Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Bybelwaarheid het my soeke na antwoorde bevredig

Bybelwaarheid het my soeke na antwoorde bevredig
  • GEBORE: 1987

  • GEBOORTELAND: AZERBEIDJAN

  • GESKIEDENIS: MOSLEM VADER EN JOODSE MOEDER

MY VERLEDE:

Ek is gebore in Bakoe, Azerbeidjan, en was die jongste van twee kinders. My pa was Moslem, en my ma was Joods. My ouers was lief vir mekaar en het mekaar se godsdiensopvattings aanvaar. My ma het my pa ondersteun wanneer hy gedurende Ramadaan gevas het, en my pa het my ma ondersteun wanneer sy die Pasga gevier het. Ons het die Koran, die Tora en die Bybel in ons huis gehad.

Ek het myself as ’n Moslem beskou. Hoewel ek nooit God se bestaan bevraagteken het nie, was daar dinge waaroor ek gewonder het, soos byvoorbeeld: ‘Waarom het God die mens geskep, en watter nuttige doel dien dit dat iemand sy hele lewe lank ly en dan vir ewig in die hel gefolter word?’ Aangesien mense gesê het dat alles wat gebeur, God se wil is, het ek gewonder: ‘Is God net ’n poppespeler wat agter die skerms die toutjies trek en dit geniet om te sien hoe mense ly?’

Toe ek 12 jaar oud was, het ek begin bid volgens die gebruik wat namaz genoem word, die Moslems se vyf daaglikse seremoniële gebede. Omtrent daardie tyd het my pa my en my suster na ’n Joodse skool gestuur. Behalwe al ons ander vakke, is ons Hebreeus en die tradisies van die Tora geleer. Ons moes elke dag voordat die klas begin, volgens die Joodse tradisie bid. In die oggend het ek dus by die huis volgens namaz gebid, en later in die dag het ek saam met die ander by die skool Joodse gebede opgesê.

Ek wou bitter graag logiese antwoorde op my vrae hê. Ek het die rabbi’s by die skool oor en oor gevra: “Waarom het God die mens geskep? Hoe beskou God my pa, aangesien hy ’n Moslem is? Waarom word hy as onrein beskou as hy ’n goeie man is? Waarom het God hom geskep?” Die antwoorde wat ek gekry het, was nie logies nie en was onoortuigend.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

In 2002 het my geloof in God erg skade gely. Net ’n week nadat ons na Duitsland geïmmigreer het, het my pa ’n beroerte gehad en in ’n  koma gegaan. Ek het jare lank vir die gesondheid en welsyn van my gesin gebid. Ek was oortuig dat net die Almagtige mag oor die lewe en die dood het, en daarom het ek elke dag vir my pa se lewe gepleit. Ek het gedink: ‘Dit is tog vir God iets kleins om ’n dogter se innige begeerte te bevredig.’ Ek was seker dat hy my gebede sou verhoor. Maar my pa het gesterf.

Ek was verpletter omdat dit gelyk het asof God ongevoelig is. ‘Óf ek bid verkeerd’, het ek geredeneer, ‘óf God bestaan nie.’ Ek was verbysterd en kon nie meer volgens namaz bid nie. Ander godsdienste het nie vir my sin gemaak nie, en daarom het ek tot die slotsom gekom dat God nie bestaan nie.

Ses maande later het Jehovah se Getuies aan ons deur geklop. Aangesien ons nie juis ’n hoë agting vir die Christelike godsdiens gehad het nie, wou ek en my suster hulle op ’n mooi manier wys dat hulle verkeerd is. Ons het hulle gevra: “Waarom aanbid Christene Jesus, die kruis, Maria en ander afgode as dit teen die Tien Gebooie is?” Die Getuies het uit die Bybel vir ons oortuigende bewyse gegee dat dit vir ware Christene verkeerd is om afgode te aanbid en dat gebede uitsluitlik aan God gerig moet word. Dit het my verbaas.

Toe het ons gevra: “Wat van die Drie-eenheid? As Jesus God is, hoe kon hy op die aarde lewe en deur mense doodgemaak word?” Hulle het weer uit die Bybel geantwoord en verduidelik dat Jesus nie God is nie en ook nie aan Hom gelyk is nie. Die Getuies het verduidelik dat dit die rede is waarom hulle nie in die Drie-eenheid glo nie. Ek was verstom en het gedink: ‘Hierdie mense is baie vreemde Christene.’

Ek wou nogtans weet waarom mense doodgaan en waarom God lyding toelaat. Die Getuies het my die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei * gewys, waarin daar hoofstukke is wat my vrae beantwoord het. Hulle het onmiddellik met my die Bybel begin studeer.

Gedurende elke studie het ek sinvolle antwoorde op my vrae gevind wat op die Bybel gebaseer is. Ek het geleer dat God se naam Jehovah is (Psalm 83:18). Sy hoofeienskap is onselfsugtige liefde (1 Johannes 4:8). Hy het die mens geskep omdat hy die gawe van lewe wou deel. Ek het verstaan dat God ongeregtigheid haat en dit binnekort vir ewig uit die weg sal ruim, hoewel hy dit nou toelaat. Ek het geleer dat Adam en Eva se opstand vir die mensdom nadelig was (Romeine 5:12). Een van die hartseer gevolge daarvan is die dood van geliefdes, soos my pa. Maar God sal sulke tragedies ongedaan maak in ’n komende nuwe wêreld, waar dié wat gesterf het, opgewek sal word.—Handelinge 24:15.

Bybelwaarheid het my soeke na antwoorde bevredig. Ek het weer in God begin glo. Toe ek Jehovah se Getuies beter leer ken het, het ek besef dat hulle ’n wêreldwye broederskap is. Die eenheid en liefde onder hulle het my beïndruk (Johannes 13:34, 35). Wat ek omtrent Jehovah geleer het, het by my die begeerte gewek om hom te dien, en daarom het ek besluit om een van Jehovah se Getuies te word. Ek is op 8 Januarie 2005 gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Die Bybel se oortuigende logika het my hele uitkyk op die lewe verbeter. Die geloofwaardige verduidelikings wat ek deur middel van God se Woord gevind het, het vir my innerlike vrede meegebring. Ek put groot vreugde en vertroosting uit die hoop dat ek my pa weer sal sien in die opstanding wat in God se Woord belowe word.—Johannes 5:28, 29.

Ek is al ses jaar lank gelukkig getroud met my godvresende man, Jonathan. Ons albei het geleer dat die waarheid omtrent God logies en eenvoudig is, maar terselfdertyd ’n kosbare skat is. Daarom waardeer ons die voorreg om ander van ons wonderlike hoop te vertel. Vandag weet ek dat Jehovah se Getuies nie ‘vreemd’ is nie, maar dat hulle ware Christene is.

^ par. 15 Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.