Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Hulle wou hê dat ek self moes seker maak wat die waarheid is”

“Hulle wou hê dat ek self moes seker maak wat die waarheid is”
  • GEBORE: 1982

  • GEBOORTELAND: DOMINIKAANSE REPUBLIEK

  • GESKIEDENIS: GROOTGEMAAK AS ’N MORMOON

MY VERLEDE:

Ek is gebore in Santo Domingo, Dominikaanse Republiek, en is die jongste van vier kinders. My ouers was geleerd en wou hulle kinders in ’n goeie milieu grootmaak. Vier jaar voordat ek gebore is, het my ouers Mormoonse sendelinge ontmoet. My ouers was beïndruk deur die netjiese voorkoms en goeie maniere van die jong mans en het kort voor lank besluit dat ons gesin een van die eerste gesinne op die eiland sou wees wat aansluit by die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae, oftewel die Mormoonse Kerk.

Terwyl ek grootgeword het, het ek die sosiale bedrywighede by die kerk geniet en was ek beïndruk deur die klem wat die Mormone op gesinslewe en sedelike waardes geplaas het. Ek was trots daarop om ’n Mormoon te wees en het my dit ten doel gestel om ’n sendeling te word.

Toe ek 18 was, het ons gesin na die Verenigde State getrek sodat ek verder kon studeer. Omtrent ’n jaar later het my tannie en oom, wat Jehovah se Getuies is, ons in Florida kom besoek. Hulle het ons genooi om saam met hulle na ’n Bybelbyeenkoms te gaan. Ek was beïndruk omdat almal om my die Bybeltekste nageslaan het en aantekeninge gemaak het. Ek het dus vir ’n pen en papier gevra en dieselfde begin doen.

Ná die byeenkoms het my tannie en oom gesê dat hulle my sou help om iets omtrent die Bybel te leer, aangesien ek graag ’n sendeling wou word. Ek het gedink dat dit ’n goeie idee is omdat ek op daardie stadium meer vertroud was met die Boek van Mormon as met die Bybel.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Gedurende ons Bybelbesprekings oor die telefoon het my tannie en oom my altyd aangespoor om my oortuigings met Bybelleringe te vergelyk.  Hulle wou hê dat ek self moes seker maak wat die waarheid is.

Daar was baie dinge omtrent die Mormoonse geloof wat ek aanvaar het, maar ek was nie werklik seker wat die Bybel oor hierdie dinge sê nie. My tannie het die Ontwaak! (8 November 1995), ’n tydskrif wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, vir my gestuur, wat ’n paar artikels oor die Mormoonse geloof bevat het. Ek was verbaas dat ek nie vertroud was met baie van die Mormoonse leringe nie. Dit het my beweeg om die amptelike Mormoonse webwerf te besoek om vas te stel of die inligting in die Ontwaak! op feite gegrond was. Dit was, en ek het verdere bewyse hiervan gevind toe ek Mormoonse museums in Utah besoek het.

Ek het altyd geglo dat die Boek van Mormon en die Bybel mekaar aanvul. Maar toe ek die Bybel noukeurig begin lees het, het ek teenstrydighede tussen Mormoonse leringe en inligting in die Bybel opgemerk. Byvoorbeeld, in Esegiël 18:4 sê die Bybel dat die siel sterf. Maar die Boek van Mormon sê in Alma 42:9: “Die siel kan nooit sterf nie.”

Ek was nie net bekommerd oor sulke teenstrydighede nie, maar ook oor die nasionalistiese leringe van die Mormone. Mormone word byvoorbeeld geleer dat die tuin van Eden in die Jackson-distrik, Missouri, VSA, was. En kerkprofete sê: “Wanneer . . . die Koninkryk van God begin heers, sal die vlag van die Verenigde State trots en vlekloos aan die vlagpaal van vryheid en gelyke regte wapper.”

Ek het gewonder hoe my geboorteland—of enige ander land—hierby sou inpas. Ek het die onderwerp een aand opgehaal toe ek ’n oproep ontvang het van ’n jong Mormoon wat opleiding ontvang het om ’n sendeling te word. Ek het hom reguit gevra of hy bereid sou wees om teen mede-Mormone te veg as sy land teen hulle s’n sou oorlog voer. Ek was verbaas toe hy ja gesê het! Ek het meer navorsing oor my kerk se leringe gedoen en ook met verantwoordelike Mormoonse kerkleiers gesels. Daar is vir my gesê dat die antwoorde op my vrae verborgenhede behels wat eendag verstaan sou word wanneer die lig helderder word.

Hulle verduideliking het my teleurgestel. Ek het toe selfondersoek gedoen en diep nagedink oor die rede waarom ek ’n Mormoonse sendeling wou word. Ek het besef dat ek van enige humanitêre werk sou hou, nie noodwendig net van sendingwerk nie. Die sosiale status wat ek natuurlik as ’n sendeling sou geniet, was ook vir my aanloklik. Maar ek het eintlik nie baie omtrent God geweet nie. Hoewel ek voorheen dikwels deur die Bybel geblaai het, het ek dit nooit werklik waardeer nie. Ek het glad nie geweet wat God se voorneme vir die aarde of vir die mensdom is nie.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Toe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, het ek onder andere geleer wat God se naam is, wat gebeur wanneer ons sterf en watter rol Jesus speel in die verwesenliking van God se voorneme. Ek het uiteindelik vertroud begin raak met hierdie wonderlike boek, en ek het dit geniet om ander te vertel van die waarhede wat ek leer. Ek het altyd geweet dat God bestaan, maar nou kon ek in gebed met hom praat as my beste Vriend. Ek is op 12 Julie 2004 as een van Jehovah se Getuies gedoop en het ses maande later voltyds aan die Christelike bediening begin deelneem.

Ek het vyf jaar lank gewerk by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. Ek het dit baie geniet om te help met die druk van Bybels en Bybellektuur wat miljoene mense regoor die aarde tot voordeel strek, en ek geniet dit steeds om ander te help om van God te leer.