Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

HOE het ’n man met ’n tragiese agtergrond ’n gelukkige, suksesvolle huweliksmaat en vader geword? Wat het ’n vrou wat talle slegte gewoontes gehad het, beweeg om ’n nuwe blaadjie om te slaan? Lees wat hierdie mense te sê het.

“Ek het gevoel dat ek niks werd is nie.”—VÍCTOR HUGO HERRERA

  • GEBORE: 1974

  • GEBOORTELAND: CHILI

  • GESKIEDENIS: VERSLAAF AAN ALKOHOL

MY VERLEDE:

Ek is gebore in die stad Angol, in die suide van Chili, ’n pragtige deel van die land. Ek het nooit my pa geken nie. Toe ek drie jaar oud was, het ek saam met my ma en my broer na die hoofstad, Santiago, getrek. Ons het uiteindelik in ’n klein vertrek in ’n tydelike kamp vir haweloses gewoon. Ons het ’n openbare buitetoilet gebruik, en ons het water by ’n brandkraan gaan haal.

Ná ongeveer twee jaar het die owerheid vir ons ’n klein huisie gegee. Ongelukkig was dwelm- en alkoholmisbruik, misdaad en prostitusie iets algemeens in ons nuwe buurt.

Eendag het my ma ’n man ontmoet, met wie sy uiteindelik getroud is. My stiefpa was ’n strawwe drinker. Hy het my en my ma geslaan. Ek het dikwels gehuil wanneer ek alleen was, en ek het gewens dat ek ’n vader gehad het om my te beskerm.

Hoewel my ma hard gewerk het om in ons behoeftes te voorsien, was ons baie arm. Wanneer ons honger was, het ons soms net poeiermelk en suiker gehad om te eet. Vir vermaak het ek en my broer soms in die geheim deur ’n buurvrou se venster televisie gekyk. Maar eendag het sy ons uitgevang, en sy het dit toe stopgesit.

Wanneer my stiefpa nugter was—wat nie dikwels gebeur het nie—het hy vir my en my broer iets gekoop om te eet. Eenkeer het hy vir ons ’n klein televisiestel gekoop. Dit was een van die min kere wat ek kan onthou dat ek gelukkig gevoel het.

Toe ek 12 jaar oud was, het ek leer lees. ’n Jaar later het ek skool verlaat en voltyds begin werk. Ná werk het ek saam met party ouer werksmaats na partytjies toe gegaan waar ons gedrink en dwelms gebruik het. Kort voor lank was ek verslaaf.

Toe ek 20 was, het ek Cati ontmoet, en ons het uiteindelik getrou. Aan die begin het alles goed gegaan, maar toe het ek na my vorige lewenswyse teruggekeer. My gedrag het al hoe meer versleg. Ek het uiteindelik besef dat ek óf in die tronk óf in die graf gaan beland. Nog erger, as gevolg van my gedrag het my seun Víctor dieselfde dinge deurgemaak as wat ek as kind  deurgemaak het. Ek was hartseer, ek was kwaad vir myself, en ek het gevoel dat ek niks werd is nie.

Omstreeks 2001 het twee van Jehovah se Getuies ons huis besoek, en Cati het die Bybel saam met hulle begin studeer. Sy het met my gepraat oor wat sy geleer het. Uit nuuskierigheid het ek ook die Bybel begin studeer. In 2003 is Cati as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Eendag het ek Rut 2:12 gelees, wat sê dat Jehovah diegene beloon wie se geloof hulle beweeg om hom hulle toevlug te maak. Ek het besef dat as ek verander, ek God kan behaag en deur hom beloon kan word. Ek het opgemerk dat die Bybel dronkenskap dikwels veroordeel. Die woorde van 2 Korintiërs 7:1 het ’n indruk op my gemaak. Hierdie vers spoor ons aan om “ons van elke verontreiniging van die vlees [te] reinig”. Ek het my slegte gewoontes dus begin aflê. Terwyl ek dit gedoen het, het my humeur versleg, maar Cati het nooit opgehou om my te ondersteun nie.

Ek het uiteindelik uit my werk bedank omdat die druk om te rook en te drink baie groot was. Hoewel ons ’n ruk lank met baie min moes klaarkom terwyl ek werkloos was, het ek wel meer tyd gehad om die Bybel te studeer. Dit was toe dat ek werklik geestelike vooruitgang begin maak het. Cati het nooit op meer materiële dinge aangedring as wat ek kon voorsien nie, en sy het my ook nie verkwalik vir ons eenvoudige lewenswyse nie. Ek is baie dankbaar vir haar liefdevolle ondersteuning.

Ek het geleidelik al hoe meer met die Getuies begin assosieer. Hulle het my gehelp om te besef dat Jehovah, ondanks die feit dat ek min skoolopleiding het, waardering het vir my opregte begeerte om hom te dien. Die liefde en eenheid wat ons in die Christengemeente gesien het, het ’n groot uitwerking op ons gesin gehad. Ons het nêrens anders sulke vrede gevind nie. In Desember 2004 is ek ook gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek het ondervind hoe waar Jehovah se woorde is wat in Jesaja 48:17 opgeteken is, waar hy sê: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel.” My ma en my broer was so beïndruk deur die veranderinge wat ek gemaak het, dat hulle nou die Bybel studeer. Selfs my bure is bly om te sien hoe ek verander het en hoe gelukkig ons gesin nou is.

Ek het ’n vrou wat God liefhet en my as haar betroubare metgesel en vriend beskou. Hoewel ek nooit my vader geken het nie, het die Bybel my geleer hoe om my drie seuns groot te maak. Hulle respekteer my. Bowenal beskou hulle Jehovah as ’n werklike Persoon, en hulle het hom leer liefkry.

“Hoewel ek nooit my vader geken het nie, het die Bybel my geleer hoe om my drie seuns groot te maak”

Ek is innig dankbaar dat Jehovah my, ondanks my ongelukkige kinderjare, die geleentheid gegee het om ’n gelukkige mens te word.

“Ek het ’n jong vrou vol woede en aggressie geword.”—NABIHA LAZAROFA

  • GEBORE: 1974

  • GEBOORTELAND: BULGARYE

  • GESKIEDENIS: DWELMHANDELAAR

 MY VERLEDE:

Ek is in Sofia, Bulgarye, in ’n middelklasgesin gebore. My pa het ons gesin verlaat toe ek ses jaar oud was. Dit was vir my ’n groot skok en het my gevoelens baie seergemaak. Ek het verworpe gevoel en nie gedink dat ek liefde waardig is nie. Terwyl ek grootgeword het, het hierdie gevoelens my rebels gemaak. Ek het ’n jong vrou vol woede en aggressie geword.

Toe ek 14 was, het ek vir die eerste keer van die huis af weggeloop. Ek het dikwels geld van my ma en oupa en ouma gesteel. Op skool het ek altyd in die moeilikheid beland as gevolg van my slegte humeur, en gevolglik is ek na vyf verskillende skole in net ’n paar jaar gestuur. Drie jaar voordat ek sou matrikuleer, het ek skool verlaat. Ek het ’n baie onsedelike lewe gelei. Ek het aan tabak en dagga verslaaf geraak. Ek het baie gedrink, gedurig na partytjies toe gegaan en by dwelmhandel betrokke geraak. Ek kon nie sin maak van die lewe in hierdie wanhopige wêreld waar mense ly en doodgaan nie. Daarom het ek net gelewe vir die genietinge van elke dag.

In 1998, toe ek 24 jaar oud was, is ek by die lughawe in São Paulo, Brasilië, vir dwelmhandel in hegtenis geneem. Ek is tot vier jaar tronkstraf gevonnis.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

In 2000 het Jehovah se Getuies die tronk waarin ek was een keer per week begin besoek. Een van die Getuies, Marines, was baie vriendelik met my. Sy het die begeerte by my gewek om meer oor die Bybel te leer. Aangesien ek nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor het nie, het ek die ander gevangenes gevra wat hulle van die Getuies weet. Tot my verbasing het die meeste mense wat ek gevra het, negatief gereageer. Een gevangene het vir my gesê dat ek by enige godsdiens kan aansluit, net nie by Jehovah se Getuies nie. Wat sy gesê het, het my selfs nuuskieriger gemaak; ek wou weet waarom hierdie mense so gehaat word. Ek het besef dat dit so is omdat hulle die ware godsdiens beoefen. Die Bybel sê tog immers dat almal wat opreg probeer om Jesus se volgelinge te wees, vervolg sal word.—2 Timoteus 3:12.

Gedurende hierdie tyd is ek gevra om in die administrasiegebou van die tronk te werk. Eendag het ek bokse in ’n stoorkamer gevind met ou eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! * Ek het die tydskrifte na my tronksel geneem en dit begin lees. Hoe meer ek gelees het, hoe meer het ek gevoel soos iemand in ’n dorre woestyn wat ’n bron van vars water gevind het. Aangesien ek baie tyd gehad het, het ek die Bybel elke dag ure lank gestudeer.

Eendag is ek na die kantoor ontbied. Omdat ek verwag het om vrygelaat te word, het ek gou my paar besittings bymekaargemaak, my selmaats gegroet en na die kantoor gehardloop. Maar toe ek daar aankom, het ek uitgevind dat  ’n nuwe aanklag teen my ingedien is vir die besit van vervalste dokumente. Gevolglik is ek nog twee jaar tronkstraf opgelê.

Aan die begin was ek verpletterd. Maar ’n paar dae later het ek begin besef dat hierdie verwikkeling ’n bedekte seën was. Hoewel ek baie dinge uit die Bybel geleer het, wou ek eintlik my vorige lewenswyse hervat nadat ek vrygelaat is. Ek het meer tyd nodig gehad om te verander.

Soms het ek gevoel dat God my nooit as een van sy aanbidders sou kon aanvaar nie. Maar ek het oor skrifgedeeltes soos 1 Korintiërs 6:9-11 gepeins. Hierdie verse toon dat party Christene in die eerste eeu HJ diewe, dronkaards en afpersers was voordat hulle Jehovah begin dien het. Hulle het egter met Jehovah se hulp verander. Hulle voorbeeld het my baie aangemoedig.

Dit was maklik om party van my verdorwe gebruike te laat vaar. Ek het dit byvoorbeeld redelik maklik gevind om op te hou om dwelms te gebruik. Maar dit was baie moeiliker om op te hou rook. Dit het my meer as ’n jaar geneem om van hierdie hardnekkige gewoonte los te breek. Wat my baie hiermee gehelp het, is die navorsing wat ek gedoen het oor hoe sleg rook vir ’n mens se gesondheid is. Bowenal het voortdurende gebed tot Jehovah my gehelp om met die gewoonte te breek.

‘Ek het die beste Vader gevind—een wat my nooit sal verlaat nie!’

Namate ek nader aan Jehovah gekom het, het ek geleidelik die gevoelens van verworpenheid oorkom waarmee ek geworstel het nadat my pa ons verlaat het. Die woorde in Psalm 27:10 het my diep geraak. Hierdie vers sê: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem.” Ek het besef dat ek die beste Vader gevind het—een wat my nooit sal verlaat nie! My lewe het nou ’n doel gehad. In April 2004, ses maande nadat ek uit die tronk vrygelaat is, is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek is ’n gelukkige mens. Omdat ek nie meer verslaaf is aan skadelike gewoontes nie, geniet ek nou baie beter fisiese en emosionele gesondheid as toe ek jonger was. Ek het ’n gelukkige huwelik en ’n hegte vriendskap met my hemelse Vader, Jehovah. Ek het onder sy aanbidders baie vaders, moeders, broers en susters gevind (Markus 10:29, 30). Ek is dankbaar dat hulle iets goeds in my gesien het—nog voordat ek dit in myself gesien het.

Soms word ek oorweldig deur skuldgevoelens oor my verlede. Maar dit is vertroostend om te weet dat slegte herinneringe “nie onthou [sal] word” in God se beloofde nuwe wêreld nie (Jesaja 65:17). Intussen help my ondervindinge my om empatie vir mense te hê wat voor soortgelyke uitdagings te staan kom. My verlede strek my in hierdie opsig tot voordeel. Wanneer ek byvoorbeeld aan die Christelike bediening deelneem, vind ek dit redelik maklik om sonder vooroordeel met mense te praat wat dwelmverslaafdes, alkoholiste of misdadigers is. Ek is daarvan oortuig dat as ek veranderinge kon aanbring om Jehovah te behaag, enigiemand kan!

^ par. 29 Uitgegee deur Jehovah se Getuies.