Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOLG HULLE GELOOF NA | JOSEF

“Luister asseblief na hierdie droom”

“Luister asseblief na hierdie droom”

JOSEF het met verlange in die rigting van die ooste gekyk en gewens dat hy van die karavaan af kon ontsnap. Iewers agter daardie heuwels, nie baie ver weg nie, was sy huis in Hebron. Sy vader, Jakob, het sekerlik gereedgemaak om te gaan slaap, heeltemal onbewus van wat met sy gunstelingseun gebeur het. Maar Josef kon nie nou by hom kom nie; hy sou dalk nooit weer daardie liewe ou gesig sien nie. Die handelaars het hom dopgehou terwyl hulle hulle kamele op die uitgetrapte pad suidwaarts aangejaag het. Josef het nou aan hulle behoort, en hulle het seker gemaak dat hulle hom in die oog hou. Hierdie seun was vir hulle soos hulle kosbare vrag welriekende hars en olies—waardevolle handelsware wat hulle met ’n wins in verafgeleë Egipte kon verkoop.

Josef kon nie veel ouer as 17 gewees het nie. Stel jou voor hoe hy sy kop gedraai en met skrefiesoë na die weste gekyk het, waar die son al amper tot op die horison van die Groot See gesak het, terwyl hy probeer verstaan het hoe dit gebeur het dat sy wêreld in duie gestort het. Dit was moeilik om te glo dat sy eie broers hom wou vermoor en hom toe as ’n slaaf verkoop het. Josef het ongetwyfeld gesukkel om sy trane in te hou. Hy kon nie raai wat sy toekoms sou inhou nie.

Josef het sy vryheid verloor, maar nie sy geloof nie

Hoe het Josef in hierdie verskriklike verknorsing beland? En wat kan ons leer uit die geloof van ’n jong man wat deur sy eie gesinslede veronreg en verwerp is?

’N INGEWIKKELDE GESINSAGTERGROND

Josef het uit ’n baie groot gesin gekom—maar dit was nie ’n gelukkige en verenigde gesin nie. Die Bybelverslag oor Jakob se gesin lewer duidelike bewys van die slegte gevolge van veelwywery—’n gevestigde gebruik wat God onder sy volk geduld het totdat sy Seun die oorspronklike standaard van monogamie herstel het (Matteus 19:4-6). Jakob het ten minste 14 kinders gehad by vier verskillende vroue—sy twee vrouens, Lea en Ragel, en hulle diensmeisies, Silpa en Bilha. Jakob was van die begin af lief vir sy pragtige Ragel. Hy het Lea—Ragel se ouer suster, wie se vader hom bedrieg het om met haar te trou—nooit so liefgehad nie. Daar was die hele tyd venynige mededinging tussen die twee vrouens, en dit het daartoe gelei dat  hulle kinders ook jaloers was op mekaar.—Genesis 29:16-35; 30:1, 8, 19, 20; 37:35.

Ragel was lank onvrugbaar, en toe sy uiteindelik aan Josef geboorte geskenk het, het hierdie seun van sy oudag ’n spesiale plekkie in Jakob se hart gehad. Toe die gesin byvoorbeeld op pad was na ’n gevaarlike ontmoeting met Jakob se moorddadige broer, Esau, het Jakob seker gemaak dat Ragel en klein Josef op die veiligste plek was, agter die res van die huisgesin. Daardie spanningsvolle dag het sekerlik ’n groot indruk op Josef gemaak. Stel jou voor hoe hy daardie oggend gevoel het terwyl hy met groot oë gewonder het waarom sy bejaarde maar sterk vader nou mank loop. Hoe verbaas moes hy tog gewees het toe hy uitvind wat die rede is: Sy vader het die vorige nag met ’n magtige engel geworstel! En waarom? Want Jakob wou ’n seën van Jehovah God hê. Jakob se beloning was dat sy naam na Israel verander is. ’n Hele nasie sou sy naam dra! (Genesis 32:22-31). Ná verloop van tyd het Josef uitgevind dat Israel se seuns die vaders van die stamme van daardie nasie sou word!

Later het Josef persoonlik ’n tragedie deurgemaak toe hy op ’n jong ouderdom die persoon vir wie hy die liefste was, verloor het. Sy moeder het gesterf terwyl sy geboorte geskenk het aan sy jonger broer, Benjamin. Sy vader was diep bedroef oor die verlies. Stel jou voor hoe Jakob Josef se trane sagkens afgevee het terwyl hy hom vertroos het met dieselfde hoop waardeur Jakob se oupa, Abraham, vroeër vertroos is. Josef se hart is ongetwyfeld geraak toe hy geleer het dat Jehovah sy moeder eendag sal opwek! Miskien het dit Josef selfs liewer laat word vir die vrygewige “God . . . van die lewendes” (Lukas 20:38; Hebreërs 11:17-19). Nadat Jakob sy vrou verloor het, het hy altyd tere gevoelens gehad vir hierdie twee seuns wat hy by Ragel gehad het.—Genesis 35:18-20; 37:3; 44:27-29.

Baie kinders sal bedorwe raak as hulle sulke spesiale behandeling ontvang; maar Josef het uit sy ouers se talle goeie eienskappe geleer en het sterk geloof opgebou en ook ’n skerp sin vir reg en verkeerd ontwikkel. Op 17-jarige ouderdom het hy, terwyl hy as ’n herder gewerk en party van sy ouer broers gehelp het, gesien dat hulle iets doen wat verkeerd is. Het hy in die versoeking gekom om dit stil te hou sodat hy hulle guns kon verkry? Hoe dit ook al sy, hy het gedoen wat reg is. Hy het sy vader daarvan vertel (Genesis 37:2). Miskien het hierdie moedige optrede Jakob se hoë dunk van hierdie geliefde seun bevestig. Wat ’n uitstekende voorbeeld is dit tog vir Christenjongmense om oor na te dink! As jy in die versoeking kom om die ernstige sonde van iemand anders—dalk jou broer of suster of ’n vriend—weg te steek, sal dit verstandig wees om Josef na te volg en seker te maak dat dié wat die oortreder kan help, daarvan weet.—Levitikus 5:1.

Ons kan ook ’n les leer uit Josef se gesinslewe. Hoewel ware Christene nie vandag veelwywery  beoefen nie, is daar nogtans baie stiefgesinne onder hulle, met stiefouers, stiefkinders en stiefbroers en -susters. Almal kan by Jakob se gesin leer dat voortrekkery en partydigheid gesinseenheid ondermyn. Verstandige ouers met stiefgesinne doen alles in hulle vermoë om hulle kinders en stiefkinders te oortuig dat elkeen van hulle geliefd is, met unieke gawes geseën is en tot die geluk van die gesin kan bydra.—Romeine 2:11.

JALOESIE SKIET WORTEL

Jakob was baie lief vir Josef omdat sy seun getrou en regverdig was

Josef se moedige standpunt vir wat reg was, het moontlik daartoe gelei dat Jakob aan die seun ’n eer bewys het. Hy het ’n spesiale kleed vir sy seun laat maak (Genesis 37:3). Dit was waarskynlik ’n lang, deftige kleed wat tot by sy enkels gehang het en lang moue gehad het. Dit was heel moontlik die soort kleed wat ’n edelman of ’n vors sou dra.

Jakob se bedoelings was sekerlik goed, en Josef is ongetwyfeld geraak deur hierdie bewys van sy vader se goedkeuring en liefde. Maar daardie kleed sou vir hom baie probleme meebring. Om maar een ding te noem, hou in gedagte dat die seun ’n herder was. Dit was ’n veeleisende werk. Stel jou voor hoe moeilik dit vir die jong man sou wees om met so ’n koninklike kleed aan deur die lang gras te stap, oor rotse te klim of ’n verlore lammetjie uit ’n doringbos te probeer bevry. Nog erger, hoe sou hierdie teken van Jakob se spesiale guns Josef se verhouding met sy broers raak?

Die Bybel antwoord: “Toe sy broers sien dat hulle vader hom liewer het as al sy broers, het hulle hom begin haat, en hulle kon nie op vreedsame wyse met hom praat nie” (Genesis 37:4). * Dit is dalk te verstane dat hulle jaloers was, maar dit was onverstandig van Josef se broers om aan hierdie skadelike emosie toe te gee (Spreuke 14:30; 27:4). Was jy al ooit groen van jaloesie toe iemand die aandag en eer gekry het wat jy wou hê? Dink aan Josef se broers. Hulle jaloesie het hulle dinge laat doen waaroor hulle later baie spyt sou wees. Hulle voorbeeld herinner Christene daaraan dat dit baie verstandiger is om “bly [te wees] saam met mense wat bly is”.—Romeine 12:15.

Josef het sekerlik aangevoel dat sy broers hom vyandiggesind is. Maar het hy sy spoggerige kleed weggesteek wanneer sy broers naby was? Hy het dalk in die versoeking gekom om dit te doen. Maar hou in gedagte dat Jakob wou hê dat die kleed ’n teken van sy guns en liefde moet wees. Josef wou sy vader se vertroue in hom waardig wees, en daarom het hy lojaal die kleed gedra. Sy voorbeeld is vir ons nuttig. Ons hemelse Vader is nooit partydig nie, maar soms sal hy wel sy lojale knegte afsonder en hulle begunstig. En hy verwag van hulle om opvallend anders te wees as hierdie verdorwe  en onsedelike wêreld. Soos Josef se spesiale kleed, maak die gedrag van ware Christene hulle anders as die mense om hulle. Hierdie gedrag wek soms jaloesie en vyandigheid (1 Petrus 4:4). Moet ’n Christen sy ware identiteit as ’n kneg van God verberg? Nee—net soos Josef nie sy kleed weggesteek het nie.—Lukas 11:33.

JOSEF SE DROME

Josef het kort voor lank twee buitengewone drome gehad. In die eerste droom het Josef gesien hoe hy en sy broers graan in gerwe bind. Maar toe het sy broers se gerwe rondom sy gerf gaan staan en daarvoor neergebuig. In die tweede droom het die son, die maan en 11 sterre voor Josef neergebuig (Genesis 37:6, 7, 9). Wat moes Josef doen omtrent hierdie eienaardige drome wat hy so duidelik kon onthou?

Die drome het van Jehovah God gekom. Dit was profetiese drome, en God wou hê dat Josef die boodskap daarin bekend moet maak. In sekere sin moes Josef doen wat al die latere profete gedoen het toe hulle God se boodskappe en oordele aan Sy sondige volk bekend gemaak het.

Josef het taktvol vir sy broers gesê: “Luister asseblief na hierdie droom wat ek gedroom het.” Sy broers het die droom verstaan en het glad nie daarvan gehou nie. Hulle het gesê: “Gaan jy vir seker koning oor ons wees? of: Gaan jy vir seker oor ons heers?” Die verslag voeg by: “Toe het hulle opnuut rede gevind om hom te haat oor sy drome en oor sy woorde.” Toe Josef sy vader sowel as sy broers van sy tweede droom vertel, was die reaksie nie veel beter nie. Ons lees: “Sy vader het hom bestraf en vir hom gesê: ‘Wat beteken hierdie droom wat jy gedroom het? Gaan ek en ook jou moeder en jou broers vir seker kom en ons voor jou na die aarde neerbuig?’” Maar Jakob het daaroor bly nadink. Kommunikeer Jehovah dalk met die seun?—Genesis 37:6, 8, 10, 11.

Josef was nie die eerste en ook nie die laaste kneg van Jehovah wat gevra is om ’n profetiese boodskap bekend te maak wat ongewild sou wees en selfs tot vervolging sou lei nie. Jesus was die grootste van hierdie boodskappers, en hy het vir sy volgelinge gesê: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:20). Christene van alle ouderdomme kan baie leer uit die geloof en moed van die jong Josef.

HAAT BEREIK ’N HOOGTEPUNT

Nie lank daarna nie het Jakob die jong Josef na sy ouer broers toe gestuur. Hulle het die kleinvee opgepas in die noorde naby Sigem, waar hulle kort tevore geswore vyande gemaak het. Dit was net natuurlik dat Jakob bekommerd was oor sy seuns, en daarom het hy Josef gestuur om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan. Kan jy jou voorstel hoe Josef gevoel het? Hy het geweet dat sy broers hom meer as ooit tevore haat! Sou hulle daarvan hou as hy na hulle toe gaan as hulle vader se woordvoerder? Josef het nietemin gehoorsaam vertrek.—Genesis 34:25-30; 37:12-14.

Dit was nogal ’n lang reis—altesaam dalk vier of vyf dae se stap. Sigem was sowat 80 kilometer noord van Hebron geleë. Maar toe Josef by Sigem kom, het hy uitgevind dat sy broers na Dotan gegaan het, wat sowat 22 kilometer verder noord was. Toe Josef uiteindelik naby Dotan kom, het sy broers hom van ver af sien aankom. Hulle haat het onmiddellik na vore gekom. Die verslag sê: “Hulle het vir mekaar gesê: ‘Kyk! Hier kom daardie dromer. En kom nou en laat ons hom doodmaak en in een van die waterputte gooi; en ons sal sê dat ’n wrede wilde dier hom verslind het. Laat ons dan sien wat van sy drome sal word.’” Maar Ruben het sy broers oorreed om Josef lewend in ’n put te gooi, in die hoop dat hy die seun later kon red.—Genesis 37:19-22.

Josef het nie geweet van hulle plan om hom dood te maak nie en het ongetwyfeld gehoop dat dit ’n vreedsame ontmoeting sou wees. Maar toe Josef by sy broers kom, het hulle hom aangeval! Hulle het sy spesiale kleed hardhandig uitgetrek, hom na ’n droë waterput gesleep en hom daarin gegooi. Josef het tot onder in die put geval! Nadat hy van die skok herstel het, het hy met ’n gesukkel op sy voete gekom, maar hy sou nooit sonder hulp kon uitklim nie. Hy het net ’n kring lug gesien terwyl sy broers se stemme al hoe verder weg  geklink het. Hy het na hulle geroep en hulle gesmeek, maar hulle het hom geïgnoreer. Hulle het gevoelloos daar naby gaan sit en eet. Terwyl Ruben weg was, het hulle dit weer oorweeg om die seun dood te maak, maar Juda het hulle oorreed om hom eerder aan verbygaande handelaars te verkoop. Dotan was naby die handelsroete na Egipte, en hulle het nie nodig gehad om lank te wag voordat ’n karavaan Ismaeliete en Midianiete verbygekom het nie. Voordat Ruben teruggekom het, was Josef verkoop. Hulle het hulle broer vir 20 sikkels as ’n slaaf verkoop. *Genesis 37:23-28; 42:21.

Josef het gedoen wat reg is, maar sy broers het hom gehaat

Nou is ons weer terug waar ons begin het. Terwyl Josef met die pad na Egipte suidwaarts geneem is, het dit gelyk of hy alles verloor het. Hy was afgesny van sy gesin! Jare lank sou hy niks van hulle weet nie—niks van Ruben se benoudheid toe hy terugkom en sien dat Josef weg is nie; niks van Jakob se verdriet toe hy bedrieg is om te glo dat sy geliefde Josef dood is nie; niks van sy bejaarde oupa, Isak, wat nog gelewe het nie; en niks van sy geliefde jonger broer, Benjamin, na wie hy baie sou verlang nie. Maar het Josef hoegenaamd niks oorgehad nie?—Genesis 37:29-35.

Josef het nog steeds iets gehad wat sy broers nooit van hom kon wegneem nie: geloof. Hy het baie kennis gehad van sy God, Jehovah, en niks kon hom daarvan beroof nie—nie die verlies van sy tuiste, nie die ontberinge van gevangenskap op die lang reis na Egipte en nie eens die vernedering om as ’n slaaf aan ’n ryk Egiptenaar met die naam Potifar verkoop te word nie (Genesis 37:36). Hierdie ontberinge het Josef se geloof net sterker laat word en hom nog meer vasbeslote gemaak om na aan sy God te bly. In toekomstige artikels sal ons sien hoe hierdie geloof Josef al hoe nuttiger gemaak het vir sy God, Jehovah, sowel as vir sy familie toe hulle in nood verkeer het. Dit sal beslis verstandig van ons wees om Josef se geloof na te volg!

^ par. 15 Party navorsers meen dat Josef se broers hulle vader se geskenk aan Josef beskou het as bewys dat hy van plan was om die eersgeboortereg aan hierdie seun toe te ken. Hulle het geweet dat Josef die eerste seun was van die vrou vir wie Jakob die liefste was—die een met wie hy eerste wou trou. Daarbenewens het Jakob se eersgeborene, Ruben, by sy vader se byvrou gaan lê, waardeur hy sy vader oneer aangedoen het en dus sy geboortereg verbeur het.—Genesis 35:22; 49:3, 4.

^ par. 25 Die Bybelverslag is selfs in hierdie fynste besonderheid akkuraat. Dokumente uit dieselfde tydperk toon dat 20 sikkels die standaardprys vir slawe in Egipte was.