Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | LEUENS WAT DIT MOEILIK MAAK OM GOD LIEF TE HÊ

Die leuen dat God wreed is

Die leuen dat God wreed is

WAT BAIE MENSE GLO

“Die siele van diegene wat in ’n toestand van doodsonde sterf, daal onmiddellik ná die dood neer na die hel, waar hulle die kastydings van die hel, ‘ewige vuur’, ondergaan” (Catechism of the Catholic Church). Party godsdiensleiers sê dat die hel ’n toestand van algehele afsondering van God is.

DIE WAARHEID VOLGENS DIE BYBEL

“Die siel wat sondig—dié sal sterf” (Esegiël 18:4). Die dooies “is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). As die siel sterf en van niks bewus is nie, hoe kan dit dan in ’n “ewige vuur” ly of selfs die pyn van ewige afsondering van God ervaar?

In die Bybel verwys die Hebreeuse en Griekse woorde wat dikwels met “hel” vertaal word, in werklikheid na die gemeenskaplike graf van die mensdom. Toe Job byvoorbeeld weens ’n pynlike siekte gely het, het hy gebid: “As u my tog wou wegsteek in my graf [“in die hel”, Douay-Rheims Version]” (Job 14:13, Holy Bible—Easy-to-Read Version). Job wou rus, nie in ’n plek waar hy gefolter sou word of van God vervreemd sou wees nie, maar in die graf.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Wreedheid laat ons nie tot God aangetrokke voel nie; dit stoot ons af. “Ek is van kleins af die leerstelling van die helse vuur geleer”, sê Rocío, wat in Mexiko woon. “Ek was so bang vir God dat ek my nie kon voorstel dat hy enige goeie eienskappe het nie. Ek het gedink dat hy kwaad en onverdraagsaam is.”

Die Bybel se eenvoudige verduideliking van God se oordele en die toestand van die dooies het Rocío se beskouing van God verander. “Ek het vry gevoel—asof ek van ’n groot emosionele las verlos is”, sê sy. “Ek het die vertroue opgebou dat God ons belange op die hart dra, dat hy ons liefhet en dat ons hom kan liefhê. Hy is soos ’n vader wat sy kinders aan die hand neem en wat die beste vir hulle wil hê.”—Jesaja 41:13.

Baie mense probeer ’n vroom lewe lei uit vrees vir die helse vuur, maar God wil nie hê dat jy hom moet dien omdat jy bang is vir hom nie. Inteendeel, Jesus het gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê” (Markus 12:29, 30). En as ons besef dat God vandag nie onregverdig optree nie, kan ons sy toekomstige oordele ook vertrou. Soos Job se vriend Elihu kan ons vol vertroue sê: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel.”—Job 34:10.