Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ’N GESPREK MET ’N BUURMAN

Glo Jehovah se Getuies in Jesus?

Glo Jehovah se Getuies in Jesus?

Hier volg ’n tipiese gesprek tussen een van Jehovah se Getuies en ’n buurman. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Anton besoek aflê by die huis van ’n man met die naam Tim.

GELOOF IN JESUS IS NOODSAAKLIK

Anton: Hallo, Tim. Dis goed om jou weer te sien.

Tim: Ek is ook bly om jou te sien.

Anton: Ek het die nuutste Wagtoring en Ontwaak! vir jou gebring. Ek dink jy sal dit baie geniet om die artikels in hierdie tydskrifte te lees.

Tim: Dankie. Ek is bly jy het vandag gekom, want daar is iets wat ek jou wil vra.

Anton: O, wat is dit?

Tim: Ek het nou die dag met ’n werksmaat gesels. Ek het hom vertel van die blaadjies wat jy my gegee het en hoe interessant dit is. Maar hy het gesê dat ek dit nie moet lees nie, want Jehovah se Getuies glo nie in Jesus nie. Is dit waar? Ek het vir my werksmaat gesê dat ek jou sal vra wanneer jy weer kom.

Anton: Ek is bly dat jy my vra. Dit is goed om by die Getuies self te hoor wat hulle glo. Die beste manier om uit te vind wat iemand glo, is tog om hom self te vra.

Tim: Ek stem saam.

Anton: Die waarheid is, Jehovah se Getuies glo beslis in Jesus. Trouens, ons glo dat dit noodsaaklik is om geloof in Jesus te beoefen om gered te word.

Tim: Ek het so gedink, maar toe my werksmaat sê dat julle nie in Jesus glo nie, het ek begin wonder. Ek kan nie onthou dat ons dit al ooit bespreek het nie.

Anton: Kan ek vir jou ’n paar Bybeltekste wys wat toon hoe belangrik dit is om geloof in Jesus te beoefen? Dit is tekste wat Jehovah se Getuies dikwels in hulle bediening gebruik.

Tim: Dit sal gaaf wees.

Anton: ’n Goeie beginpunt is Jesus se woorde in Johannes 14:6. Hierdie woorde is deel van ’n gesprek wat Jesus met een van sy apostels gehad het. Dit sê hier: “Jesus het vir hom gesê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.’” Wat is volgens hierdie vers die enigste manier om die Vader te nader?

Tim: Deur Jesus.

Anton: Dis reg. En Jehovah se Getuies glo vas daaraan. Maar ek wil jou nog iets vra: In wie se naam, sal jy sê, vereis God dat ’n mens moet bid?

Tim: In Jesus se naam.

Anton: Ek stem saam. En daarom doen ek al my gebede in Jesus se naam. Dit geld ook vir al die gebede van Jehovah se Getuies.

Tim: Ek is bly om dit te hoor.

Anton: ’n Ander teks waarna ons kan kyk, is Johannes 3:16. Hierdie vers is so belangrik dat dit al die klein Evangelie genoem is. Die rede hiervoor is: As jy alles wat oor Jesus se aardse lewe en bediening geskryf is, in een vers kon saamvat, sou dit hierdie vers wees. Sal jy dit asseblief vir ons lees?

Tim: Ja. Dit sê: “Want God het die wêreld so  liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”

Anton: Dankie. Ken jy hierdie teks?

Tim: Ja, ek het dit al baie gehoor, en ek sien dit dikwels aangehaal op plakkers en advertensieborde.

Anton: Dis baie bekend. Kom ons kyk weer daarna, en let op wat Jesus gesê het. Hy het gesê dat God se liefde dit vir mense moontlik maak om vir ewig te lewe—maar slegs as ons wat doen?

Tim: Geloof beoefen.

Anton: Ja. En dit verwys spesifiek na geloof in God se enigverwekte Seun, Jesus Christus. Hierdie gedagte—dat geloof in Jesus die ewige lewe moontlik maak—word gemeld hier op bladsy 2 van die tydskrif wat ek vir jou gebring het. Waar dit die doel van Die Wagtoring meld, sê dit onder andere: “Dit bevorder geloof in Jesus Christus, wat gesterf het sodat ons die ewige lewe kan verkry en wat nou as Koning van God se Koninkryk regeer.”

Tim: Dis interessant. In julle eie tydskrif is daar bewyse dat Jehovah se Getuies in Jesus glo.

Anton: Presies.

Tim: Waarom sê mense dan dat julle nie in Jesus glo nie?

Anton: Daar is seker ’n hele paar redes. Partykeer sê mense so omdat hulle dit by ander mense gehoor het. Of hulle predikant het dit dalk vir hulle geleer.

Tim: Ek het nou net gedink—dalk sê party mense dat julle nie in Jesus glo nie omdat julle as Jehovah se Getuies bekend staan en nie as Jesus se Getuies nie.

Anton: Dit kan ook ’n rede wees.

Tim: Waarom praat julle so baie van Jehovah?

‘EK HET U NAAM BEKEND GEMAAK’

Anton: Om maar een rede te noem, ons glo dat dit belangrik is om God se persoonlike naam, Jehovah, te gebruik—soos sy Seun, Jesus. Kyk wat Jesus in gebed vir sy Vader gesê het. Dit is opgeteken in Johannes 17:26. Sal jy asseblief hierdie vers vir ons lees?

Tim: Sekerlik. “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee u my liefgehad het, in hulle kan wees en ek in eenheid met hulle.”

Anton: Dankie. Let op dat Jesus gesê het dat hy God se naam bekend gemaak het. Waarom dink jy het hy dit gedoen?

Tim: Hmm. Ek is nie seker nie.

Om geloof in Jesus te beoefen, is noodsaaklik vir redding

Anton: Kom ons kyk dan na ’n ander teks wat ons sal help om die antwoord te vind. Ek dink aan Handelinge 2:21. Dit sê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.” Dit is dus ’n vereiste vir redding om die naam van Jehovah aan te roep, en ek is seker jy sal saamstem dat Jesus beslis van hierdie vereiste sou geweet het.

Tim: Ja, natuurlik.

Anton: ’n Belangrike rede waarom Jesus wou hê dat sy volgelinge God se naam moet ken en gebruik, is dus dat hulle redding daarvan afgehang het. En dit is een van die hoofredes waarom ons so baie van Jehovah praat. Ons glo dat dit belangrik is om God se persoonlike naam bekend te maak en ander te help om hierdie naam aan te roep.

Tim: Maar al ken of gebruik mense nie God se naam nie, weet hulle tog van wie hulle praat wanneer hulle na God verwys.

Anton: Dit is dalk so. Maar God het sy persoonlike naam aan ons bekend gemaak om dit vir ons makliker te maak om nader aan hom te kom.

Tim: Wat bedoel jy?

Anton: Dink so daaraan: Dit is nie vir ons nodig om te weet wat Moses se persoonlike naam  is nie. Hy kon bloot bekend gestaan het as die man wat die Rooisee verdeel het of die man wat die Tien Gebooie ontvang het. Dieselfde geld vir Noag—waarom ken ons sy naam? Hy kon maar net bekend gestaan het as die man wat ’n ark gebou en sy gesin en die diere gered het. Selfs Jesus Christus kon eenvoudig bekend gestaan het as die een wat uit die hemel gekom en vir ons sondes gesterf het, nie waar nie?

Tim: Dit is seker so.

Anton: Maar God het seker gemaak dat ons weet wat die persoonlike naam van elkeen van hulle is. Daar is niks wat soveel sê soos ’n persoonlike naam nie. Hoewel ons Moses, Noag of Jesus nooit ontmoet het nie, is hulle vir ons werkliker omdat ons weet wat hulle naam is.

Tim: Ek het nog nooit so daaraan gedink nie, maar dit maak sin!

Anton: En dit is nog ’n rede waarom Jehovah se Getuies God se persoonlike naam so baie gebruik. Ons wil mense help om geloof op te bou in Jehovah God as ’n werklike Persoon en om te besef dat hulle nader aan hom kan kom. Terselfdertyd plaas ons groot klem op die rol wat Jesus in ons redding speel. Ons kan nog ’n teks lees wat hierdie gedagte beklemtoon.

Tim: Sekerlik.

Anton: Ons het netnou Johannes 14:6 gelees. Onthou dat Jesus gesê het dat hy “die weg en die waarheid en die lewe” is. Kom ons kyk na wat hy vroeër gesê het in Johannes 14:1. Sal jy asseblief Jesus se woorde in die laaste deel van hierdie vers lees?

Tim: Goed. Dit sê: “Beoefen geloof in God, beoefen geloof ook in my.”

Anton: Dankie. Sal jy dan sê dat ware geloof behels dat jy net in Jesus of net in Jehovah glo?

Tim: Nee. Jesus het gesê dat ons geloof in al twee moet beoefen.

Anton: Dis reg. En ek is seker jy sal saamstem dat dit nie genoeg is om net te dat ons geloof in God en in Jesus het nie. Ons moet op ’n manier lewe wat toon dat dit die geval is.

Tim: Beslis.

Anton: Maar hoe toon ’n mens dat jy waarlik geloof in God en in Jesus het? Dalk kan ons hierdie vraag volgende keer bespreek. *

Tim: Ek sal daarvan hou.

Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Is daar enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies waarvan jy meer wil weet? Moet dan nie huiwer om een van Jehovah se Getuies daaroor te vra nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.

^ par. 60 Vir meer inligting, sien hoofstuk 12 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.