Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | GOD SE BESKOUING VAN ROOK

Wat is God se beskouing van rook?

Wat is God se beskouing van rook?

Nadat Naoko, wat in die eerste artikel genoem is, die rookgewoonte oorkom het, het sy gesê: “Ek kon my lewe verander omdat ek die waarheid omtrent God se eienskappe en voorneme geleer het.” Wat sy geleer het, word in die Bybel gevind. Al praat die Bybel nooit van tabak nie, help dit ons om te verstaan hoe God rook beskou. * Hierdie kennis het aan baie die nodige dryfveer voorsien om nie te begin rook nie of om die gewoonte op te gee (2 Timoteus 3:16, 17). Kom ons kyk wat die Bybel sê oor drie skadelike gevolge van rook waarvan die meeste mense bewus is.

ROOK IS VERSLAWEND

Tabak bevat een van die verslawendste dwelmmiddels waarvan ons weet—nikotien. Dit is ’n opkikker sowel as ’n kalmeermiddel. Rook stuur nikotien vinnig en herhaaldelik na die brein. Aangesien elke trek ’n enkeldosis nikotien voorsien, neem die gemiddelde pakkie-per-dag-roker omtrent 200 dosisse per dag in, meer as wat met enige ander dwelmmiddel die geval is. Weens hierdie gereelde dosisse is nikotien besonder verslawend. As ’n roker eers verslaaf is, kry hy onttrekkingsimptome as sy drang na nikotien nie bevredig word nie.

‘Julle is slawe van hom aan wie julle gehoorsaam is.’—Romeine 6:16

Kan jy werklik aan God gehoorsaam wees as jy aan tabak verslaaf is?

Die Bybel help ons om die regte beskouing van die saak te hê deur te sê: “Weet julle nie dat as julle aanhou om julleself as slawe vir iemand aan te bied om hom te gehoorsaam, julle slawe van hom is omdat julle hom gehoorsaam nie?” (Romeine 6:16). Wanneer iemand se denke en dade deur ’n drang na tabak oorheers word, word hy kort voor lank die slaaf van ’n verlagende gewoonte. Maar God, wie se naam Jehovah is, wil hê dat ons vry moet wees, nie net van gebruike wat ons liggaam skade aandoen nie, maar ook van dié wat ons gees, dit wil sê ons oorheersende geestesneiging, verderf (Psalm 83:18; 2 Korintiërs 7:1). Wanneer ’n persoon se waardering en respek vir Jehovah toeneem, besef hy dat Jehovah sy beste verdien en dat hy God nie sy beste kan gee as hy aan ’n dodelike gewoonte verslaaf bly nie. Hierdie besef help hom om die wilskrag te kry om skadelike begeertes te weerstaan.

Olaf, wat in Duitsland woon en op 12-jarige ouderdom begin rook het, het sy sigaretverslawing ná 16 jaar oorkom. “Ek het gedink dat die eerste sigaret soos ’n onskadelike sneeubal is”, het hy gesê. “Maar deur die jare heen het dit ’n groot sneeustorting geword. Eenkeer, toe my sigarette opgeraak het, was ek so gefrustreerd dat ek al die stompies uit ’n asbakkie bymekaargemaak het, die tabak uitgekrap het en met ’n stukkie koerantpapier ’n sigaret gerol het. As ek terugkyk, voel ek baie skaam daaroor.” Hoe het hy die verlagende rookgewoonte oorkom? “Die deurslaggewende faktor was die begeerte om Jehovah te behaag”, het hy gesê. “Jehovah se liefde vir die mensdom en die hoop wat hy voorsien, het my die krag gegee om hierdie verslawing eens en vir altyd op te gee.”

ROOK BESKADIG DIE LIGGAAM

“Daar is al wetenskaplik bewys dat sigaretrokery . . . skadelik is vir byna elke orgaan in die liggaam en dat dit siekte- en sterftesyfers laat styg”, sê The Tobacco Atlas. Dit is ’n bekende feit dat rook nie-oordraagbare siektes soos kanker, hartsiekte en longkwale veroorsaak. Maar volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is rook ook ’n vername doodsoorsaak wanneer dit kom by oordraagbare siektes, soos tering.

“Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”—Matteus 22:37

Toon jy liefde en respek vir God as jy jou godgegewe liggaam weens ’n besoedelende gewoonte misbruik?

Deur sy Woord, die Bybel, leer Jehovah God ons om die regte beskouing van ons lewe, ons liggaam en ons verstandelike vermoëns te hê. Sy Seun, Jesus, het hierna verwys toe hy gesê het: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Dit is duidelik dat God wil hê dat ons goed na ons lewe en liggaam moet kyk en respek daarvoor moet hê. Wanneer ons van Jehovah en sy beloftes leer, word ons lief vir hom en bou ons waardering op vir alles wat hy vir ons gedoen het. Dit beweeg ons om niks te doen wat ons liggaam besoedel nie.

Jayavanth, ’n dokter in Indië, het 38 jaar lank gerook. Hy het gesê: “Ek het in mediese tydskrifte geleer van die gevare wat rook inhou. Ek het geweet dat dit verkeerd is, en ek het my pasiënte aangeraai om die gewoonte op te gee. Maar ek kon self nie ophou rook nie, al het ek vyf of ses keer probeer.” Wat het hom gehelp om uiteindelik op te hou? Hy vertel: “’n Studie van die Bybel het my gehelp om op te hou rook. Die begeerte om Jehovah te behaag, het my beweeg om die gewoonte dadelik op te gee.”

ROOK IS SKADELIK VIR ANDER

Rook wat uitgeblaas word en die rook van smeulende tabak is giftig. As hierdie tweedehandse rook ingeasem word, kan dit kanker en ander siektes veroorsaak, en dit lei elke jaar tot die dood van 600 000 nierokers, meestal vroue en kinders. ’n Verslag deur die WGO waarsku: “Daar is geen veilige blootstellingsvlak aan tweedehandse rook nie.”

“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”​—Matteus 22:39

Is jy werklik lief vir jou naaste en jou gesin as jy hulle aan die gevare van tweedehandse rook blootstel?

Volgens Jesus is liefde vir ons naaste—ons familie, vriende en ander om ons—die belangrikste naas liefde vir God. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, het hy gesê (Matteus 22:39). As ons vashou aan ’n gewoonte wat nadelig is vir diegene na aan ons, betoon ons nie naasteliefde nie. Opregte liefde beweeg ons om gehoor te gee aan die Bybel se vermaning: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.”—1 Korintiërs 10:24.

Armen, wat in Armenië woon, vertel: “My gesin het my gesmeek om op te hou rook omdat dit ’n nadelige uitwerking op hulle gehad het. Maar ek wou nie erken dat dit vir hulle skadelik kan wees nie.” Hy verduidelik wat sy beskouing verander het: “My kennis van die Bybel en liefde vir Jehovah het my gehelp om rook op te gee en te erken dat dit nie net vir mý skadelik is nie, maar ook vir diegene om my.”

DIE ROOKGEWOONTE WORD VIR GOED UITGEWIS!

Bybelkennis het Olaf, Jayavanth en Armen gehelp om ’n verlagende gewoonte wat hulle sowel as ander benadeel het, af te lê. Hulle het dit reggekry, nie net omdat hulle geweet het dat rook skadelik is nie, maar omdat hulle lief geword het vir Jehovah en hom wou behaag. Die noodsaaklike rol wat liefde speel, word in 1 Johannes 5:3 beklemtoon, wat sê: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie.” Dit is natuurlik nie altyd maklik om Bybelbeginsels te volg nie, maar wanneer iemand deur sterk liefde vir God beweeg word, sal gehoorsaamheid nie vir hom swaar wees nie.

Deur middel van ’n wêreldwye opvoedkundige veldtog help Jehovah God miljoene mense nou om tabakverslawing te oorkom of te vermy (1 Timoteus 2:3, 4). Jehovah sal die gierige handelstelsel wat daarvoor verantwoordelik is dat miljoene aan tabak verslaaf is, binnekort uit die weg ruim deur middel van sy Koninkryk—’n hemelse regering in die hande van sy Seun, Jesus Christus. Hy sal die rookepidemie vir goed uitwis en die gehoorsame mensdom tot liggaamlike en verstandelike volmaaktheid verhef.—Jesaja 33:24; Openbaring 19:11, 15.

Indien jy sukkel om op te hou rook, kan jy moed skep. As jy Jehovah leer liefkry en sy beskouing van rook aanneem, sal dit jou ook die nodige aansporing gee om op te hou rook. Jehovah se Getuies sal jou met graagte van praktiese en persoonlike hulp voorsien om Bybelbeginsels te leer ken en toe te pas. Indien jy Jehovah se hulp wil hê om rook op te gee, kan jy seker wees dat hy jou die nodige krag sal gee.—Filippense 4:13.

^ par. 3 Rook verwys hier na die gebruik om tabakrook regstreeks uit sigarette, sigare, pype of waterrookpype in te asem. Maar die beginsels wat bespreek word, is net soveel van toepassing op die gebruik van pruimtabak, snuif, elektroniese sigarette wat nikotien bevat en ander produkte.