Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOLG HULLE GELOOF NA | ABEL

‘Hy spreek nog, hoewel hy gesterf het’

‘Hy spreek nog, hoewel hy gesterf het’

ABEL het gekyk na sy kudde skape wat rustig teen die heuwel gewei het. Toe het sy oog moontlik geval op ’n plekkie in die verte waar hy net-net ’n dowwe skynsel kon uitmaak. Hy het geweet dat dit die plek is waar ’n vlammende lem heeltyd draai en die ingang na die tuin van Eden versper. Sy ouers het eens daar gewoon, maar nie hulle of hulle kinders kon nou daar ingaan nie. Stel jou voor hoe die laatmiddagwindjie deur Abel se hare speel terwyl hy na die hemel opkyk en aan sy Skepper dink. Sou die breuk tussen die mens en God ooit herstel word? Dit is presies waarna Abel gesmag het.

Abel praat vandag met jou. Kan jy hom hoor? Jy sal miskien sê dat so iets onmoontlik is. Hierdie tweede seun van Adam het immers lank gelede gesterf. Sy oorskot is al byna 60 eeue lank deel van die stof van die aarde. Die Bybel leer ons aangaande die dooies: “Hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5, 10). Wat meer is, nie ’n enkele woord wat Abel gespreek het, is in die Bybel opgeteken nie. Hoe kan hy dan met ons praat?

Die apostel Paulus is geïnspireer om oor Abel te sê: “Daardeur spreek hy nog, hoewel hy gesterf het” (Hebreërs 11:4). Waardeur spreek Abel? Deur geloof. Abel was die heel eerste mens wat hierdie voortreflike eienskap aangekweek het. Hy het sulke sterk geloof geopenbaar dat sy voorbeeld tot vandag toe voortleef en vir ons as ’n uitstekende riglyn dien. As ons uit sy geloof leer en dit probeer navolg, spreek die verslag van Abel op ’n baie werklike en doeltreffende manier tot ons.

Maar wat kan ons oor Abel en sy geloof leer as daar so min oor hom in die Bybel geskrywe staan? Kom ons kyk.

TOE DIE WÊRELD NOG JONK WAS

Abel is aan die begin van die mensegeskiedenis gebore. Jesus het Abel later verbind met “die grondlegging van die wêreld” (Lukas 11:50, 51). Jesus het klaarblyklik gepraat van die wêreld van mense wat die hoop het om van sonde losgekoop te word. Hoewel Abel die vierde mens op die aarde was, was hy blykbaar die eerste een wat God as loskoopbaar beskou het. * Dit is duidelik dat Abel nie die beste assosiasie gehad het terwyl hy grootgeword het nie.

Hoewel die wêreld nog jonk was, het ’n donker skaduwee van droefheid oor die mensegesin gehang. Abel se ouers, Adam en Eva, was waarskynlik pragtige, dinamiese mense. Maar hulle het ’n groot fout begaan in die lewe, en hulle het dit geweet. Hulle was eens volmaak, met die vooruitsig om vir ewig te lewe. Toe het hulle teen Jehovah God in opstand gekom en is hulle uit hulle Paradystuiste in die tuin van Eden verban. Omdat hulle hulle eie begeertes eerste gestel het—selfs bo die behoeftes van hulle nakomelinge—het hulle volmaaktheid en die ewige lewe verloor.—Genesis 2:15–3:24.

Die lewe was nie maklik vir Adam en Eva nadat hulle uit die tuin verban is nie. Maar toe hulle eerste kind gebore is, het hulle hom Kain genoem, of “Iets wat voortgebring is”, en Eva het gesê: “Ek het ’n man met die hulp van Jehovah voortgebring.”  Haar woorde gee te kenne dat sy dalk gedink het aan Jehovah se belofte in die tuin toe hy voorspel het dat ’n sekere vrou ’n “saad” sou voortbring wat eendag die bose sou vernietig wat Adam en Eva laat afdwaal het (Genesis 3:15; 4:1). Het Eva gedink dat sy die vrou in die profesie is en dat Kain die beloofde “saad” is?

Indien wel, het sy haar hopeloos misgis. Wat meer is, as sy en Adam vir Kain sulke dinge vertel het terwyl hy grootgeword het, was dit beslis nie goed vir sy onvolmaakte menslike trots nie. Mettertyd het Eva ’n tweede seun gehad, maar ons vind glad nie sulke oordrewe stellings oor hom nie. Hulle het hom Abel genoem, wat moontlik “Uitaseming”, of “Nietigheid”, beteken (Genesis 4:2). Het hierdie naam laer verwagtinge weerspieël, asof hulle minder hoop gestel het in Abel as in Kain? Ons kan nie met sekerheid sê nie.

Hoe dit ook al sy, vandag kan ouers baie leer by hierdie eerste ouers. Sal julle deur julle woorde en dade trots, ambisie en selfsugtige neigings in julle kinders bevorder? Of sal julle hulle leer om Jehovah God lief te hê en ’n vriendskap met hom aan te kweek? Ongelukkig het die eerste ouers versuim om hulle verantwoordelikheid na te kom. Maar daar was hoop vir hulle nakomelinge.

ABEL HET GELOOF OPGEBOU—HOE?

Terwyl die twee seuns grootgeword het, het Adam hulle waarskynlik opgelei om werk te doen wat nodig was om in die gesin se behoeftes te voorsien. Kain het ’n landbouer geword; Abel het ’n herder geword.

Maar Abel het iets baie belangrikers gedoen. Oor die jare het hy geloof opgebou—daardie pragtige eienskap waaroor Paulus later geskryf het. Dink daaraan. Abel het geen navolgenswaardige menslike voorbeeld gehad nie. Hoe het hy dan geloof in Jehovah God opgebou? Kyk na drie vaste grondslae waarop sy geloof waarskynlik berus het.

Jehovah se skeppingswerke.

Jehovah het wel ’n vloek oor die grond uitgespreek sodat dit dorings en distels voortgebring het wat dit moeilik gemaak het om die grond te bewerk. Nietemin het die grond oorgenoeg voedsel opgelewer om in die behoeftes van Abel en die res van die gesin te voorsien. En daar is geen vloek uitgespreek oor die diere, insluitende die voëls en visse nie; en ook nie oor die berge, mere, riviere en seë nie; en ook nie oor die lug, wolke, son, maan en sterre nie. Oral waar Abel gekyk het, het hy bewyse gesien van die groot liefde, wysheid en goedheid van Jehovah God, die een wat alles geskep het (Romeine 1:20). Hy het met waardering oor hierdie dinge gepeins, en dit het sy geloof versterk.

Abel het sekerlik tyd geneem om oor geestelike dinge te peins. Stel jou voor hoe hy na sy kudde omgesien het. ’n Herder moes baie stap. Hy het die saggeaarde diere gelei oor heuwels, deur valleie, deur riviere—altyd op soek na die groenste gras, die  beste waterpoele, die mees beskutte rusplekke. Van al God se skepsele het dit gelyk asof skape die hulpeloosste is, asof hulle geskep is met ’n behoefte aan die mens se leiding en beskerming. Het Abel besef dat hy ook die leiding, beskerming en sorg nodig het van Iemand wat baie wyser en magtiger is as enige mens? Hy het ongetwyfeld baie sulke gedagtes in gebed uitgespreek, en sy geloof het as gevolg daarvan bly groei.

Abel kon sy hele lewe lank sien dat die gerubs getroue en gehoorsame knegte van Jehovah is

Jehovah se beloftes.

Adam en Eva het hulle seuns sekerlik vertel van die gebeure in Eden wat tot hulle uitsetting uit die tuin gelei het. Abel het dus baie gehad om oor te peins.

Jehovah het gesê dat die grond vervloek sou wees. Abel kon die dorings en distels sien wat bewys het dat hierdie woorde vervul is. Jehovah het ook voorspel dat swangerskap en kindergeboorte vir Eva pynlik sou wees. Toe Abel se broers en susters gebore is, het hy ongetwyfeld te wete gekom dat ook hierdie woorde vervul is. Jehovah het vooruitgesien dat Eva ’n ongebalanseerde begeerte sou hê na haar man se liefde en aandag en dat Adam haar op sy beurt sou oorheers. Abel het self gesien dat dit gebeur. In elkeen van hierdie gevalle was dit vir Abel duidelik dat Jehovah se woord heeltemal betroubaar is. Abel het dus grondige redes gehad om geloof te stel in God se belofte van ’n “saad” wat eendag die dinge sou regstel wat in Eden skeefgeloop het.—Genesis 3:15-19.

Jehovah se knegte.

Abel het geen goeie voorbeelde onder die mensegesin gehad nie, maar mense was destyds nie die enigste intelligente skepsele op die aarde nie. Toe Adam en Eva uit die tuin verdryf is, het Jehovah seker gemaak dat nóg hulle nóg hulle nakomelinge toegang tot daardie aardse Paradys sou hê. Om die ingang te bewaak, het Jehovah gerubs—engele met ’n baie hoë rang—en die vlammende lem van ’n swaard wat voortdurend gedraai het, voor die ingang geplaas.—Genesis 3:24.

Stel jou voor hoe Abel hierdie gerubs as ’n seuntjie gesien het. Hierdie gematerialiseerde engele het beslis baie kragtig gelyk. En die vlammende, immer draaiende “swaard” was ook ontsagwekkend. Het Abel, terwyl hy grootgeword het, ooit gesien dat hierdie gerubs verveeld raak en hulle pos verlaat? Nee. Dag en nag, jaar ná jaar, dekade ná dekade het hierdie intelligente, kragtige skepsele daar bly staan. Abel het dus geleer dat Jehovah God regverdige, standvastige knegte het. In hierdie gerubs het Abel ’n voorbeeld van lojaliteit en gehoorsaamheid aan Jehovah gesien wat hy nie onder sy gesinslede kon vind nie. Die voorbeeld van hierdie engele het sy geloof ongetwyfeld versterk.

Die skepping het Abel ’n vaste grondslag gegee vir geloof in ’n liefdevolle Skepper

Omdat Abel gepeins het oor alles wat Jehovah oor homself geopenbaar het deur die skepping, goddelike beloftes en die voorbeeld van Sy knegte, het Abel se geloof al hoe sterker geword. Sy voorbeeld spreek tot ons, nie waar nie? Veral jongmense sal dit dalk gerusstellend vind om te weet dat hulle ware geloof in Jehovah God kan opbou, ongeag wat hulle gesinslede doen. Die wonders van die skepping om ons en die volledige Bybel sowel as talle menslike voorbeelde van geloof gee ons vandag ’n goeie grondslag waarop ons ons geloof kan bou.

ABEL SE OFFERANDE—WAAROM DIT VOORTREFLIK WAS

Namate Abel se geloof in Jehovah toegeneem het, wou hy ’n manier vind om bewys te lewer van sy geloof. Maar wat kon ’n blote mens vir die Skepper van die heelal gee? God het beslis nie enige gawe of hulp van mense nodig gehad nie. Mettertyd het Abel ’n belangrike waarheid begryp: As hy die beste wat hy het—met die regte beweegrede—as offerande aan Jehovah bring, sal dit die goedkeuring van sy liefdevolle hemelse Vader wegdra.

Abel het dus besluit om van die skape van sy kudde te offer. Hy het die beste, die eerstelinge, gekies en het ook die dele wat hy as die beste beskou het, geoffer. Intussen het Kain ook God se seën en guns probeer verkry en van die opbrengs van die grond as offerande voorberei. Maar sy beweegredes het van Abel s’n verskil. Die verskil het duidelik geword toe die broers hulle offerandes gebring het.

Abel het sy offerande in geloof gebring; Kain het nie

Albei seuns van Adam het moontlik altare en vuur gebruik om hulle offerandes te bring, dalk waar die gerubs, die enigste lewende verteenwoordigers  van Jehovah wat destyds op die aarde was, hulle kon sien. Jehovah het gereageer! Ons lees: “Jehovah [het] Abel en sy offer gunstig aangesien” (Genesis 4:4). Die verslag sê nie hoe God sy guns getoon het nie. Maar waarom het hy guns aan Abel betoon?

Was dit weens die offerande self? Abel het ’n lewende skepsel geoffer en die kosbare lewensbloed daarvan uitgestort. Het Abel besef hoe waardevol so ’n offerande sou wees? Eeue ná Abel se tyd het God die offerande van ’n lam sonder gebrek gebruik om die offerande af te beeld van Sy volmaakte Seun, “die Lam van God”, wie se onskuldige bloed uitgestort sou word (Johannes 1:29; Eksodus 12:5-7). Maar Abel het waarskynlik geen kennis of begrip van baie van hierdie dinge gehad nie.

Ons is egter seker van die volgende: Abel het die beste geoffer wat hy gehad het. Jehovah het nie net die offerande gunstig aangesien nie, maar ook die man wat dit gebring het. Liefde vir Jehovah en ware geloof in hom, was die beweegrede agter Abel se optrede.

Kain se geval was anders. Jehovah het “Kain en sy offer glad nie gunstig aangesien nie” (Genesis 4:5). Daar was niks fout met Kain se offerande op sigself nie; God se Wet het later daarvoor voorsiening gemaak dat landbouprodukte geoffer kon word (Levitikus 6:14, 15). Maar die Bybel sê dat Kain se “werke goddeloos was” (1 Johannes 3:12). Kain het, soos baie mense van vandag, klaarblyklik gedink dat die blote uiterlike vertoon van toewyding aan God genoeg is. Sy dade het kort voor lank bewys gelewer van sy gebrek aan ware geloof in Jehovah en liefde vir hom.

Het Kain, toe hy sien dat hy nie Jehovah se guns verkry het nie, uit Abel se voorbeeld probeer leer? Nee. Hy is met haat vir sy broer vervul. Jehovah het gesien wat in Kain se hart aangaan en het geduldig met hom geredeneer. Hy het Kain gewaarsku dat sy weg tot ernstige sonde sou lei, en Hy het Kain die vooruitsig op “’n verheffing” gebied as hy maar net sy weë sou verander.—Genesis 4:6, 7

Kain het nie op God se waarskuwing ag geslaan nie. Hy het eerder sy jonger broer, wat hom vertrou het, genooi om saam met hom in die veld te gaan stap. Daar het Kain Abel aangeval en hom vermoor (Genesis 4:8). In sekere sin was Abel dus die eerste slagoffer van godsdiensvervolging, die eerste martelaar. Hy was dood, maar sy verhaal het nog lank nie tot ’n einde gekom nie.

In figuurlike sin het Abel se bloed na Jehovah God toe uitgeroep om wraak, of om geregtigheid te laat geskied. En God het toegesien dat geregtigheid geskied deur die goddelose Kain vir sy misdaad te straf (Genesis 4:9-12). Nog belangriker, die verslag van Abel se geloof spreek vandag tot óns. In vergelyking met ander mense van daardie era was Abel se lewe kort—dalk omtrent ’n eeu lank—maar hy het sy jare op hierdie aarde laat tel. Hy het gesterf met die wete dat hy die liefde en goedkeuring het van sy hemelse Vader, Jehovah (Hebreërs 11:4). Ons kan dus seker wees dat hy veilig is in Jehovah se onbeperkte geheue en wag op ’n opstanding tot lewe in ’n aardse paradys (Johannes 5:28, 29). Sal jy hom daar ontmoet? Moontlik sal jy as jy vasbeslote is om te luister wanneer Abel praat en om sy uitsonderlike geloof na te volg.

^ par. 8 Die uitdrukking “die grondlegging van die wêreld” behels die gedagte om saad neer te lê, wat op voortplanting dui, en daarom hou dit verband met die eerste menslike nakomelinge. Maar waarom het Jesus Abel verbind met “die grondlegging van die wêreld” en nie Kain, die eerste mens wat gebore is nie? Kain se besluite en dade het neergekom op opsetlike opstand teen Jehovah God. Dit wil voorkom of Kain, soos sy ouers, nie die hoop het op ’n opstanding en loskoping van sonde nie.