Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Uit die berge sal jy koper delf’

‘Uit die berge sal jy koper delf’

Terwyl ’n argeologiese span die klowe en grotte in die Judese wildernis gefynkam het, het lede van die span op ’n grot hoog bo ’n steil krans afgekom. Sou hulle iets waardevols vind, miskien ou artefakte of manuskripte soos die Dooie See-rolle? Tot hulle verbasing het hulle op ’n kosbare vonds afgekom, wat later die Nahal Mishmar-skat genoem is.

HIERDIE versameling, wat in ’n rietmat toegedraai en in ’n skeur versteek is, is in Maart 1961 ontdek en het uit meer as 400 voorwerpe bestaan, waarvan die meeste van koper gemaak is. Dit het ’n aantal krone, septers, stukke gereedskap, knuppels en ander wapens ingesluit. Die vonds is vir Bybellesers van belang omdat Genesis 4:22 van Tubal-Kain praat as ’n “smeder van elke soort koper- en ysterwerktuig”.

Daar is nog baie onbeantwoorde vrae oor die oorsprong en geskiedenis van die skat. Die ontdekking daarvan toon nietemin dat koper sedert die vroegste tye in Bybellande gedelf, gesmelt en gegiet is.

KOPER IN DIE BELOOFDE LAND

Toe die Israeliete op die punt gestaan het om die Beloofde Land binne te gaan, het Moses vir hulle gesê dat hulle “uit die berge [van die land] koper sal delf” (Deuteronomium 8:7-9). Argeoloë het ’n aantal eertydse myne en smelterye in Israel en Jordanië ontdek, soos in Feinan, Timna en Khirbat En-Nahas. Wat is hier gevind?

Daar is oral in Feinan en in Timna vlak putte, waar myners oor ’n tydperk van ten minste 2 000 jaar koper gedelf het. Vandag nog kan ’n besoeker groengespikkelde stukke koperhoudende klip in die omgewing sien rondlê. Die eertydse myners het hard gewerk om die koper met klipgereedskap uit sigbare are in die rotsoppervlak te kap. Nadat hierdie bronne uitgeput is, is daar met metaalgereedskap dieper gegrawe, waardeur die grotte vergroot is en diep skagte en tonnels uitgekap is. In die Bybelboek Job is daar ’n beskrywing van sulke mynboubedrywighede (Job 28:2-11). Dit was harde arbeid; trouens, van die derde tot die vyfde eeu HJ het die Romeinse owerheid geharde misdadigers en ander gevangenes gevonnis om in die Feinan-kopermyne te werk.

By Khirbat En-Nahas (wat “Koperpuinhope” beteken) is daar ontsaglike hope metaalskuim, wat daarop dui dat koper op nywerheidskaal daar gesmelt is. Geleerdes meen dat erts van nabygeleë myne, soos Feinan en Timna, daarheen geneem is. Om die koper van die erts te skei, is die temperatuur van die houtskoolvure met behulp  van blaaspype en voetblaasbalke tot ongeveer 1 200 grade Celsius verhoog en agt tot tien uur lank teen hierdie temperatuur gehou. Gewoonlik het vyf kilogram erts omtrent een kilogram koper gelewer, wat dan in verskillende vorms gegiet kon word.

DIE GEBRUIK VAN KOPER IN EERTYDSE ISRAEL

Jehovah God het by die berg Sinai beveel dat hierdie glimmende metaal wat in die omgewing ontgin is, gebruik word om die tabernakel te maak, en later is koper ook gebruik toe die tempel in Jerusalem gebou is (Eksodus, hoofstuk 27). Die Israeliete het moontlik geweet hoe om metaal te bewerk voordat hulle na Egipte gegaan het, of hulle het dit dalk daar geleer. Ná hulle uittog uit Egipte was hulle in staat om ’n gegote kalf te maak. Hulle kon ook die kopervoorwerpe maak wat vir diens by die tabernakel nodig was—soos die groot kom, potte, panne, skoppe en vurke.—Eksodus 32:4.

Later gedurende die trek deur die wildernis, toe die volk moontlik in die omgewing was van Punon (waarskynlik die hedendaagse Feinan), ’n koperryke gebied, het hulle oor die manna en die tekort aan water gekla. As straf het Jehovah giftige slange onder hulle ingestuur, en baie mense het gesterf. Nadat die Israeliete berou getoon het, het Moses vir hulle voorspraak gedoen, en Jehovah het hom beveel om ’n koperslang te maak en dit op ’n hoë paal te sit. Die verslag sê: “As ’n slang iemand gebyt het en hy sy blik op die koperslang gerig het, dan het hy bly lewe.”—Numeri 21:4-10; 33:43.

KONING SALOMO SE KOPER

Koning Salomo het ’n ontsaglike hoeveelheid koper gebruik vir die bou van die tempel in Jerusalem. Sy vader, Dawid, het baie daarvan verkry tydens sy verowering van Sirië (1 Kronieke 18:6-8). Die “gegote see”, die groot koperkom wat deur die priesters gebruik is om in te was, het ’n inhoudsmaat van 66 000 liter gehad en het dalk tot 30 ton geweeg (1 Konings 7:23-26, 44-46). Dan was daar ook die twee yslike koperpilare by die ingang van die tempel. Dit was 8 meter hoog en het kapitele bo-op gehad wat ongeveer 2,2 meter hoog was. Die pilare was hol, met 7,5 sentimeter dik wande, en dit was 1,7 meter in deursnee (1 Konings 7:15, 16; 2 Kronieke 4:17). ’n Ongelooflike hoeveelheid koper is gebruik om net hierdie voorwerpe te maak.

Baie voorwerpe by die tempel in Jerusalem was van koper gemaak

In Bybeltye het baie mense koper ook in hulle daaglikse lewe gebruik. Ons lees byvoorbeeld van wapens, boeie, musiekinstrumente en deure wat van koper gemaak is (1 Samuel 17:5, 6; 2 Konings 25:7; 1 Kronieke 15:19; Psalm 107:16). Jesus het gepraat van “koper” vir geldbeurse, en die apostel Paulus het melding gemaak van “Aleksander, die kopersmid”.—Matteus 10:9; 2 Timoteus 4:14.

Argeoloë en geskiedkundiges soek nog antwoorde op baie vrae oor waar al die koper in Bybeltye vandaan gekom het, sowel as oor die Nahal Mishmar-skat. Maar die feit staan vas dat die land wat die Israeliete beërf het, inderdaad ‘’n goeie land was, ’n land waar hulle uit die berge koper sou delf’, soos deur Bybelverslae bevestig word.—Deuteronomium 8:7-9.