Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die invloed van God se Woord op ’n Hindoefamilie

Die invloed van God se Woord op ’n Hindoefamilie

EK SAL nooit die ontbyt vergeet wat ek op Maandagoggend 22 Augustus 2005 saam met my naaste familielede gehad het nie. My lewe het aan ’n draadjie gehang, aangesien ek ’n groot breingewas gehad het. My man, Krishna, het ’n gebed gedoen, en toe het ek met my familie gepraat.

“Ek gaan hospitaal toe vir ’n baie gevaarlike operasie”, het ek gesê, “julle moet dus voorbereid wees op wat ook al gebeur. Ek het reeds begrafnisreëlings getref, ingeval ek nie die operasie oorleef nie. Vir dié van julle wat Jehovah dien, moet asseblief nie ophou nie. En ek smeek die res van julle om die aanbod van ’n Bybelstudie te aanvaar en Christelike vergaderinge by te woon. As julle dit doen, sal julle dalk ook, soos ek, in ’n komende nuwe wêreld begin glo waarin God se ware aanbidders vir ewig in volmaakte gesondheid op ’n paradysaarde sal lewe.”

Voordat ek vertel hoe my operasie afgeloop het, laat ek meer vertel van my agtergrond en hoe ek die ware God leer ken het.

My Hindoe-agtergrond

In my ma se arms

My familie het in ’n groot hout-en-yster-huis op ’n heuwel in die kusstad Durban, Suid-Afrika, gewoon. Om van die hoofstraat onder in die vallei tot by die voorhek van ons huis te kom, moes ons eers 125 trappies klim. Daardie trappies het ’n mens na ’n kort, beboste paadjie geneem wat na ’n ysterhek gelei het. Aan die een kant van die hek het my ouma se tempel gestaan, wat vol foto’s en beelde van Hindoegode was. Ouma het vir my gesê dat ek ’n “tempelkind” is (mandir kī baccā in Hindi) en dat die gode wat ons aanbid, verantwoordelik was vir my geboorte. Oorkant hierdie tempel was ’n gepoleerde rooi trap, wat na die voordeur gelei het. Die huis was groot, met ’n lang gang, ’n groot kombuis met ’n koolstoof, sewe slaapkamers en ’n buitegebou met nog ’n slaapkamer. Ons was 27 wat in daardie huis gebly het, insluitende my grootouers, my pa en sy drie jonger broers, sy jongste suster en hulle gesinne.

Ons familiehuis

Dit was nie maklik om in die behoeftes van so ’n groot familie te voorsien nie. Maar gemeenskapslewe het die familie na aan mekaar gehou, en ons het talle mooi herinneringe uit daardie tyd. Die vier skoondogters, insluitende my ma, Gargee Devi, het na die huishouding omgesien. Hulle het beurte geneem om maaltye voor te berei en die huis skoon te maak. My oupa was die hoof van die huis, en hy het kos vir die hele familie gekoop. My grootouers het elke Woensdag mark toe gegaan om vleis, vrugte en groente vir die week te koop. Ons het in die skaduwee van ’n denneboom gesit op ’n wal wat oor die vallei uitkyk terwyl ons vir hulle gewag het om van die mark af terug te kom. Sodra ons hulle met hulle groot mandjies van die bus sien afklim het, het ons met die 125 trappies afgehardloop om hulle te gaan help om die kos huis toe te dra.

Naby die 125 trappies

In ons tuin was daar ’n groot palmboom waarin Indiese spreeus nesgemaak het. Ons het hulle heen en weer sien vlieg en gehoor hoe hulle kwetter. My ouma het soms by die voordeur op die trap gesit en vir ons stories vertel asof sy die geluide van die Indiese spreeus vertolk. Ek het talle goeie herinneringe van toe  ons in daardie huis gewoon het! Ons het gelag, ons het gehuil, ons het gespeel, ons het geglimlag, ons het alles gedeel—ons het dit geniet om as een groot gesin saam te woon. Nog belangriker is die feit dat ons hier van ons Skepper, Jehovah, en sy Seun, Jesus Christus, begin leer het.

Voordat ons van Jehovah begin leer het, het ons elke dag talle rituele uitgevoer as deel van ons Hindoe-aanbidding. Ons het ook gereeld groot vieringe gehou en gaste genooi om die verskillende gode en godinne te vereer. By party van hierdie vieringe het my ouma in ’n beswyming geraak en met die geeste gekommunikeer, en presies om middernag is diere geoffer om hulle te paai. My oupa was ook welbekend in die gemeenskap vir sy vrygewige bydraes vir die oprigting en bestuur van publieke skole en Hindoetempels.

Hoe ons die waarheid oor Jehovah geleer het

In 1972 het my oupa siek geword en is hy oorlede. ’n Paar maande later het een van my tannies, Indervathey, ook bekend as Jane, Die Wagtoring en Ontwaak! by twee van Jehovah se Getuies geneem. Sy het skuldig gevoel omdat sy hulle nie ingenooi het om te gesels nie. Ons het altyd die Getuies weggewys. Maar toe hulle my tannie weer besoek het, het sy hulle ingenooi en hulle vertel van ’n huweliksprobleem in verband met my oom se misbruik van alkohol. Bure en familielede het my tannie aangemoedig om van hom te skei. Die Getuies het verduidelik wat God se beskouing van die huwelik is (Matteus 19:6). My tannie was beïndruk met die Bybel se raad en die belofte dat ons in die toekoms ’n beter lewe hier op die aarde kan geniet. * Sy het besluit om nie meer van my oom te skei nie, en die Getuies het ’n gereelde Bybelstudie met haar begin hou. Terwyl hulle in die sitkamer gestudeer het, het die ander skoondogters vanuit hulle kamers na die bespreking geluister.

Mettertyd het al die skoondogters by die Bybelstudie aangesluit. Tannie Jane het ons vertel van wat sy geleer het en dikwels vir ons verhale uit die boek Luister na die Groot Onderwyser  * gelees en dit verduidelik. Toe my ooms uitvind dat my tannies die Bybel studeer, het hulle ons begin teëstaan. Een van my ooms het al ons lektuur, insluitende ’n Bybel, gevat en dit verbrand. Hulle het ons verbaal en fisies mishandel omdat ons die vergaderinge bygewoon het. My pa was die enigste een wat nie so ’n gesindheid geopenbaar het nie; hy het nooit daarteen beswaar gemaak dat ons van Jehovah leer nie. Al vier skoondogters het voortgegaan om die vergaderinge by te woon en hulle liefde vir Jehovah God het bly toeneem.

In 1974 is my tannie Jane as een van Jehovah se Getuies gedoop, en my ma en ander tannies is ook kort daarna gedoop. Mettertyd het my ouma haar Hindoegodsdiensgebruike laat vaar. Ek het baie jare lank al die Christelike vergaderinge bygewoon, maar nooit ’n standpunt vir die waarheid ingeneem nie. Toe, by ’n groot streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies, het ’n Getuie genaamd Shameela Rampersad vir my gevra: “Wanneer gaan jy gedoop word?” Ek  het geantwoord: “Ek kan nie gedoop word nie, want niemand het al ooit ’n Bybelstudie met my gehou nie.” Sy het aangebied om met my te studeer. Ek is op 16 Desember 1977, by die volgende streekbyeenkoms, gedoop. Uiteindelik is 18 van die 27 familielede wat saamgewoon het, gedoop. Maar teen die tyd wat ek my operasie gehad het, was my pa, Sonny Deva, nog steeds ’n Hindoe.

“Moet julle oor niks kwel nie”

Die woorde in Filippense 4:6, 7 was nog altyd vir my baie bemoedigend, veral nadat ek met ’n groot breingewas gediagnoseer is. Hierdie verse sê: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.” Dit is moeilik om jou ‘oor niks te kwel’ nie, veral as daar vir jou gesê word dat jy enige oomblik kan sterf. Aan die begin het ek net gehuil, en toe het ek tot Jehovah gebid. Van toe af het ek “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, ondervind.

Jehovah God het as ’t ware my regterhand geneem, en dit het waarlik gevoel asof hy my deur dit alles gelei het (Jesaja 41:13). Hy het my gehelp om my standpunt in verband met die Bybel se opdrag om my van bloed te onthou met vrymoedigheid aan die mediese personeel te verduidelik (Handelinge 15:28, 29). Gevolglik het die chirurg en die narkotiseur ingestem om die operasie sonder ’n bloedoortapping te doen. Ná die operasie het die chirurg verduidelik dat die prosedure ’n sukses was en dat die gewas heeltemal verwyder is. Hy het ook gesê dat hy nog nooit gesien het dat ’n pasiënt so vinnig ná so ’n groot breinoperasie herstel nie.

Drie weke later het ek weer ’n Bybelstudie gehou, al was ek nog in die bed. Ná sewe weke het ek weer begin om te bestuur, aan die predikingswerk deel te neem en die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. Ek het die bystand waardeer van my Christenbroers en -susters wat saam met my aan die evangelisasiewerk deelgeneem het. Hulle het seker gemaak dat ek nooit alleen was nie en dat ek veilig by die huis kom. Ek glo dat my spoedige herstel gedeeltelik toegeskryf kan word aan die feit dat ek na oudio-opnames van die Bybel geluister het en my op die geestelike aspekte van my lewe toegespits het.

Ek was ook bly om te hoor dat my pa ná my operasie ingestem het om die Bybel met die Getuies te studeer. Hy is op 73-jarige ouderdom gedoop, en hy dien Jehovah nou ywerig. Meer as 40 lede van my uitgebreide familie aanbid Jehovah nou saam met ons. Hoewel die sig in my linkeroog beskadig is en my skedel met metaal aanmekaar gehou word, sien ek uit na die tyd in die komende aardse Paradys wanneer Jehovah “alles nuut” sal maak.—Openbaring 21:3-5.

Saam met my man (links), my dogter en my ouers

Ek is geseën met ’n liefdevolle man, wat as ’n Christenopsiener dien, en ’n pragtige dogter, Clerista, wat my ondersteun terwyl ek voortgaan om ’n voltydse evangeliedienaar te wees. Jehovah God het my bediening ryklik geseën. Ek kon ek al baie van my Bybelstudente help om die invloed van God se Woord in hulle lewe te ondervind. Meer as 30 van hulle is nou aan God toegewy en gedoop.

Ek sien hoopvol uit na die tyd wanneer Jehovah God ons sal bevry van hierdie stelsel van dinge wat soveel pyn veroorsaak en ons na ’n aardse paradys sal lei.

^ par. 12 Vir meer inligting oor God se voorneme met die aarde, sien hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 13 Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.