Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is dit moontlik om eerlik te wees in ’n korrupte wêreld?

Is dit moontlik om eerlik te wees in ’n korrupte wêreld?

‘Ons wil ons in alles eerlik gedra.’—HEBREËRS 13:18.

HOEWEL ons sondige natuur, die wêreld waarin ons lewe en die Duiwel groot druk op ons kan uitoefen, kan ons hulle invloed weerstaan! Hoe? Deur nader aan God te kom en deur beproefde beginsels uit sy Woord, die Bybel, toe te pas. Kyk na twee voorbeelde.

BYBELBEGINSEL: “Moenie die hedendaagse wêreld as voorbeeld vir jou gedrag gebruik nie.”—Romeine 12:2, New Jerusalem Bible.

Werklike ondervinding: Guilherme is ’n suksesvolle Brasiliaanse sakeman. Hy erken dat dit nie maklik is om eerlik te wees nie. “’n Sakeman kan maklik oneerlike gebruike begin aanneem, moontlik weens druk om ’n maatskappy se teikens te haal of om in ’n mededingende wêreld kop bo water te hou”, sê hy. “Baie mense beskou dit as iets normaals om omkoopgeskenke te gee en te ontvang. As ’n mens ’n entrepreneur met groot finansiële verpligtinge is, is dit moeilik om eerlik te wees.”

Guilherme het nogtans die druk om oneerlik te wees suksesvol weerstaan. Hy sê: “Selfs in ’n oneerlike besigheidsomgewing is dit moontlik om eerlik te wees. ’n Mens het sterk sedelike waardes nodig. Die Bybel het my gehelp om te besef watter voordele eerlikheid inhou. Iemand wat eerlik is, het ’n skoon gewete, gemoedsrus en selfrespek. Hy kan ’n positiewe invloed op die mense om hom hê.”

BYBELBEGINSEL: “Dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad.”—1 Timoteus 6:9, 10, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Werklike ondervinding: André is die eienaar van ’n besigheid wat sekuriteitstelsels installeer. Een van sy kliënte is ’n groot sokkerklub. Eenkeer, ná ’n groot wedstryd, het André na die administrasiekantoor gegaan en ’n faktuur vir sy dienste ingegee. Die finansiële afdeling was nog besig om die geld te tel wat van die kaartjieskantoor ontvang is. Aangesien dit reeds laat was, het die toesighoudende beampte die verskaffers, insluitende André, inderhaas betaal.

“Op pad huis toe het ek opgemerk dat die beampte my te veel betaal het”, vertel André. “Ek het geweet dat hy waarskynlik nooit sou uitvind wie die ekstra geld ontvang het nie. Maar ek het ook geweet dat die arme man die verlore geld uit sy eie sak sou moes betaal! Ek het besluit om terug te gaan. Ek het deur ’n skare sokkerentoesiaste gebeur en die geld teruggegee. Die beampte was baie verbaas. Dit was die heel eerste keer dat iemand vir hom geld teruggebring het.”

“Deur daardie daad van eerlikheid het ek die beampte se respek gewen”, sê André verder. “’n Aantal jare het verbygegaan, maar van al die oorspronklike verskaffers is ek die enigste een wat nog ’n kontrak met die klub het. Ek is dankbaar dat ek ’n goeie reputasie opgebou het omdat ek die Bybel se hoë sedelike beginsels toepas.”

Dit is bemoedigend om te weet dat ons verderflike invloede met God se hulp kan weerstaan. Maar individuele pogings sal korrupsie nooit met wortel en tak uitroei nie. Die oorsake van korrupsie is diepliggend—te diepliggend vir onvolmaakte mense om dit op hulle eie uit die weg te ruim. Beteken dit dan dat korrupsie nooit uitgewis sal word nie? Die laaste artikel in hierdie reeks bespreek die Bybel se bemoedigende antwoord op hierdie vraag.