Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

  Volg hulle geloof na

“’n Voortreflike vrou”

“’n Voortreflike vrou”

RUT het langs die hoop garsgerwe gekniel wat sy gedurende die dag bymekaargemaak het. Skemer het oor die landerye om Betlehem neergedaal, en baie werkers was reeds op pad terug na die poort van die klein stad bo-op ’n nabygeleë bergrug. Rut was ongetwyfeld baie moeg, want sy het reeds heeldag lank hard gewerk. Maar sy was nog nie klaar gewerk nie; sy slaan die gerwe met ’n dorsstok om die graankorrels los te maak. Alles in aanmerking geneem, was dit ’n goeie dag—beter as wat sy ooit kon gehoop het.

Het die gety uiteindelik vir hierdie jong weduwee gekeer? Sy het haar aan haar skoonma, Naomi, verbind en plegtig belowe om by haar te bly en om Naomi se God, Jehovah, haar God te maak. Saam het die twee bedroefde vroue van Moab na Betlehem gekom, en Rut, die Moabitiese vrou, het gou uitgevind dat Jehovah se Wet praktiese voorsienings vir die armes in Israel, insluitende uitlanders, gemaak het wat hulle waardigheid bewaar het. * En nou het sy gevind dat party van Jehovah se knegte, wat onder die Wet was en daardeur opgelei is, so geestelik en goedhartig was dat haar gebroke hart hierdeur geraak is.

Een van hierdie persone was Boas, die ryk, bejaarde man op wie se landerye sy are opgetel het. Hy het vandag op vaderlike wyse belangstelling in haar getoon. Sy kon nie anders as om by haarself te glimlag toe sy dink aan sy goedhartige woorde van lof omdat sy vir die bejaarde Naomi sorg en omdat sy besluit het om onder die vlerke van die ware God, Jehovah, toevlug te soek nie.—Rut 2:11-13.

Nogtans het Rut moontlik gewonder oor haar toekomsvooruitsigte. Hoe sou sy, ’n arm uitlander sonder ’n man of kinders, vir haarself en Naomi sorg in die jare wat voorlê? Sou sy in hulle behoeftes kon voorsien deur oesoorblyfsels op te tel? En wie sou vir haar sorg wanneer sy oud word? Dit sou verstaanbaar wees as sulke bekommernisse op haar gemoed gedruk het. In vandag se moeilike ekonomiese tye worstel baie met soortgelyke sorge. Terwyl ons leer hoe Rut se geloof haar gehelp het om sulke  uitdagings die hoof te bied, sal ons heelwat vind om na te volg.

Waaruit bestaan ’n gesin?

Rut het hard gewerk om vir haarself en vir Naomi te sorg

Teen die tyd dat Rut al die are uitgeslaan en opgetel het, het sy ongeveer ’n efa, of 22 liter, gars bymekaargemaak. Haar vrag het moontlik ongeveer 14 kilogram geweeg! Sy het dit dalk in ’n lap toegedraai, dit op haar kop gesit en in die skemerte na Betlehem teruggeloop.—Rut 2:17.

Naomi was bly om haar dierbare skoondogter te sien, en moontlik het haar mond oopgehang van verbasing toe sy Rut se swaar vrag gars sien. Rut het ook kos saamgebring wat oorgebly het van die maaltyd wat Boas vir die werkers voorsien het, en die twee het toe ’n eenvoudige maaltyd gedeel. Naomi het gevra: “Waar het jy vandag are opgetel, en waar het jy gewerk? Mag die een wat belangstelling in jou getoon het, geseënd wees” (Rut 2:19). Naomi was oplettend; sy het uit Rut se swaar vrag afgelei dat iemand belangstelling in die jong weduwee getoon het en haar goedhartig behandel het.

Die twee het begin gesels, en Rut het vir Naomi van Boas se goedhartigheid vertel. Dit het Naomi diep geraak en sy het gesê: “Mag hy geseënd wees deur Jehovah, wat sy liefderyke goedhartigheid teenoor die lewendes en die dooies nie nagelaat het nie” (Rut 2:19, 20). In haar oë was Boas se goedhartigheid afkomstig van Jehovah, wat sy knegte beweeg om vrygewig te wees en belowe om sy volk vir hulle goedhartigheid te beloon. *Spreuke 19:17.

Naomi het Rut aangespoor om Boas se aanbod te aanvaar om in sy landerye en naby die jong vroue van sy huishouding are te bly optel sodat sy nie deur die snyers lastig geval sou word nie. Rut het na daardie raad geluister. Sy het ook voortgegaan om ‘by haar skoonmoeder te woon’ (Rut 2:22, 23). In daardie woorde sien ons weer eens Rut se vernaamste eienskap—lojale liefde. Haar voorbeeld beweeg ons dalk om ons af te vra: Toon ons dat ons ons gesinsbande as iets kosbaars beskou deur ons geliefdes lojaal te ondersteun en hulle na gelang van hulle behoeftes te help? Jehovah laat nooit sulke lojale liefde ongemerk verbygaan nie.

Rut en Naomi het mekaar gehelp en aangemoedig

Was Naomi en Rut werklik ’n volwaardige gesin? In sommige kulture dink mense dat elke rol—man, vrou, seun, dogter, grootouers, ensovoorts—deur iemand vervul moet word, anders is dit nie ’n “werklike” gesin nie. Maar Naomi en Rut herinner ons daaraan dat knegte van Jehovah hulle harte kan oopmaak en dat selfs die kleinste, mees gebroke gesin met warmte, goedhartigheid en liefde kan gloei. Waardeer jy jou gesin? Jesus het sy volgelinge daaraan herinner dat die Christengemeente soos ’n gesin kan wees vir diegene wat nie een het nie.—Markus 10:29, 30.

“Hy is een van ons terugkopers”

Van die tyd van die garsoes omstreeks April tot die koringoes omstreeks Junie het Rut voortgegaan om are in Boas se landerye op te tel. Met verloop van die weke het Naomi ongetwyfeld verder gedink aan wat sy vir haar geliefde skoondogter kon doen. Toe hulle nog in Moab was, was Naomi daarvan oortuig dat sy Rut glad nie kon help om weer ’n man te vind nie (Rut 1:11-13). Maar nou het sy van gedagte begin verander. Sy het vir Rut gevra: “My dogter, behoort ek nie vir jou ’n rusplek te soek . . . nie?” (Rut 3:1). Destyds was dit die gebruik dat ouers ’n huweliksmaat vir hulle kinders vind, en Rut het ’n ware dogter vir Naomi geword. Sy wou “’n rusplek” vir Rut vind—wat verwys na die sekuriteit en beskerming wat ’n huis en ’n man kon voorsien. Maar wat kon Naomi doen?

Toe Rut vir die eerste keer van Boas melding gemaak het, het Naomi gesê: “Die man is aan ons verwant. Hy is een van ons terugkopers” (Rut 2:20). Wat het dit beteken? God se Wet  aan Israel het liefdevolle voorsienings vir gesinne ingesluit wat as gevolg van armoede of die dood van ’n geliefde moeilike tye deurgemaak het. As ’n vrou ’n weduwee geword het terwyl sy nog kinderloos was, was dit vir haar baie tragies, want haar man se naam, sy nageslag, sou afgesny word, dit sou in die vergetelheid verdwyn. Maar God se Wet het die man se broer toegelaat om met die weduwee te trou sodat sy aan ’n erfgenaam geboorte kon skenk wat haar oorlede man se naam sou laat voortbestaan en wat na die gesin se eiendom kon omsien. *Deuteronomium 25:5-7.

Naomi het met ’n plan vorendag gekom. Ons kan ons dalk voorstel hoe die jong vrou met groot oë na haar skoonma gekyk het terwyl sy gepraat het. Israel se Wet was waarskynlik nog nuut vir Rut en baie van die gebruike ongetwyfeld nog redelik vreemd. Maar sy het soveel respek vir Naomi gehad dat sy aandagtig na elke woord geluister het. Wat Naomi voorgestel het, het dalk vir Rut onaangenaam gelyk of moontlik selfs gelyk of dit haar in die verleentheid sou stel—of selfs vernederend kon wees—en tog het sy ingestem. Sy het nederig gesê: “Alles wat u vir my sê, sal ek doen.”—Rut 3:5.

Soms is dit moeilik vir jongmense om na die raad van ouer of meer ervare persone te luister. Dit is maklik om te dink dat ouer persone nie werklik die uitdagings en probleme van jongmense verstaan nie. Rut se nederige voorbeeld herinner ons daaraan dat dit baie voordelig kan wees om na die wyse raad van ouer persone te luister wat ons liefhet en ons belange op die hart dra. Maar watter raad het Naomi haar gegee, en is Rut werklik beloon omdat sy daarop ag geslaan het?

 Rut op die dorsvloer

Daardie aand het Rut na die dorsvloer gegaan—’n plat, harde oppervlak waarheen ’n aantal boere hulle graan geneem het om dit te dors en te wan. Die dorsvloer was gewoonlik op ’n heuwelhang of heuweltop, waar fris briese gewoonlik in die laatmiddag en vroegaand gewaai het. Om die graankorrels van die kaf en strooi te skei, het werkers die graan met groot vurke of skopgrawe windop in die lug gegooi. Die wind het die ligter kaf weggewaai en die swaarder graankorrels het op die dorsvloer geval.

Rut het stilletjies toegekyk terwyl die dag se werk einde se kant toe gestaan het. Boas het toesig gehou oor die uitwanning van sy graan, waarvan daar uiteindelik ’n groot hoop was. Nadat hy lustig geëet het, het hy aan die rand van die hoop gaan lê. Dit was klaarblyklik ’n algemene gebruik, dalk om die kosbare oes teen diewe en plunderaars te beskerm. Rut het gesien hoe Boas gaan lê. Die tyd het aangebreek om Naomi se plan uit te voer.

Rut het nader gesluip, doodbenoud. Sy kon sien dat die man vas aan die slaap was. Sy het na sy voete gegaan, dit oopgemaak en daar gaan lê, net soos Naomi vir haar gesê het. Toe het sy gewag. Dit het al hoe later geword. Vir Rut moes dit seker soos ’n ewigheid gevoel het. Uiteindelik, omstreeks middernag, het Boas wakker geword. Hy het bibberend van die koue vooroor gebuig, waarskynlik om sy voete toe te maak. Maar toe sien hy iemand daar lê. Die verslag sê: “Kyk! daar het ’n vrou by sy voete gelê!”—Rut 3:8.

“Wie is jy?”, het hy gevra. Rut het geantwoord, dalk met ’n bewing in haar stem: “Ek is Rut, u slavin, en u moet die slip van u kleed oor u slavin uitsprei, want u is ’n terugkoper” (Rut 3:9). Party hedendaagse ontleders het al te kenne probeer gee dat daar seksuele bedoelings in Rut se optrede en woorde was, maar hulle sien twee eenvoudige feite oor die hoof. Eerstens, Rut het volgens die destydse gebruike opgetree, waarvan baie lank reeds vergete is. ’n Mens moet haar optrede dus nie volgens vandag se verdorwe sedelike standaarde beoordeel nie. Tweedens, Boas se reaksie toon duidelik dat hy Rut se gedrag as sedelik kuis en uiters prysenswaardig beskou het.

Rut het Boas met suiwer en onselfsugtige motiewe genader

Boas het met Rut gepraat, en sy sagte, strelende stemtoon het haar ongetwyfeld gerusgestel. Hy het gesê: “Mag jy geseënd wees deur Jehovah, my dogter. Jy het jou liefderyke goedhartigheid in die laaste geval nog beter getoon as in die eerste geval, deur nie agter die jong manne, hetsy arm of ryk, aan te loop nie” (Rut 3:10). “Die eerste geval” het verwys na die lojale liefde wat Rut aan die dag gelê het toe sy saam met Naomi na Israel gekom het en vir haar gesorg het. “Die laaste geval” was die huidige situasie. Boas het gesê dat ’n jong vrou soos Rut maklik ’n huweliksmaat onder veel jonger mans, hetsy ryk of arm, kon probeer vind het. Sy wou egter nie net goed doen aan Naomi nie, maar ook aan Naomi se oorlede man, sy wou sy naam in sy tuisland laat voortbestaan. Dit is nie moeilik om te sien waarom Boas deur hierdie jong vrou se onselfsugtigheid beïndruk is nie.

Boas het verder gesê: “En nou, my dogter, moenie bang wees nie. Alles wat jy sê, sal ek vir jou doen, want almal in die poort van my volk weet dat jy ’n voortreflike vrou is” (Rut 3:11). Hy was in sy skik met die vooruitsig om met Rut te trou; dalk was hy nie heeltemal verbaas dat sy hom gevra het om haar terugkoper te wees nie. Maar Boas was ’n regverdige man, en hy was nie van plan om bloot op grond van sy voorkeure op te tree nie. Hy het vir Rut gesê dat daar ’n ander terugkoper is wat nader verwant aan Naomi se oorlede man se familie is; Boas sou eers daardie man nader en hom die geleentheid gee om Rut se man te word.

Boas het vir Rut gesê om weer te gaan lê totdat dit amper oggend was; dan kon sy ongemerk wegglip. Hy wou haar reputasie sowel as sy eie beskerm, aangesien mense dalk verkeerdelik sou dink dat hulle iets onsedeliks gedoen het. Rut het naby sy voete gaan gelê, en dalk  was sy nou meer gerus nadat hy haar op goedhartige wyse tegemoetgekom het. Toe, terwyl dit nog donker was, het Boas ’n groot hoeveelheid gars in haar mantel gesit, waarna sy na Betlehem teruggeloop het.

Hoe bly moes Rut tog gewees het toe sy gedink het aan wat Boas vir haar gesê het—dat sy onder al die mense as “’n voortreflike vrou” bekend was! Haar gretigheid om Jehovah te leer ken en hom te dien, het ongetwyfeld baie tot haar reputasie bygedra. Sy het ook met groot goedhartigheid en sensitiwiteit teenoor Naomi en haar volk opgetree en was bereid om by gewoontes en gebruike aan te pas wat sekerlik vreemd was vir haar. As ons Rut se geloof navolg, sal ons ander en hulle gewoontes en gebruike met diep respek probeer behandel. As ons dit doen, sal ons dalk ook ’n voortreflike reputasie opbou.

’n Rusplek vir Rut

“Wie is jy, my dogter?”, het Naomi gesê toe Rut by die huis gekom het. Miskien het sy die vraag gevra omdat dit nog donker was, maar Naomi wou ook weet of Rut nog steeds ’n ongebonde weduwee was en of sy vooruitsigte op ’n huwelik gehad het. Rut het dadelik vir haar skoonma alles vertel wat tussen haar en Boas gebeur het. Sy het ook vir haar die vrygewige geskenk van gars gewys wat Boas gesê het sy vir Naomi moet gee. *Rut 3:16, 17.

Naomi het wyslik vir Rut gesê om daardie dag by die huis te bly en nie are in die landerye  te gaan optel nie. Sy het Rut die versekering gegee: “Die man sal geen rus hê tensy hy die saak vandag tot ’n einde gebring het nie.”—Rut 3:18.

Naomi het Boas reg opgesom. Hy het na die stadspoort gegaan, waar die ouer manne van die stad gewoonlik bymekaargekom het, en gewag totdat die man wat nader aan die familie verwant was, verbygegaan het. Boas het die man voor getuies die geleentheid gebied om die terugkoper te wees deur met Rut te trou. Maar die man het geweier om dit te doen omdat dit volgens hom sy erfdeel sou bederf. Toe het Boas, voor die getuies in die stadspoort, gesê dat hy die terugkoper sou wees en alles wat aan Naomi se oorlede man, Elimeleg, behoort het, sou terugkoop en met Rut, die weduwee van Elimeleg se seun Maglon, sou trou. Boas het die hoop uitgespreek dat hy sodoende “die naam van die man wat dood is, oor sy erfdeel [sou] laat verrys” (Rut 4:1-10). Boas was waarlik ’n regskape en onselfsugtige man.

Boas het met Rut getrou. Daarna lees ons: “Jehovah [het] gegee dat sy swanger word, en sy het ’n seun gebaar.” Die vroue van Betlehem het Naomi geseën en Rut geprys omdat sy beter was vir Naomi as wat sewe seuns sou gewees het. Later vind ons uit dat Rut se seun ’n voorouer van die groot koning Dawid geword het (Rut 4:11-22). En Dawid was weer ’n voorouer van Jesus Christus.—Matteus 1:1. *

Jehovah het Rut geseën met die voorreg om ’n voorouer van die Messias te word

Rut is waarlik geseën, en so ook Naomi, wat gehelp het om die kind groot te maak asof hy haar eie was. Die lewe van hierdie twee vroue is ’n duidelike herinnering aan die feit dat Jehovah God bewus is van almal wat hulle nederig inspan om vir hulle gesin te sorg en hom lojaal saam met sy uitverkore volk dien. Hy versuim nooit om getroue mense te beloon wat, soos Rut, ’n voortreflike reputasie by hom opbou nie.

^ par. 4 Sien die artikel “Volg hulle geloof na—‘Waar u gaan, sal ek gaan’”, in Die Wagtoring van 1 Julie 2012.

^ par. 10 Soos Naomi gesê het, word Jehovah se goedhartigheid nie tot die lewendes beperk nie; dit word selfs aan die dooies betoon. Naomi het haar man en albei haar seuns aan die dood afgestaan. Rut het haar man aan die dood afgestaan. Albei vroue was ongetwyfeld baie lief vir die drie mans. Enige goedhartigheid wat aan Naomi en Rut betoon is, was as ’t ware blyke van goedhartigheid teenoor die mans wat sou wou hê dat daar na hierdie dierbare vroue omgesien word.

^ par. 15 Die afgestorwe man se broers en daarna die naaste manlike familielid het klaarblyklik die eerste reg gehad om met so ’n weduwee te trou, asook die reg op die erfdeel.—Numeri 27:5-11.

^ par. 28 Boas het vir Rut ses mate van ’n ongespesifiseerde gewig gegee—moontlik om aan te dui dat, net soos ses werksdae deur ’n Sabbatsrus gevolg word, Rut se dae van swaarkry as ’n weduwee binnekort deur die “rus” gevolg sou word wat ’n veilige tuiste en ’n huweliksmaat kon bied. Maar die ses mate—moontlik ses vol grawe—kon ook bloot al gewees het wat Rut kon dra.

^ par. 31 Rut is een van vier vroue wat in die Bybel in die geslagsregister van Jesus genoem word. Nog een is Ragab, wat Boas se moeder was (Matteus 1:3, 5, 6). Soos Rut, was sy nie ’n Israeliet nie.