Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP | HOE OM JOU WERK TE GENIET

Harde werk​​—⁠Is dit outyds?

Harde werk​​—⁠Is dit outyds?

Alex sug terwyl hy nog ’n boks laai op die trok van die verhuisingsmaatskappy waarvoor hy werk. ‘Hierdie werk gaan my nêrens in die lewe bring nie’, sê hy vir homself. ‘Wanneer gaan ek bo uitkom? My lewe sal soveel beter wees as ek nie hoef te werk nie!’

Soos Alex, is daar vandag baie mense wat dit nie geniet om hard te werk nie. “Baie mense dink dat dit benede hulle is om ‘nederige’ werk te doen”, sê Aaron, ’n motorwerktuigkundige. “Hulle gesindheid is: ‘Ek doen dit maar net totdat ek ’n beter werk kan kry.’”

Waarom voel baie mense dat harde werk nie vir hulle is nie? Dalk is hulle deur die media beïnvloed, wat dikwels die “ideale” lewe as ’n lewe van weelde en gemak uitbeeld. “Mense dink: Hoe harder jy moet werk om ’n bestaan te maak, hoe minder suksesvol is jy”, sê Matthew, wat instandhoudingswerk doen. ’n Skoonmaker met die naam Shane het ook hierdie tendens opgemerk. Hy sê: “’n Volle dag se werk vir ’n volle dag se loon is iets wat mense eenvoudig nie meer doen nie.”

Aan die ander kant geniet talle suksesvolle mense dit om hard te werk. “Ek dink dat harde werk uiters lonend is, veral as jy die doelwitte probeer bereik wat die moeite werd is”, sê Daniel, ’n 25-jarige konstruksiewerker. Andre, wat 23 jaar oud is, stem hiermee saam. “Ek glo dat geluk en genot met werk verband hou”, sê hy. “Om minder te werk en minder bedrywig te wees, sal jou nie op die langtermyn gelukkig maak nie—jy sal net verveeld raak!”

Hoe het mense soos Daniel en Andre ’n positiewe beskouing van harde werk ontwikkel? Eenvoudig gestel, hulle het Bybelbeginsels in hulle lewe toegepas. Die Bybel spoor mense aan om hard te werk, en dit staan vlytigheid en deursettingsvermoë voor. Maar die Bybel sê nie net vir ons dat ons moet werk nie. Dit toon ook hoe ons ons werk kan geniet.

Watter Bybelbeginsels kan jou help om tevredenheid uit jou werk te put? Kyk gerus na ’n paar wat in die volgende artikel bespreek word.