Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 SLEUTELS TOT GESINSGELUK

Praat met jou tiener—sonder om te stry

Praat met jou tiener—sonder om te stry

“Toe my dogter 14 was, het sy begin teëpraat. As ek vir haar gesê het: ‘Jy moet kom eet’, het sy geantwoord: ‘Ek wil nie nou eet nie.’ As ek haar gevra het of sy klaar is met haar takies, het sy gesê: ‘Hou op om aan my te karring!’ Ons het dikwels ons stemme verhef en op mekaar geskreeu.”—MAKI, JAPAN. *

As jy die ouer van ’n tiener is, kan woordewisselings jou vaardighede as ouer—en jou geduld—tot die uiterste beproef. “Wanneer my dogter my gesag uitdaag, laat dit my bloed kook”, sê Maria, die ma van ’n 14-jarige in Brasilië. “Ons raak so gefrustreerd dat ons op mekaar skreeu.” Carmela, in Italië, het met ’n soortgelyke uitdaging te kampe. “Wanneer ek en my seun stry, loop dit altyd uit op ’n vuurwarm woordewisseling”, sê sy, “en daarna gaan sluit hy hom in sy kamer toe.”

Waarom is party tieners blykbaar so stryerig? Is dit hulle portuurs se skuld? Miskien. Die Bybel sê dat ’n mens se vriende ’n kragtige invloed op jou kan uitoefen, ten goede of ten kwade (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). Ook skep baie van die vermaak wat vandag onder jongmense gewild is, die indruk dat tieneropstandigheid aanvaarbaar is.

Maar daar is ander faktore wat jy in ag moet neem—en as jy eers verstaan hoe hierdie faktore jou tiener moontlik raak, sal dit vir jou nie te moeilik wees om sekere situasies te hanteer nie. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

JOU TIENER ONTWIKKEL SY “DENKVERMOË”

Die apostel Paulus het geskryf: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer; maar noudat ek ’n man geword het, het ek die eienskappe van ’n klein kindjie afgelê” (1 Korintiërs 13:11). Soos Paulus se woorde toon,  verskil kinders en volwassenes se denke. In watter opsig?

Kinders dink gewoonlik in letterlike terme en vir hulle is ’n saak óf reg óf verkeerd. Maar volwassenes kan abstrakte begrippe dikwels beter begryp en dink dieper na voordat hulle gevolgtrekkings maak of besluite neem. Dit is byvoorbeeld waarskynliker dat volwassenes die etiese geskille omtrent ’n saak in ag sal neem en sal dink aan hoe hulle optrede ander sal raak. Hulle is moontlik gewoond daaraan om so te dink. In vergelyking met hulle is dit vir tieners ’n nuwe proses.

Die Bybel spoor jongmense aan om hulle “denkvermoë” te ontwikkel (Spreuke 1:4). Trouens, die Bybel spoor alle Christene aan om gebruik te maak van hulle “denkvermoë” (Romeine 12:1, 2; Hebreërs 5:14). Maar soms kan jou tiener se redeneervermoë veroorsaak dat hy met jou stry, selfs oor iets wat skynbaar onbeduidend is. * Of ’n mening wat hy lug, getuig van ’n gebrek aan goeie oordeel (Spreuke 14:12). Hoe kan jy in so ’n situasie eerder met hom redeneer as stry?

PROBEER DIE VOLGENDE: Hou in gedagte dat jou tiener dalk net probeer om sy pas ontdekte redeneervermoë te gebruik en dat hy moontlik glad nie sterk voel oor sy beskouing nie. Om uit te vind hoe jou tiener werklik voel, kan jy hom eers prys omdat hy sy denkvermoë gebruik. (“Ek hou van hoe jy redeneer, al stem ek nie saam met al die gevolgtrekkings wat jy maak nie.”) Help hom dan om sy denke te ondersoek. (“Dink jy dat wat jy nou net gesê het, in elke situasie geld?”) Jy sal moontlik verbaas wees om te sien hoe jou tiener sy eie idees heroorweeg en verfyn.

’n Woordjie van waarskuwing: Wanneer jy met jou tiener redeneer, moet jy nie dink dat jy die laaste woord moet hê nie. Al lyk dit of jou woorde op dowe ore val, sal jou tiener waarskynlik meer uit die gesprek leer as wat jy verwag—of as wat hy sal erken. Moenie verbaas wees as jou tiener ná ’n paar dae dieselfde beskouing as jy het nie—en dalk selfs beweer dat dit sy eie beskouing is nie.

“Ek en my seun het soms oor klein dingetjies gestry—soos wanneer hy sy sussie geterg het of nie spaarsamig was nie. Maar die meeste kere het dit gelyk of hy wou hê dat ek hom moet vra wat hy dink en dat ek ’n mate van begrip moet toon deur iets te sê soos: ‘O, ek sien nou wat die probleem is’ of ‘Nou verstaan ek’. Wanneer ek terugkyk, besef ek dat ons waarskynlik baie minder sou gestry het as ek net so iets gesê het.”—Kendji, Japan.

JOU TIENER VORM SY EIE OORTUIGINGS

Verstandige ouers skep ’n omgewing waarin tieners hulle oortuigings kan uitspreek

Die opvoeding wat jy jou adolessent gee, is in groot mate bedoel om hom voor te berei vir die dag wanneer hy die huis kan verlaat en sy lewe as ’n verantwoordelike volwassene kan voortsit (Genesis 2:24). ’n Deel van hierdie proses behels dat hy ’n identiteit ontwikkel—eienskappe, oortuigings en waardes wat bepaal wie hy is. Wanneer ’n tiener met ’n sterk identiteitsgevoel te staan kom voor druk om te doen wat verkeerd is, sal hy nie net aan die gevolge dink nie. Hy sal hom ook afvra: ‘Watter soort persoon is ek? Volgens watter waardes lewe ek? Wat sal iemand met hierdie waardes in dié situasie doen?’—2 Petrus 3:11.

Die Bybel vertel ons van Josef, ’n jong man wat ’n sterk identiteitsgevoel gehad het. Toe Potifar se vrou byvoorbeeld daarop aangedring het dat hy met haar geslagsomgang moet hê, het Josef geantwoord: “Hoe kan ek . . . hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?” (Genesis 39:9). Hoewel die Israeliete destyds nog nie ’n wet gehad het wat egbreuk verbied nie, het Josef verstaan wat God se beskouing van die saak is. Wat meer is, die woorde “hoe kan ek” toon dat hy God se beskouing verkry het—dit deel van sy identiteit gemaak het.—Efesiërs 5:1.

Jou tiener is ook besig om ’n identiteit te ontwikkel. Dit is goed, want sy oortuigings sal hom help om nie te swig voor druk van sy portuurs nie en om sy man teen hulle te staan (Spreuke 1:10-15). Maar hierdie selfde identiteitsgevoel kan veroorsaak dat hy sy man teen jou probeer staan. Wat kan jy doen as dit gebeur?

PROBEER DIE VOLGENDE: Moenie begin stry nie; herhaal eerder net wat hy gesê het. (“Ek wil net seker maak dat ek verstaan. Jy sê dat . . . ”) Vra dan vrae. (“Waarom voel jy so?” of “Wat het jou tot  hierdie slotsom laat kom?”) Kry jou tiener aan die praat. Laat hom sê wat sy oortuigings is. As die meningsverskil net ’n geval van voorkeur is, en nie ’n kwessie van reg of verkeerd nie, moet jy vir jou tiener wys dat jy sy beskouing kan respekteer—selfs as jy nie heeltemal daarmee saamstem nie.

Om ’n identiteit te ontwikkel—en die oortuigings wat daarmee gepaardgaan—is nie net normaal nie, maar ook voordelig. Die Bybel sê immers dat Christene nie soos jong kinders moet wees wat “rondgeslinger word soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer word deur elke wind van lering” nie (Efesiërs 4:14). Daarom moet jy jou tiener toelaat en hom selfs aanspoor om ’n identiteit sowel as vaste oortuigings te ontwikkel.

“Wanneer ek vir my dogters wys dat ek gewillig is om na hulle te luister, is hulle meer geneig om my beskouing in ag te neem, al verskil dit van hulle s’n. Ek probeer hulle nie dwing om soos ek te dink nie, maar laat hulle toe om hulle eie oortuigings te vorm.”—Ivana, Tsjeggiese Republiek.

FERM EN TOG BUIGSAAM

Party tieners het, soos jonger kinders, geleer dat hulle ouers hulle hulle sin sal gee as hulle aanhou neul. As dit dikwels in julle huis gebeur, moet jy versigtig wees. Hoewel dit tydelike verligting kan bring as jy jou tiener sy sin gee, leer dit hom dat hy kan kry wat hy wil hê as hy met jou stry. Wat is die oplossing? Volg Jesus se raad: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee” (Matteus 5:37). Tieners is minder geneig om met jou te stry as hulle weet dat jy konsekwent is.

Wees terselfdertyd redelik. Laat jou tiener byvoorbeeld verduidelik waarom hy meen dat sy inkomtyd in ’n sekere geval aangepas moet word. In so ’n geval swig jy nie voor druk nie, maar volg jy bloot die Bybel se raad: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.”—Filippense 4:5.

PROBEER DIE VOLGENDE: Kom as ’n gesin bymekaar en bespreek inkomtye en ander huisreëls. Toon dat jy bereid is om te luister en al die faktore in ag te neem voordat jy ’n besluit neem. “Tieners moet sien dat hulle ouers bereid is om ’n versoek toe te staan as dit nie in stryd is met ’n Bybelbeginsel nie”, sê Roberto, ’n pa in Brasilië.

Daar is natuurlik geen ouer wat volmaak is nie. Die Bybel sê: “Ons almal struikel dikwels” (Jakobus 3:2). As jy besef dat jy ten minste ’n mate van die skuld vir ’n woordewisseling dra, moet jy nie huiwer om jou tiener om verskoning te vra nie. As jy jou fout erken, stel jy ’n voorbeeld in nederigheid en sal dit vir jou tiener makliker wees om ook so op te tree.

“Toe ek eenkeer ná ’n woordewisseling bedaar het, het ek vir my seun gesê dat ek jammer is oor my emosionele uitbarsting. Dit het hom gehelp om ook te bedaar en het dit vir hom makliker gemaak om na my te luister.”—Kendji, Japan.

^ par. 3 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 10 Hoewel ons in hierdie artikel na die tiener as manlik verwys, is die beginsels wat bespreek word, op albei geslagte van toepassing.

VRA JOU AF . . .

  • Hoe dra ek dalk daartoe by dat ek en my tiener stry?

  • Hoe kan die inligting in hierdie artikel my help om my tiener beter te verstaan?

  • Wat kan ek doen om met my tiener te kommunikeer—sonder om te stry?