Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP

Die oorlog wat die wêreld verander het

Die oorlog wat die wêreld verander het

’n Eeu gelede het miljoene jong mans die veiligheid van hulle huis verlaat om te gaan oorlog voer. Hulle is deur ’n vlaag van patriotisme meegevoer wat hulle gretig gemaak het om te gaan. “Ek is bly en baie opgewonde oor die wonderlike dae wat voorlê”, het ’n Amerikaanse vrywilliger in 1914 geskryf.

Maar hulle geesdrif het gou in bitterheid verander. Niemand het vooruitgesien dat groot leërs jare lank in België en Frankryk in oorlog gewikkel sou wees nie. Mense het dit destyds die “Groot Oorlog” genoem. Vandag ken ons dit as die Eerste Wêreldoorlog.

Die Eerste Wêreldoorlog was beslis groot wat lewensverlies betref. Volgens party skattings het nagenoeg 10 miljoen mense gesterf en is 20 miljoen vermink. Die oorlog was ook die gevolg van groot flaters. Europese staatsmanne kon nie keer dat internasionale spanning in ’n wêreldoorlog ontaard nie. Wat moontlik belangriker is, is dat die “Groot Oorlog” groot letsels gelaat het. Dit het die wêreld verander op maniere wat ons vandag nog raak.

 FOUTE WAT VERTROUE VERNIETIG HET

Die Eerste Wêreldoorlog het uitgebreek omdat Europese leiers hulle misreken het. Hulle het opgetree soos ’n “geslag slaapwandelaars wat gedurende daardie rustige somer van 1914 onverwags in die afgrond afgestort het”, verduidelik die werk The Fall of the Dynasties—The Collapse of the Old Order 1905-1922.

Binne ’n paar weke het die sluipmoord op ’n Oostenrykse aartshertog al die groot Europese moondhede in ’n oorlog gedompel wat hulle nie wou hê nie. ’n Paar dae nadat die vyandelikhede begin het, is die Duitse kanselier gevra: “Hoe het dit alles gebeur?” “As ons maar net geweet het”, het hy droewig geantwoord.

Die leiers wat die noodlottige besluite geneem het wat die oorlog voorafgegaan het, het geen idee gehad van wat die gevolge sou wees nie. Maar die werklikheid het gou tot die soldate in die loopgrawe deurgedring. Hulle het besef dat hulle staatsmanne hulle in die steek gelaat het, dat hulle geestelikes hulle bedrieg het en dat hulle generaals hulle verraai het. Hoe so?

Hulle staatsmanne het hulle in die steek gelaat, hulle geestelikes het hulle bedrieg en hulle generaals het hulle verraai

Die staatsmanne het belowe dat die oorlog die weg sou baan tot ’n nuwe en beter wêreld. Die Duitse kanselier het gesê: “Ons veg vir die vrug van ons arbeid in vredestyd, vir die erfenis van ’n wonderlike verlede en vir ons toekoms.” Die Amerikaanse president Woodrow Wilson het ’n gerusstellende en gewilde slagspreuk help skep, naamlik dat die oorlog “die wêreld veilig sal maak vir demokrasie”. En in Brittanje het mense gedink dat dit ’n oorlog sal wees wat “’n einde aan oorloë sal maak”. Hulle was almal verkeerd.

Die geestelikes het die oorlog geesdriftig gesteun. “Die bewaarders van God se Woord het die krygskoor gelei. Totale oorlog het totale haat tot gevolg gehad”, sê The Columbia History of the World. En geestelikes het eerder die vlamme van haat aangeblaas as om dit te blus. “Geestelikes was nie in staat om Christelike geloof bo nasionaliteit te stel nie, en hulle wou dit in die meeste gevalle nie doen nie”, sê A History of Christianity. “Die meeste het die maklike uitweg gekies en die Christelike godsdiens met patriotisme gelykgestel. Soldate van al die Christelike kerke is aangespoor om mekaar in die naam van hulle Redder dood te maak.”

Die generaals het ’n vinnige en maklike oorwinning belowe, maar sake het nie so verloop nie. Kort voor lank het die situasie tussen die strydende leërs ’n spanningsvolle dooie punt bereik. Daarna het miljoene soldate te staan gekom voor wat ’n geskiedkundige beskryf het as “moontlik die wreedste grootskaalse beproewing wat die vlees en gees van die mens nog verduur het”. Ten spyte van ontsettende verliese het die generaals bly beveel dat hulle manskappe die vyand ondanks doringdraadversperrings en masjiengeweerspervuur stormloop. Dit is nie verbasend dat wydverspreide opstande uitgebreek het nie.

Watter uitwerking het die Eerste Wêreldoorlog op die samelewing gehad? ’n Geskiedkundige werk haal die woorde van ’n oudsoldaat aan: “Die oorlog . . . het letsels op die verstand en karakter van ’n geslag gelaat.” Trouens, as gevolg van hierdie oorlog het hele ryke ophou bestaan. Hierdie tragedie het die bloedigste eeu ingelui wat die mens nog beleef het. Dit was asof opstande en stakings feitlik iets alledaags geword het.

Waarom het die oorlog die wêreld onderstebo gekeer? Was dit werklik net ’n ontsaglike ongeluk? Openbaar die antwoorde enigiets oor ons toekoms?