Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Die belofte van ’n paradysaarde het my lewe verander!

Die belofte van ’n paradysaarde het my lewe verander!
  • GEBORE: 1974

  • GEBOORTELAND: LETLAND

  • GESKIEDENIS: WAAGHALSIGE MOTORFIETSRENJAER

MY VERLEDE:

Ek is in Riga, die hoofstad van Letland, gebore. My ma het my en my suster grootgemaak. Hoewel my ma ’n Katoliek is, het ons net op godsdienstige vakansiedae kerk toe gegaan. Ek het altyd geglo dat daar ’n hoër mag is, maar as ’n jongmens het baie ander belangstellings my aandag in beslag geneem.

Terwyl ek grootgeword het, het my ma agtergekom dat ek ’n aanleg het om dinge uitmekaar te haal en dit weer aanmekaar te sit. Omdat daar soveel dinge in die huis was wat uitmekaargehaal kon word, was sy altyd bang om my alleen by die huis te los. Daarom het sy my ’n metaalboustelletjie gegee, wat ek geniet het om aanmekaar te sit en weer uitmekaar te haal. Ek was ook gaande oor motorfietse. My ma het my ingeskryf vir ’n motorfietswedren wat Zelta Mopēds genoem word. Ek het begin resies jaag met kragtrapfietse (mopeds) en later met motorfietse.

Ek het vinnig geleer en het gou baie sukses behaal in hierdie vinnige en gevaarlike sportsoort. Ek het die Lettiese kampioenskap drie keer in verskeie motorfietsklasse gewen, en ek het die Baltiese kampioenskap twee keer gewen.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Toe ek op die hoogtepunt van my loopbaan was, het my meisie Evija (wat later my vrou geword het) met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Sy het van hulle lektuur gehad, waarin daar ’n koepon was om ’n Bybelstudie aan te vra. Sy het die koepon ingevul en gepos. Kort voor lank het twee Getuies haar besoek, en sy het die Bybel saam met hulle begin studeer. Ek het nie omgegee nie, maar het nie op daardie tydstip juis in geestelike dinge belanggestel nie.

Later het die Getuies my genooi om tydens Evija se Bybelstudie by te sit en te luister. Ek het die aanbod aanvaar en het gehou van wat ek gehoor het. Iets wat my hart veral  geraak het, was die Bybel se belofte van ’n paradysaarde. Die Getuies het my byvoorbeeld gewys wat Psalm 37:10, 11 sê: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.” Dit was vir my ’n wonderlike belofte.

My belangstelling in geestelike dinge het bly toeneem. Ek het begin besef hoeveel godsdiensleuens daar is. In teenstelling hiermee was Bybelleringe verrassend logies en duidelik.

Later in my Bybelstudie het ek geleer hoeveel waarde Jehovah aan lewe heg en hoe kosbaar dit vir hom is (Psalm 36:9). Dit het ’n uitwerking gehad op my beskouing van motorfietswedrenne—ek wou my lewe nie meer in gevaar stel nie. Ek wou eerder my lewe tot heerlikheid van Jehovah gebruik. Die roem, eer en opwinding van motorfietswedrenne was dus nie meer vir my belangrik nie.

Ek het geleer dat ek ’n verantwoordelikheid het teenoor die Lewegewer

In 1996 het ek ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon in Tallinn, Estland, nie ver van die stadion waar ek dikwels aan wedrenne deelgeneem het nie. By die byeenkoms het ek gesien dat mense van verskillende lande eensgesind en in vrede vergader. Toe ’n Getuie se handsak byvoorbeeld weggeraak het, het ek gedink dat sy dit nooit weer sal sien nie. Maar nie lank daarna nie het ’n ander Getuie die handsak gekry en dit teruggegee met alles wat daarin was. Ek was stomgeslaan! Ek het toe besef dat die Getuies werklik volgens die hoë standaarde van die Bybel lewe. Ek en Evija het vordering bly maak in ons studie en is in 1997 as Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Party van my vriende het gesterf as gevolg van hulle waaghalsige, vinnige lewe as motorfietsryers. Uit my studie van die Bybel het ek geleer dat ek ’n verantwoordelikheid het teenoor die Lewegewer, Jehovah. Dit het waarskynlik my lewe gered.

Ek en Evija het die voorreg gehad om vier jaar lank as voltydse bedienaars by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Riga te dien. Nou put ons vreugde daaruit om ons dogter, Alise, groot te maak en haar te help om Jehovah lief te kry. Ek het ook die voorreg om een dag per week by die vertaalkantoor te dien, waar ek motors en ander dinge herstel. Dit maak my baie gelukkig om die vaardighede wat ek as kind geleer het, goed te gebruik! Ja, ek haal nog steeds dinge uitmekaar en sit dit dan weer aanmekaar.

Ek het groot waardering vir die voorreg om saam met my gesin van die enigste ware God te getuig, en dit is alles te danke aan wat ek uit die Bybel geleer het. Die belofte van ’n paradysaarde het werklik my lewe verander!