Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOLG HULLE GELOOF NA | MARIA

Sy het die swaard van droefheid oorwin

Sy het die swaard van droefheid oorwin

MARIA het op haar knieë neergesak terwyl sy onbeskryflike smart ervaar het. Haar seun se laaste uitroep kort voordat hy ná ure se foltering gesterf het, het nog steeds in haar ore weerklink. Dit was middag, maar die lug het donker geword. Toe was daar ’n hewige aardskudding (Matteus 27:45, 51). Dit het dalk vir Maria gelyk asof Jehovah self vir die wêreld wys dat hy, meer as enigiemand anders, diep bedroef is oor die dood van Jesus Christus.

Terwyl die middaglig die duisternis verdryf het waarin Golgota, of Skedelplek, gehul was, het Maria oor haar seun getreur (Johannes 19:17, 25). Herinneringe het waarskynlik deur haar gedagtes gespoel. Een van hierdie herinneringe was moontlik aan iets wat sowat 33 jaar tevore gebeur het. Toe sy en Josef hulle kosbare baba na die tempel in Jerusalem gebring het, is ’n bejaarde man met die naam Simeon geïnspireer om ’n profesie uit te spreek. Hy het groot dinge vir Jesus voorspel, maar hy het bygevoeg dat dit eendag vir Maria sal voel asof sy met ’n lang swaard deurboor word (Lukas 2:25-35). Nou eers, in hierdie droewige uur, het sy ten volle besef wat hierdie woorde werklik beteken het.

Die swaard van droefheid het Maria se hart deurboor

Daar is al gesê dat die dood van ’n kind een van die ergste en pynlikste verliese vir ’n ouer is. Die dood is ’n verskriklike vyand, en dit doen ons almal op die een of ander manier leed aan (Romeine 5:12; 1 Korintiërs 15:26). Is dit moontlik om hierdie leed te verwerk? Terwyl ons Maria se lewe ondersoek, vanaf die tyd dat Jesus se bediening begin het tot sy dood en ’n rukkie daarna, sal ons baie leer omtrent die soort geloof wat Maria gehelp het om die swaard van droefheid te oorwin.

“DOEN WAT HY OOK AL VIR JULLE SÊ”

Kom ons gaan drie en ’n half jaar terug in tyd: Maria het aangevoel dat ’n verandering sou plaasvind. Selfs in die dorpie Nasaret het mense oor Johannes die Doper en sy aangrypende boodskap omtrent berou gepraat. Maria kon sien dat haar oudste seun die nuus as ’n teken beskou het; dit was tyd om met sy bediening te begin (Matteus 3:1, 13). Jesus se afwesigheid sou vir Maria en haar huisgesin baie ontwrigting veroorsaak. Waarom?

Maria se man, Josef, was waarskynlik toe reeds dood. Indien wel, het Maria goed geweet hoe dit voel om ’n geliefde aan die dood af te staan. * Jesus is later nie net “die timmerman se seun” genoem nie, maar ook “die timmerman”. Jesus het blykbaar sy vader se besigheid oorgeneem en die broodwinner geword van die gesin, wat ten minste ses kinders ingesluit het wat ná hom gebore is (Matteus 13:55, 56; Markus 6:3). Selfs as Jesus Jakobus—waarskynlik die tweede oudste seun—opgelei het om hierdie werk te doen, sou dit nie vir die gesin maklik wees as die oudste seun weggaan nie. Maria het reeds ’n swaar las gedra. Het sy hierdie verandering gevrees? Ons kan maar net raai. Maar ’n belangriker vraag is: Hoe sou sy reageer wanneer Jesus van Nasaret die langverwagte Messias, Jesus Christus, word? ’n Bybelverslag openbaar iets hieromtrent.—Johannes 2:1-12.

Jesus het na Johannes toe gegaan om gedoop te  word en het toe God se Gesalfde, of Messias, geword (Lukas 3:21, 22). Toe het hy sy dissipels begin kies. Hoewel sy werk dringend was, het hy tyd opsygesit om saam met sy familie en vriende aangename geleenthede by te woon. Hy het saam met sy moeder, sy dissipels en sy vleeslike broers na ’n huweliksfees in die dorp Kana gegaan, wat blykbaar op ’n heuwel sowat 13 kilometer van Nasaret af geleë was. Gedurende die fees het Maria agtergekom dat daar ’n probleem is. Sy het dalk opgemerk dat die familie van die paartjie angstig rondkyk en onder mekaar fluister. Die wyn het opgeraak! In hulle kultuur het ’n tekort aan wyn op ’n gebrek aan gasvryheid gedui, wat skande oor die gesin sou bring en aan die geleentheid afbreuk sou doen. Maria het hulle jammer gekry en het haar tot Jesus gewend.

“Hulle het geen wyn nie”, het sy vir haar seun gesê. Wat het sy van hom verwag? Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar sy het geweet dat haar seun ’n uitsonderlike mens is wat wonderlike dinge sou doen. Miskien het sy gehoop dat hy nou sou begin. Sy het as ’t ware vir hom gesê: “Seun, doen asseblief iets hieromtrent!” Jesus se antwoord het haar seker verbaas. Hy het gesê: “Wat het ek met u te doen, vrou?” Jesus se woorde was geensins oneerbiedig nie, hoewel dit al so vertolk is. Maar sy woorde het wel ’n ligte teregwysing bevat. Jesus het sy moeder daaraan herinner dat sy eintlik nie die reg het om vir hom te sê hoe hy sy bediening moet uitvoer nie; slegs sy Vader, Jehovah, het hierdie reg gehad.

Maria het haar seun se teregwysing aanvaar, want sy was ’n nederige vrou met onderskeidingsvermoë. Sy het eenvoudig vir die dienaars by die fees gesê: “Doen wat hy ook al vir julle sê.” Maria het besef dat dit nie meer vir haar gepas is om vir haar seun te sê wat om te doen nie; sy en ander moes eerder na hom luister. Jesus het getoon dat hy, soos sy moeder, medelye met die pasgetroude paartjie het. Hy het sy eerste wonderwerk verrig deur water in goeie wyn te verander. Wat was die gevolg? “Sy dissipels het geloof in hom gestel.” Maria het ook geloof in Jesus gestel. Sy het hom nie net as haar seun beskou nie, maar ook as haar Here en Redder.

Vandag kan ouers baie uit Maria se geloof leer. Niemand anders het weliswaar al ooit ’n kind soos Jesus grootgemaak nie. Maar wanneer enige kind ’n volwassene word, bied dit uitdagings. Ouers hou dalk aan om hulle seun of dogter soos ’n jong kind te behandel, hoewel dit moontlik nie meer gepas is nie (1 Korintiërs 13:11). Hoe kan ouers volwasse kinders help? Een manier is om die vertroue uit te spreek dat hulle getroue seun of dogter sal aanhou om Bybelleringe toe te pas en as gevolg daarvan Jehovah se seën sal ontvang. Ouers se nederige woorde van geloof en vertroue kan ’n groot aansporing vir volwasse kinders wees. Jesus het Maria se ondersteuning gedurende die gebeurtenisvolle jare wat gevolg het, ongetwyfeld waardeer.

“SY BROERS HET . . . NIE GELOOF IN HOM BEOEFEN NIE”

Die Evangelies sê nie veel oor Maria gedurende die drie en ’n half jaar van Jesus se bediening nie. Maar hou in gedagte dat sy waarskynlik ’n weduwee was—en boonop ’n enkelmoeder wat dalk nog kinders in die huis gehad het. Dit is heeltemal verstaanbaar dat sy Jesus nie sou kon volg terwyl hy oral in sy vaderland gepreek het nie (1 Timoteus 5:8). Sy het nogtans aangehou om te peins oor geestelike dinge wat sy oor die Messias geleer het en om vergaderinge in die plaaslike sinagoge by te woon soos hulle gesin se gewoonte was.—Lukas 2:19, 51; 4:16.

Dit is dus moontlik dat sy in die gehoor was toe  Jesus in die sinagoge in Nasaret gepreek het. Hoe opwindend moes dit tog vir haar gewees het om te hoor hoe haar seun aankondig dat ’n eeue oue Messiaanse profesie nou in hom vervul is! Maar dit het haar sekerlik ontstel om te sien dat ander Nasareners haar seun nie aanvaar nie. Hulle het hom selfs probeer doodmaak!—Lukas 4:17-30.

Dit was ook vir haar ontstellend om te sien hoe haar ander seuns teenoor Jesus optree. Volgens Johannes 7:5 het Jesus se vier broers nie geloof in hom beoefen soos hulle moeder nie. Ons lees: “Sy broers het . . . nie geloof in hom beoefen nie.” Jesus het ten minste twee susters gehad, maar die Bybel sê nie juis iets oor hulle nie. * Hoe dit ook al sy, Maria het die unieke pyn ervaar wat dit meebring om in ’n huis te woon waar gesinslede se godsdiensbeskouings verskil. Sy moes daarna streef om ’n balans te behou tussen lojaliteit aan goddelike waarheid en haar pogings om die harte van haar gesinslede te wen sonder om baasspelerig of veglustig te wees.

Eenkeer het ’n groep familielede—wat heel moontlik Jesus se broers ingesluit het—probeer om Jesus “in die hande te kry”. Hulle het gesê: “Hy het van sy verstand af geraak” (Markus 3:21, 31). Maria het natuurlik glad nie so gedink nie, maar sy het saam met haar seuns gegaan, miskien omdat sy gehoop het dat hulle iets sou leer wat hulle in Jesus sou laat glo. Het dit gebeur? Hoewel Jesus aangehou het om buitengewone werke te verrig en wonderlike waarhede bekend te maak, het Maria se ander seuns nog steeds nie geglo nie. Het sy radeloos begin voel en gewonder wat dit sou verg om hulle hart te bereik?

Woon jy in ’n godsdienstig verdeelde huis? Jy kan baie uit Maria se geloof leer. Sy het nie moed opgegee met haar ongelowige familielede nie. Sy het eerder besluit om hulle deur haar voorbeeld te wys dat haar geloof vir haar vreugde en gemoedsrus meebring. Maar sy het aangehou om haar getroue seun te ondersteun. Het sy Jesus gemis? Het sy soms gewens dat hy nog saam met haar en haar gesin by die huis was? Indien wel, het sy hierdie gevoelens beheers. Sy het dit as ’n voorreg beskou om Jesus te ondersteun en aan te moedig. Kan jy ook jou kinders help om God eerste in hulle lewe te stel?

‘JY SAL MET ’N LANG SWAARD DEURBOOR WORD’

Is Maria beloon vir haar geloof in Jesus? Jehovah beloon mense altyd vir hulle geloof, en Maria se geval was ongetwyfeld geen uitsondering nie (Hebreërs 11:6). Stel jou net voor hoe aanmoedigend dit vir haar was om na haar seun te luister of om verslae te hoor van ander wat Jesus se preke self gehoor het.

Baie van Jesus se illustrasies toon dat Josef en Maria se opleiding ’n invloed op hom gehad het

Het Maria agtergekom dat haar seun se illustrasies soms gegrond is op ondervindinge uit Jesus se kinderdae in Nasaret? Toe Jesus gepraat het van ’n vrou wat haar huis uitvee om ’n verlore muntstuk te vind, wat meel vir brood maal of wat ’n lamp opsteek en dit op ’n staander sit, het Maria moontlik gedink aan die klein seuntjie wat aan haar sy was terwyl sy hierdie daaglikse take uitgevoer het (Lukas 11:33; 15:8, 9; 17:35). Toe Jesus gesê het dat sy juk sag en sy vrag lig is, het Maria moontlik teruggedink aan ’n middag toe Josef die jong Jesus geleer het om ’n juk so te maak en te vorm dat ’n dier dit gemaklik kon dra (Matteus 11:30). Dit het Maria ongetwyfeld groot bevrediging verskaf om na te dink oor die voorreg wat Jehovah haar in die lewe gegee het—om die seun wat die Messias sou word, te help grootmaak en oplei. Dit het haar beslis besondere  vreugde verskaf om te luister na Jesus, die grootste onderrigter op aarde, wat alledaagse voorwerpe en tonele gebruik het om mense belangrike lesse te leer!

Maar Maria het nederig gebly. Haar seun het nooit die indruk geskep dat sy vereer moet word, wat nog te sê aanbid moet word nie. Gedurende Jesus se bediening het ’n vrou in ’n skare uitgeroep dat die vrou wat aan hom geboorte gegee het, waarlik gelukkig is. Hy het geantwoord: “Nee, gelukkig is eerder dié wat die woord van God hoor en dit nakom!” (Lukas 11:27, 28). En toe party in ’n skare vir Jesus gesê het dat sy moeder en broers daar naby is, het hy gesê dat mense wat glo, eintlik sy moeder en broers is. Maria het nie aanstoot geneem nie en het sekerlik verstaan wat Jesus bedoel het—geestelike bande is baie belangriker as vleeslike bande.—Markus 3:32-35.

Maar geen woorde kon die pyn beskryf wat Maria ervaar het toe sy haar seun ’n verskriklike dood aan ’n folterpaal sien sterf het nie. Die apostel Johannes, wat ’n ooggetuie van die teregstelling was, het later ’n treffende besonderheid in sy verslag ingesluit: Gedurende hierdie beproewing het Maria “by die folterpaal van Jesus” gestaan. Niks kon hierdie lojale, liefdevolle moeder keer om haar seun tot die einde toe te ondersteun nie. Jesus het haar gesien, en hoewel dit vir hom baie pynlik was om asem te haal en te praat, het hy iets gesê. Hy het sy moeder toevertrou aan die sorg van sy geliefde apostel Johannes. Aangesien Jesus se vleeslike broers nog nie geglo het nie, het Jesus Maria nie aan die sorg van een van hulle toevertrou nie, maar aan die sorg van een van sy opregte volgelinge. Jesus het dus getoon hoe belangrik dit is dat ’n man van geloof vir sy eie mense sorg, veral wanneer dit kom by hulle geestelike behoeftes.—Johannes 19:25-27.

Toe Jesus uiteindelik gesterf het, het Maria die pyn ervaar wat lank tevore voorspel is—die lang swaard van droefheid het haar deurboor. As dit vir ons moeilik is om ons voor te stel hoe bedroef Maria was, sal ons ons glad nie kan indink watter vreugde sy drie dae later ervaar het nie! Maria het uitgevind dat die grootste wonderwerk plaasgevind het—Jesus is opgewek! En haar vreugde is vergroot toe Jesus later, heel moontlik alleen, aan sy halfbroer Jakobus verskyn het (1 Korintiërs 15:7). Hierdie besoek het Jakobus sowel as Jesus se ander halfbroers diep geraak. Ons lees later dat hulle in Jesus as die Christus begin glo het. Kort voor lank het hulle saam met hulle moeder Christelike vergaderinge bygewoon en “volhard in gebed” (Handelinge 1:14). Twee van hulle, Jakobus en Judas, het later elkeen ’n Bybelboek geskryf.

Maria was verheug om te sien dat haar ander seuns lojale Christene word

Maria word die laaste keer genoem waar sy saam met haar seuns by ’n vergadering is en volhard in gebed. Wat ’n gepaste slot is dit tog vir die verslag oor Maria, en wat ’n wonderlike voorbeeld het sy gestel! Weens haar geloof het sy die swaard van droefheid oorwin en uiteindelik ’n glorieryke beloning ontvang. As ons haar geloof navolg, sal ons ook die leed wat hierdie wrede wêreld ons aandoen, kan verwerk en sal ons groter belonings ontvang as wat ons ons kan voorstel.

^ par. 8 Josef word die laaste keer in die Evangelieverslag gemeld in ’n voorval wat plaasgevind het toe Jesus 12 jaar oud was. Hierna word Jesus se moeder en haar ander kinders gemeld, maar nie Josef nie. Jesus word een keer “die seun van Maria” genoem sonder dat daar na Josef verwys word.—Markus 6:3.

^ par. 16 Hulle was eintlik Jesus se halfbroers en halfsusters omdat Josef nie Jesus se biologiese vader was nie.—Matteus 1:20.