Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

My lewe het al hoe slegter geword

My lewe het al hoe slegter geword
  • GEBORE: 1952

  • GEBOORTELAND: VERENIGDE STATE

  • GESKIEDENIS: KWAAI HUMEUR

MY VERLEDE:

Ek het grootgeword in Los Angeles, Kalifornië, VSA, in verskeie buurte wat berug is vir straatbendes en dwelms. My ouers het ses kinders gehad, waarvan ek die tweede oudste was.

My ma het ons grootgemaak as lede van ’n evangeliese kerk. Maar as ’n tiener het ek ’n dubbele lewe gelei. Op Sondae het ek in die kerkkoor gesing. Die res van die week het my lewe om partytjies, die misbruik van dwelms en geslagsonsedelikheid gedraai.

Ek het ’n vinnige en kwaai humeur gehad. Ek het enigiets as ’n wapen gebruik om ’n geveg te wen. Wat ek in die kerk geleer het, het nie gehelp nie. Ek het altyd gesê: “Die wraak is die Here s’n—en ek is sy instrument!” Toe ek in die laat 1960’s op hoërskool was, is ek beïnvloed deur die Black Panthers, ’n politieke groep wat bekend was vir hulle militêre benadering tot kwessies wat verband hou met burgerregte. Ek het aangesluit by ’n studentevereniging wat vir burgerregte geveg het. Ons het verskeie kere protesoptogte gehou, en elke keer moes die skool tydelik gesluit word.

Protesoptogte het nie my liefde vir geweld bevredig nie. Daarom het ek aan haatmisdade begin deelneem. Soms het ek en my vriende byvoorbeeld rolprente gekyk wat die lyding van Afrika-slawe in die Verenigde State uitgebeeld het. Omdat ons woedend was oor daardie onregte, het ons wit jongmense daar, in die bioskoop, aangeval. Daarna het ons na wit buurte gegaan, opsoek na nog mense om aan te rand.

Teen die tyd dat ek in my laat tienerjare was, het ek en my broers dikwels gewelddadige misdade gepleeg. Ons het in die moeilikheid beland by die polisie. Een van my jonger broers was ’n lid van ’n berugte bende, en ek het met hulle geassosieer. My lewe het al hoe slegter geword.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Een van my vriende se ouers was Jehovah se Getuies. Hulle het my na hulle gemeentelike vergaderinge genooi, en ek het hulle uitnodiging aanvaar. Ek kon van die begin af sien hoe anders die Getuies is. Almal het ’n Bybel gehad en het dit gedurende die vergadering gebruik. Jongmense het selfs toesprake op die program gelewer! Om te leer dat God ’n naam het—Jehovah—en om te hoor dat dit gebruik word, het by my ’n indruk gemaak (Psalm 83:18). Die gemeente het bestaan uit verskillende nasionaliteite, maar dit was duidelik dat daar geen rasseverdeeldheid was nie.

 Aanvanklik wou ek nie die Bybel saam met die Getuies studeer nie, maar ek het daarvan gehou om hulle vergaderinge by te woon. Een aand, terwyl ek by ’n vergadering van die Getuies was, het ’n groep van my vriende na ’n konsert gegaan. Daar het hulle ’n tiener doodgeslaan omdat hy nie sy leerbaadjie vir hulle wou gee nie. Die volgende dag het hulle oor die moord gespog. Toe die saak verhoor is, het hulle nog steeds ’n grap daarvan gemaak. Die meeste van hulle is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Ek was natuurlik baie bly dat ek nie daardie aand saam met hulle was nie. Ek het besluit om my lewe te verander en die Bybel te begin studeer.

Omdat ek aan soveel rassevooroordeel blootgestel is, het ek dinge onder die Getuies gesien wat my verstom het. Byvoorbeeld, toe ’n wit Getuie oorsee moes gaan, het hy ’n swart gesin gevra om na sy kinders te kyk. En ’n wit gesin het ’n swart jongmens ingeneem wat blyplek nodig gehad het. Hierdie dinge het my daarvan oortuig dat Jehovah se Getuies by die beskrywing pas wat Jesus in Johannes 13:35 gegee het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Ek het geweet dat ek ’n ware broederskap gevind het.

My Bybelstudie het my laat besef dat ek my denke moet verander. Ek moes my verstand hervorm sodat ek nie net vreedsaam kon optree nie, maar hierdie lewe ook as die beste lewenswyse kon beskou (Romeine 12:2). Ek het geleidelik vooruitgang gemaak. In Januarie 1974 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Ek moes my verstand hervorm sodat ek nie net vreedsaam kon optree nie, maar hierdie lewe ook as die beste lewenswyse kon beskou

Maar selfs nadat ek gedoop is, moes ek nog steeds daaraan werk om my humeur te beteuel. Byvoorbeeld, toe ek eenkeer in die Christelike bediening van huis tot huis gewerk het, het ek ’n dief agternagesit wat die radio uit my motor gesteel het. Toe ek hom amper ingehaal het, het hy die radio laat val en weggehardloop. Ek het vir die ander wat saam met my was, vertel hoe ek my radio teruggekry het, en toe het ’n ouer man in die groep my gevra: “Stephen, wat sou jy gedoen het as jy hom ingehaal het?” Daardie vraag het my laat dink en my gemotiveer om aan te hou om vrede na te streef.

In Oktober 1974 het ek as ’n voltydse bedienaar begin dien en elke maand 100 uur daaraan bestee om ander die Bybel te leer. Later het ek die voorreg gehad om as ’n vrywilliger by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, te gaan werk. In 1978 het ek na Los Angeles teruggekeer om my ma te versorg omdat sy siek was. Twee jaar later het ek met my dierbare vrou, Aarhonda, getrou. Sy het my baie ondersteun terwyl ons na my ma omgesien het totdat sy gesterf het. Ná verloop van tyd het ek en Aarhonda die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon en is ons na Panama gestuur, waar ons nog steeds as sendelinge dien.

Sedert ek gedoop is, het ek te staan gekom voor ’n aantal situasies wat my humeur getoets het. Ek het geleer om weg te loop van mense wat my probeer kwaad maak of om die situasie op ander maniere te ontlont. Baie mense, insluitende my vrou, het my geprys vir hoe ek hierdie situasies hanteer het. Ek self was verbaas! Die veranderinge wat ek in my persoonlikheid aangebring het, het ek nie in my eie krag gedoen nie. Ek glo eerder dat dit bewys lewer van die krag wat die Bybel het om lewens te verander.—Hebreërs 4:12.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Die Bybel het my lewe sinvol gemaak en my geleer om waarlik vredeliewend te wees. Ek rand nie meer mense aan nie; ek help hulle eerder om geestelik te genees. Ek het selfs die Bybel met iemand studeer wat my vyand op hoërskool was! Nadat hy gedoop is, was ons ’n ruk lank kamermaats. Tot vandag toe is ons hegte vriende. Ek en my vrou het tot dusver 80 mense gehelp om Jehovah se Getuies te word deur die Bybel met hulle te studeer.

Ek is innig dankbaar teenoor Jehovah dat hy my ’n sinvolle en gelukkige lewe gegee het as deel van ’n ware broederskap.