Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONS LESERS VRA . . .

Waarom word die naam van party Bybelkarakters nie gemeld nie?

Waarom word die naam van party Bybelkarakters nie gemeld nie?

In die Bybelboek Rut word ’n man wat geweier het om sy plig uit te voer, soos uiteengesit in die Mosaïese Wet, bloot So-en-so genoem (Rut 4:1-12). Moet ons tot die slotsom kom dat al die Bybelkarakters wie se naam nie genoem word nie, ook slegte eienskappe gehad het of onbelangrik was?

Nee. Kyk na ’n ander voorbeeld. Toe Jesus se dissipels voorbereidings moes tref vir sy laaste Pasgamaal, het hy vir hulle gesê om ‘in die stad in te gaan na So-en-so [“’n sekere iemand”, Ou Afrikaanse Bybelvertaling]’ en om alles by sy huis gereed te kry (Matteus 26:18). Moet ons aanneem dat die man wat in hierdie vers “So-en-so” genoem word, ’n slegte of onbelangrike man was? Beslis nie; die “sekere iemand” wat hier gemeld word, was ongetwyfeld ’n dissipel van Jesus. Omdat sy naam nie belangrik is in die verslag nie, is dit weggelaat.

Wat meer is, die Bybelverslag bevat die name van talle goddelose mense; dit bevat ook voorbeelde van talle getroue mense wie se naam nie genoem word nie. Byvoorbeeld, die naam van Eva, die eerste vrou, is baie bekend. Maar haar selfsug en ongehoorsaamheid het bygedra tot die sonde van Adam, waarvoor ons almal ’n baie hoë prys betaal (Romeine 5:12). In teenstelling hiermee word die naam van Noag se vrou nie in die Skrif genoem nie, maar ons het baie te danke aan haar onselfsugtige, gehoorsame gees ter ondersteuning van haar man in sy lewensbelangrike werk. Dit is duidelik dat haar naam nie weggelaat is omdat sy onbelangrik was of nie God se goedkeuring geniet het nie.

Ander mense in die Bybelverslag wie se naam nie genoem word nie, het ’n belangrike—selfs bewonderenswaardige—rol in Jehovah se voorneme gespeel. Dink aan die Israelitiese meisietjie wat ’n slaaf was in die huis van Naäman, ’n Siriese leërhoof. Sy het dapper vir haar meesteres, Naäman se vrou, vertel van Jehovah se profeet in Israel. Dit het ’n groot wonderwerk tot gevolg gehad (2 Konings 5:1-14). Die dogter van die Israelitiese rigter Jefta het ook ’n uitstekende voorbeeld van geloof gestel. Sy het gewillig die vooruitsig om te trou en kinders te hê, prysgegee sodat sy ’n gelofte kon vervul wat haar vader gedoen het (Rigters 11:30-40). Die naam van die skrywers van meer as 40 psalms en van party profete wat belangrike toewysings getrou uitgevoer het, word ook nie genoem nie.—1 Konings 20:37-43.

’n Voorbeeld wat moontlik selfs indrukwekkender is, is dié van die getroue engele. Daar is honderdmiljoene van hulle, maar slegs twee se naam word in die Bybel genoem—Gabriël en Migael (Daniël 7:10; Lukas 1:19; Judas 9). Die ander se name word nie in Bybelverslae genoem nie. Byvoorbeeld, Manoag, die vader van Simson, het ’n engel gevra: “Wat is u naam, sodat ons u beslis eer kan bewys wanneer u woord bewaarheid word?” Wat het hy geantwoord? “Presies waarom sou jy na my naam vra?” Hierdie engel het beskeie geweier om eer te aanvaar wat net God toekom.—Rigters 13:17, 18.

Die Bybel verduidelik nie in elke geval waarom party persone se naam weggelaat is en ander nie. Maar ons kan baie leer by getroue persone wat God gedien het sonder enige vooruitsig op roem of vernaamheid.