Is die Bybel die Woord van God?

Is die Bybel die Woord van God?

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.”—2 TIMOTEUS 3:16, 17.

WAT ’n kragtige stelling deur die apostel Paulus oor die voortreflike waarde van die Bybel! Hy het natuurlik spesifiek verwys na dié deel van die Bybel wat destyds aan hom beskikbaar was—die geskrifte waarna mense soms verwys as die Ou Testament. Maar in beginsel is sy woorde net soveel van toepassing op al 66 boeke van die Bybel, insluitende dié wat in die eerste eeu HJ deur Jesus se getroue dissipels geskryf is.

Heg jy soveel waarde aan die Bybel as Paulus? Dink jy dat die skrywers van die Bybel werklik deur God geïnspireer is? Eerste-eeuse Christene het so gedink. Gedurende die daaropvolgende eeue het mense dit steeds geglo. Byvoorbeeld, die 14de-eeuse Engelse geestelike John Wycliffe het die Bybel beskou as “die onfeilbare maatstaf van waarheid”. The New Bible Dictionary lewer kommentaar oor Paulus se woorde hierbo en sê dat goddelike “inspirasie dus die waarheid waarborg van alles wat die Bybel sê”.

Veranderende gesindhede teenoor die Bybel

In onlangse tye het vertroue in die gesag van die Bybel egter afgeneem. “In teorie”, sê die handboek The World’s Religions, “aanvaar alle Christene [nog steeds] die Bybel as gesaghebbend, om hulle dade te rig sowel as om  hulle geloofsoortuigings te vorm.” Maar in die praktyk is dit eenvoudig nie meer die geval nie. Vandag beskou baie mense die Bybel bloot as “onbetroubare oorleweringe van mense”. Hoewel hulle erken dat die Bybelskrywers manne van groot geloof was, beskou hulle daardie skrywers bloot as feilbare manne wat diep geestelike waarhede probeer verduidelik het, maar nie die kennis en insig gehad het wat ons vandag het nie.

Om die waarheid te sê, daar is deesdae baie min mense wat hulle denke en dade werklik deur die Bybel laat rig. Byvoorbeeld, hoe dikwels hoor jy mense sê dat die Bybel se sedelike standaarde eenvoudig outyds en onprakties is? Baie meen dat hulle die Bybel se wette en beginsels kan afwater—of dit selfs heeltemal kan ignoreer wanneer dit hulle pas. Party wat hulleself Christene noem, ignoreer openlik wat die Bybel sê oor hoerery, egbreuk, oneerlikheid en dronkenskap.—1 Korintiërs 6:9, 10.

Waarom is dit die geval? Die argeoloog sir Charles Marston het vroeg in die 20ste eeu in sy boek The Bible Is True een rede hiervoor gegee. Hy het gesê dat mense te maklik “sonder enige beswaar baie van die bespiegelings aanvaar het van hedendaagse skrywers” wat die integriteit van die Bybel aangeval het. Kan dit vandag nog die geval wees? Hoe moet jy die opinies en teorieë beskou van geleerdes wat vertroue in die Bybel ondermyn? Kyk wat die volgende artikel hieroor sê.