Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy al geëet van die brood van die lewe?

Het jy al geëet van die brood van die lewe?

DIE toeriste was honger. Hulle besoek aan die geskiedkundige plekke in die ou stad Betlehem het hulle ’n goeie eetlus gegee, en hulle wou tradisionele kos eet. Een van hulle het ’n restaurant gesien met falafel—smaaklike gemaalde keker-ertjies, tamaties, uie en ander groente wat saam met pitabrood bedien word—op die spyskaart. Die heerlike ete het hulle energie gegee om hulle toer voort te sit.

Die besoekers het dit nie besef nie, maar hierdie eenvoudige ete van pitabrood kon moontlik verder in die geskiedenis teruggevoer word as enigiets anders wat hulle daardie dag ervaar het. Die naam Betlehem beteken “Huis van brood”, en daar word al duisende jare lank brood in die gebied gebak (Rut 1:22; 2:14). Pitabrood is vandag een van die tradisionele brode van Betlehem.

Bykans vierduisend jaar gelede het Abraham se vrou, Sara, nie ver suid van Betlehem nie, vars ronde brode gebak vir drie onverwagte besoekers (Genesis 18:6). Die “fynmeel” wat Sara gebruik het, was moontlik van emmerkoring of gars gemaak. Sara moes hierdie brood vinnig voorberei en het die deeg waarskynlik op warm klippe gebak.—1 Konings 19:6.

Abraham se gesin het self hulle brood voorberei en gebak, soos hierdie verslag toon. Omdat hulle baie rondgetrek het, het Sara en haar knegte waarskynlik nie brood gebak in die soort oonde wat algemeen gebruik is in haar tuisdorp Ur nie. Sy het fynmeel van plaaslike graansoorte gemaak. Hierdie tydrowende taak is verrig met behulp van ’n draagbare handmeul en moontlik ’n stamper en vysel.

Vier eeue later het die Mosaïese Wet bepaal dat ’n handmeul nie as pand vir ’n lening geneem kan word nie, aangesien dit in ’n lewensbehoefte voorsien het (Deuteronomium 24:6). God het ’n handmeul as noodsaaklik beskou, want daarsonder sou ’n gesin nie hulle daaglikse brood kon maak nie.—Sien die venster “ Maal en bak—’n Daaglikse taak in Bybeltye”.

BROOD WAT DIE HART VAN DIE STERFLIKE MENS VERSTERK

Die Skrif verwys sowat 350 keer na brood, en Bybelskrywers het brood dikwels as ’n sinoniem vir voedsel gebruik. Jesus het getoon dat diegene wat God dien, met vertroue kan bid: “Gee ons vandag ons brood vir hierdie dag” (Matteus 6:11). Hier beteken “brood” voedsel oor die algemeen, en Jesus se woorde toon dat ons op God kan vertrou om in ons daaglikse behoeftes te voorsien.—Psalm 37:25.

Maar daar is iets wat belangriker is as brood, of voedsel. “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom”, het Jesus gesê (Matteus 4:4). Sy woorde het verwys na ’n tyd toe die Israeliete heeltemal afhanklik was van wat God aan hulle voorsien het. Dit het begin kort nadat hulle uit Egipte weg is. Omtrent ’n maand het verloop nadat hulle die Sinaiwoestyn binnegaan het, en hulle voedselvoorraad het min geword. Omdat hulle bang was dat hulle in daardie dorre wildernis ’n hongerdood sou sterf, het hulle bitterlik gekla: “Ons [het] brood tot versadiging toe geëet” in Egipte.—Eksodus 16:1-3.

Die brood in Egipte het ongetwyfeld lekker gesmaak. In Moses se tyd het professionele bakkers ’n groot verskeidenheid brode en koeke vir die Egiptenaars gemaak. Maar Jehovah was nie van plan om sy volk sonder enige brood te laat nie.  “Kyk, ek laat vir julle brood uit die hemel reën”, het hy belowe. Hierdie brood uit die hemel hét toe vroeg die oggend verskyn; dit was “iets fyns en vlokkerigs” wat soos dou of ryp gelyk het. “Wat is dit?”, het die Israeliete gevra toe hulle dit die eerste keer sien. “Dit is die brood wat Jehovah julle as voedsel gegee het”, het Moses verduidelik. Hulle het dit manna * genoem, en hierdie brood het hulle die daaropvolgende 40 jaar versterk.—Eksodus 16:4, 13-15, 31.

Die wonderdadige manna het die Israeliete ongetwyfeld in die begin beïndruk. Dit het soos “plat heuningkoeke” gesmaak, en daar was genoeg vir almal (Eksodus 16:18). Maar met verloop van tyd het hulle begin verlang na die verskeidenheid voedselsoorte wat hulle in Egipte geëet het. “Daar is niks behalwe die manna voor ons oë nie”, het hulle gekla (Numeri 11:6). Later het hulle woedend gesê: “Ons siel het ’n afsku gekry van die veragtelike brood” (Numeri 21:5). Die “brood uit die hemel” het uiteindelik vir hulle onsmaaklik en afstootlik geword.—Psalm 105:40.

DIE BROOD VAN DIE LEWE

Dit is duidelik dat brood, soos baie ander dinge, maklik as vanselfsprekend aanvaar kan word. Maar die Bybel verwys na ’n baie spesiale soort brood wat nie geringgeag moet word nie. Hierdie brood, wat Jesus vergelyk het met die manna wat die Israeliete so ondankbaar verwerp het, kan ewige voordele bied.

“Ek is die brood van die lewe”, het Jesus vir sy toehoorders gesê. “Julle voorvaders het die manna in die wildernis geëet en tog gesterf. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat enigeen daarvan kan eet en nie sterf nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het; as iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe; en in werklikheid is die brood wat ek sal gee, my vlees vir die lewe van die wêreld.”—Johannes 6:48-51.

Baie van Jesus se toehoorders het nie verstaan  dat hy die woorde “brood” en “vlees” figuurlik gebruik het nie. Maar die illustrasie was heel gepas. Letterlike brood het die Jode daagliks aan die lewe gehou, net soos die manna die Israeliete 40 jaar lank in die wildernis aan die lewe gehou het. Hoewel die manna ’n gawe van God was, het dit mense nie die ewige lewe gegee nie. Maar Jesus se offerande maak hierdie beloning moontlik vir diegene wat geloof in hom beoefen. Hy is waarlik “die brood van die lewe”.

Wanneer jy honger is, eet jy dalk ’n sny brood. En miskien dank jy God vir jou “daaglikse brood” (Matteus 6:11, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Hoewel ons hierdie smaaklike voorsiening waardeer, moet ons nooit die waarde van “die brood van die lewe”, Jesus Christus, vergeet nie.

Hoe kan ons, in teenstelling met die ondankbare Israeliete van Moses se dag, toon dat ons nie hierdie kosbare brood as vanselfsprekend aanvaar nie? “As julle my liefhet, sal julle my gebooie bewaar”, het Jesus gesê (Johannes 14:15). As ons Jesus se gebooie bewaar, het ons die vooruitsig om tot in alle ewigheid brood te geniet.—Deuteronomium 12:7.

^ par. 10 Die woord “manna” is waarskynlik afgelei van die Hebreeuse uitdrukking “man hoe’?” wat “wat is dit?” beteken.