Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel is werklik God se geïnspireerde Woord

Die Bybel is werklik God se geïnspireerde Woord

PRESIES wat het die apostel Paulus bedoel toe hy gesê het dat die Bybel “deur God geïnspireer” is? (2 Timoteus 3:16). Paulus, wat in Grieks geskryf het, het ’n woord gebruik wat letterlik “deur God ingeblaas” beteken. Daarmee het Paulus bedoel dat God die Bybelskrywers deur middel van sy heilige gees gerig het om slegs te skryf wat Hy wou hê hulle moes skryf.

Hierdie Bybelskrywers “het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is”, het die apostel  Petrus gesê (2 Petrus 1:21). Daarom kon die apostel Paulus die boeke van die Bybel ook beskryf as “heilige geskrifte . . . , wat jou wys kan maak tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus”.—2 Timoteus 3:15.

Baie mense betwis dit ten sterkste dat God die outeur van die Bybel is. Kritici—wat volgens die argeoloog sir Charles Marston dikwels ’n “skreiende minagting van die Bybelverslag” openbaar—het al venynige aanvalle op die Bybel se integriteit gemaak. Party verwerp dit as niks meer as “’n ou versameling mites en sprokies” nie.

Kyk na die bewyse

Hoe besluit jy of jy mense wat jy ontmoet, kan vertrou?

Kan jy dan die Bybel vertrou? Dit is belangrik dat jy die regte besluit hieroor neem. Waarom? Want as die Bybel wel kommunikasie van God self bevat, sou dit dwaas—miskien selfs noodlottig—wees om dit te ignoreer. As jy dit bloot as die woorde van mense in plaas van die Woord van God beskou, sal jy baie minder geneig wees om toe te laat dat dit werklik jou dade rig en jou geloofsoortuigings vorm.—1 Tessalonisense 2:13.

Hoe kan jy besluit? Wel, hoe besluit jy of jy mense wat jy ontmoet, kan vertrou? Een ding is seker. Dit is baie moeilik om werklik jou vertroue in iemand te stel van wie jy baie min weet. Dit is eers ná verloop van tyd, wanneer jy mense goed leer ken, dat jy uitvind of hulle waarlik eerlik en betroubaar is. Jy kan die Bybel op dieselfde manier leer ken. Moenie spekulatiewe of selfs bevooroordeelde teorieë wat vertroue in die Bybel ondermyn, sonder meer aanvaar nie. Neem die tyd om die bewyse te oorweeg wat die Bybel se verklaring ondersteun dat dit “deur God geïnspireer” is.

Aanvalle deur “vriende”

Moenie afgeskrik word deur die feit dat selfs party wat sê dat hulle “vriende” van die Bybel is, die egtheid en betroubaarheid  daarvan aanval nie. Hoewel die meeste Bybelkommentators vandag beweer dat hulle Christene is, sal hulle “slegs van die Skrif praat as ’n verslag deur mense”, sê die New Dictionary of Theology.

Baie teoloë betwis die outeurskap van die boeke van die Bybel. Party sê byvoorbeeld dat die profeet Jesaja nie die boek Jesaja geskryf het nie. Hierdie Bybelboek, sê hulle, is lank ná Jesaja se tyd geskryf. Die Concise Bible Commentary, deur Lowther Clarke, voer aan dat dit “die produk van baie verstande en baie geslagte” is. Maar hierdie bewerings laat die feit buite rekening dat Jesus Christus en sy dissipels herhaaldelik erken het dat Jesaja hierdie boek geskryf het.—Matteus 3:3; 15:7; Lukas 4:17; Johannes 12:38-41; Romeine 9:27, 29.

Wat selfs erger is, is dat Bybelkritici, soos die kommentator J.R. Dummelow, sê dat die profesieë in die boek Daniël “in werklikheid geskiedenis is wat deur die skrywer onder die skyn van eertydse voorspellings aangebied word”. Deur dit te sê, ignoreer hulle weer eens die getuienis van Jesus Christus self. Jesus het gewaarsku teen wat hy beskryf het as “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak, waarvan daar deur middel van die profeet Daniël gespreek is” (Matteus 24:15). Is dit redelik vir ’n Christen om te glo dat Jesus Christus self medepligtig sou wees aan bedrog—dat hy geskiedenis wat as profesie vermom is, sou ondersteun? Beslis nie.

Maak dit enige verskil?

“Maar maak dit werklik enige verskil wie die boeke van die Bybel geskryf het?” vra jy dalk. Ja, dit maak ’n baie groot verskil. Hoeveel waarde sal jy heg aan ’n dokument wat na bewering die testament van ’n vriend is, as dit aan die lig kom dat hy dit in werklikheid nie geskryf het nie? Gestel deskundiges sê vir jou dat dit ’n vervalsing is—dat welmenende vriende neergeskryf het wat hulle gedink het jou vriend se wense is. Sou dit nie die dokument sy waarde laat verloor nie? Sou jy waarlik kon vertrou dat dit werklik jou vriend se wense bevat?

Dit is dieselfde met die Bybel. Geen wonder dat soveel mense—selfs dié wat beweer dat hulle Christene is—meen dat hulle kan ignoreer wat die Bybel oor sake soos eerlikheid, geslagsedelikheid, ensovoorts sê nie. Hoe dikwels het jy al mense minagtend iets hoor sê soos: “Ag, maar dit is in die Ou Testament!”—asof dit beteken dat die gedeelte nie juis waarde het nie. En dit ondanks die feit dat die apostel Paulus die sogenaamde Ou Testament beskryf het as “die heilige geskrifte” wat “deur God geïnspireer” is.

“’n Mens kan tog sekerlik nie die bewyse van alle deskundiges en geleerdes bloot ignoreer nie”, maak jy dalk beswaar. Natuurlik nie! Ons is byvoorbeeld dank verskuldig aan eerlike vakkundiges wat ons gehelp het om die oorspronklike teks van die Bybel te identifiseer. Toegegee, geringe foute het in die teks van die Bybel ingesluip terwyl dit deur die eeue heen herhaaldelik oorgeskryf is. Maar onthou: Om te erken dat geringe foute in kopieë van die Bybelteks  ingesluip het, is baie anders as om die hele Bybel as ’n versinsel van mense te verwerp.

Behou geloof in “die heilige geskrifte”

Ons is dank verskuldig aan eerlike vakkundiges wat ons gehelp het om die oorspronklike teks van die Bybel te identifiseer

Net voordat Paulus gesê het dat die Bybel deur God geïnspireer is, het hy vir Timoteus vertel waarom so ’n geïnspireerde verslag noodsaaklik is. “In die laaste dae”, het hy gesê, sal “goddelose mense en bedrieërs . . . voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word” (2 Timoteus 3:1, 13). Reeds in Paulus se dag het oënskynlik ‘wyse en intellektuele mense’ “oorredende argumente” gebruik om mense te mislei en hulle geloof in Jesus Christus te laat verswak (1 Korintiërs 1:18, 19; Kolossense 2:4, 8). Die apostel Paulus wou Timoteus teen hulle invloed beskerm en het hom aangespoor om ‘te bly in die dinge wat hy van kleintyd af geleer het uit die heilige geskrifte’ wat deur God voorsien is.—2 Timoteus 3:14, 15.

Dit is net so belangrik dat jy dit gedurende hierdie “laaste dae” doen. Moenie die gevaar onderskat dat jy mislei kan word deur wat dikwels uiters “oorredende argumente” van baie slim mense is nie. Beskerm jou eerder, soos die eerste-eeuse Christene, deur ten volle te vertrou op wat jy leer uit die Bybel—waarlik die geïnspireerde Woord van God.

Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om geloof in die Bybel op te bou. Hulle kan jou byvoorbeeld wys hoe Bybelbeginsels deur die geskiedenis heen heeltemal betroubaar was; hoe die Bybel ooreenstem met die wetenskap wanneer dit wetenskaplike sake aanroer; hoe dit van die begin tot die einde ’n harmoniese geheel vorm; hoe die profesieë daarin altyd vervul word—en nog baie, baie meer. Skryf gerus aan die uitgewers van hierdie tydskrif vir meer inligting wat al miljoene opregtes van hart gehelp het om te sien dat die Bybel werklik die Woord van God is.