde toe geloof gehad. Mag elkeen van ons vasbeslote wees om dieselfde te doen! Ons sal Maria Magdalena se geloof navolg as ons dankbaar is vir alles wat Jesus vir ons gedoen het en ander nederig dien terwyl ons op God se hulp vertrou.

^ par. 17 Dit lyk asof Maria die graf verlaat het voordat ’n engel aan die ander vroue verskyn het om hulle te vertel van Christus se opstanding. Anders sou Maria beslis vir Petrus en Johannes gesê het dat sy ’n engel gesien het wat verduidelik het hoekom die liggaam weg is. – Matteus 28:2-4; Markus 16:1-8.