Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP | WAT JY OMTRENT ANGSTIGHEID KAN DOEN

Angstigheid oor geld

Angstigheid oor geld

“Nadat wegholinflasie ons land getref het, het voedsel duur en skaars geword”, sê Paul, ’n getroude man en pa van twee. “Ons het ure lank in toue gestaan, maar die kos was dikwels op voordat ons gehelp is. Mense het uitgeteer van die honger, en party het in die straat ineengestort. Die pryse van basiese benodigdhede het gestyg totdat dit miljoene en toe miljarde [Zimbabwiese dollar] bereik het. Die plaaslike geldeenheid het uiteindelik waardeloos geword. Ek het die geld wat ek in die bank gehad het, my versekering en my pensioen verloor.”

Paul

Paul het besef dat hy “praktiese wysheid” aan die dag moet lê sodat sy gesin aan die lewe kan bly (Spreuke 3:21). “Hoewel ek ’n elektriese kontrakteur was, het ek enige werk gedoen wat ek kon vind, teen baie minder as die normale betaling”, sê hy. “Party mense het my met kos of huishoudelike benodigdhede betaal. As ek vier koekies seep as betaling ontvang het, het ek twee gebruik en die ander verkoop. Ek het uiteindelik 40 kuikens bekom. Toe hulle grootgeword het, het ek hulle verkoop en nog 300 gekoop. Later het ek 50 hoenders verruil vir twee 50-kilogramsakke mieliemeel. Uit daardie sakke kon ek ’n lang tyd aan my gesin en verskeie ander gesinne kos voorsien.”

Paul het ook geweet dat die praktiesste ding wat enigiemand kan doen, is om op God te vertrou. Wanneer ons doen wat God beveel, help hy ons. Jesus het die volgende in verband met ons lewensbenodigdhede gesê: “Hou op om in angstige spanning te verkeer; want . . . julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het.”—Lukas 12:29-31.

Dit is tragies dat God se groot vyand, Satan, die meeste mense in die wêreld mislei het om bekommernisse oor fisiese dinge die middelpunt van hulle  lewe te maak. Mense is verskriklik bekommerd oor hulle behoeftes, hetsy werklik of denkbeeldig, en jaag naarstiglik dinge na wat hulle nie werklik nodig het nie. Baie verval in skuld en leer op die harde manier dat “die lener . . . ’n kneg [is] van die man wat uitleen”.—Spreuke 22:7.

Party mense neem slegte besluite. Paul sê: “Baie mense het hulle gesin en vriendekring verlaat om in die buiteland na ‘groener weivelde’ te gaan soek. Party het sonder die nodige immigrasiedokumente gegaan en kon nie werk kry nie. Hulle moes dikwels van die polisie wegkruip en op die straat slaap. Hulle het God nie ’n geleentheid gegee om hulle te help nie. Maar ons het besluit om finansiële probleme saam as ’n gesin aan te pak, met God se hulp.”

ONS VOLG JESUS SE RAAD

Paul sê verder: “Jesus het gesê: ‘Moet julle . . . nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.’ My daaglikse gebed was dus eenvoudig dat God ‘ons vandag ons brood vir hierdie dag [sal gee]’ sodat ons aan die lewe kan bly. En hy het ons gehelp, net soos Jesus belowe het. Ons het nie altyd ons eerste keuse gekry nie. Eenkeer het ek in ’n kostou gestaan, maar ek het nie geweet wat verkoop word nie. Toe ek voor in die tou kom, het ek gesien dat dit jogurt is, en ek hou nie van jogurt nie. Maar dit was kos, en daardie aand het ons dus jogurt geëet. Ek is dankbaar teenoor God dat my gesin gedurende daardie hele tydperk nooit honger gaan slaap het nie.” *

God het belowe: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.”—Hebreërs 13:5

“Op die oomblik is die finansiële situasie beter. Maar uit ons ondervindinge het ons geleer dat die belangrikste teenmiddel vir angstigheid, vertroue in God is. Jehovah * sal ons altyd help solank ons aanhou probeer om sy wil te doen. Ons het gesien hoe waar die woorde in Psalm 34:8 is: ‘Smaak en sien dat Jehovah goed is; gelukkig is die man wat sy toevlug tot hom neem.’ Daarom is ons nie bang om weer moeilike ekonomiese omstandighede deur te maak nie.

God voorsien in die behoeftes van sy getroue knegte

“Nou besef ons dat mense voedsel nodig het om aan die lewe te bly, nie werk of geld nie. Ons sien gretig uit na die tyd wanneer God se belofte vervul sal word: ‘Daar sal volop graan op die aarde wees.’ Vir nou kan ons sê: ‘As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.’ Ons put krag uit die Bybel se woorde: ‘Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want hy het gesê: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.” Daarom kan ons goeie moed hou en sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie.”’” *

Dit verg ware geloof om ‘met God te wandel’, soos Paul en sy gesin (Genesis 6:9). Hetsy ons nou ’n finansiële krisis ondervind of dalk in die toekoms een ondervind, ons kan belangrike lesse leer uit Paul se voorbeeld van geloof en praktiese wysheid.

Maar sê nou gesinsprobleme maak ons angstig?

^ par. 10 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.