Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Leer jou kinders

Ragab het op die nuus ag geslaan

Ragab het op die nuus ag geslaan

KOM ons stel ons voor dat dit omtrent 3 500 jaar gelede is. Ons is in die stad Jerigo, in die land Kanaän. ’n Meisie met die naam Ragab woon in hierdie stad. Sy is gebore nadat Moses die Israeliete uit slawerny in Egipte en toe op droë grond deur die Rooi See gelei het! Daar is geen radio’s, televisies of Internet nie, maar Ragab weet van hierdie wonderwerk—al het dit gebeur baie ver van waar sy woon. Weet jy hoe sy daarvan gehoor het?— *

Reisigers het ongetwyfeld die verhaal van hierdie wonderwerke vertel. Terwyl Ragab grootgeword het, het sy onthou wat Jehovah vir sy volk gedoen het. Dan hoor sy ander verbasende dinge oor die Israeliete. Ná 40 jaar in die wildernis het hulle Kanaän binnegegaan en help God hulle om al hulle vyande te verslaan. Nou hoor Ragab dat die Israeliete net oorkant Jerigo aan die ander kant van die Jordaanrivier kamp opgeslaan het!

Een aand kom twee vreemdelinge na Ragab toe omdat hulle weet dat sy by ’n plek werk waar besoekers kan oornag. Sy laat hulle dus daar bly. Gedurende die aand hoor die koning van Jerigo dat Israelitiese spioene in Jerigo is en dat hulle na die huis gegaan het waar Ragab werk. Dan stuur die koning boodskappers na Ragab, en hulle beveel haar om die mans wat na haar toe gekom het, uit te bring. Weet jy wat Ragab reeds uitgevind het en wat sy toe gedoen het?—

Wel, selfs voordat die koning se boodskappers daar aangekom het, het Ragab uitgevind dat haar besoekers Israelitiese spioene is. Daarom het sy hulle op die dak weggesteek, en nou sê sy vir die koning se boodskappers: “Ja, die manne het na my toe gekom . . . En toe die poort teen donker toegemaak moes word, het die manne uitgegaan.” Ragab spoor hulle aan: “Sit hulle gou agterna.”

Hoekom dink jy het Ragab die spioene beskerm?— Sy verduidelik vir hulle hoekom: “Ek weet dat Jehovah beslis die land aan julle sal gee . . . Want ons  het gehoor hoe Jehovah die waters van die Rooi See voor julle laat opdroog het toe julle uit Egipte uitgetrek het.” Sy het ook gehoor van ander oorwinnings wat God Israel oor hulle vyande gegee het.

Jehovah was beslis bly dat Ragab die spioene beskerm het, soos die Bybel in Hebreërs 11:31 vir ons sê. Hy was ook bly toe sy die spioene gesmeek het: ‘Ek was goedhartig teenoor julle; belowe nou asseblief dat julle, wanneer Jerigo ingeneem word, my vader en moeder en my broers en susters sal red.’ Die spioene belowe om dit te doen as Ragab hulle instruksies volg. Weet jy wat hierdie instruksies is?—

‘Neem hierdie rooi tou en bind dit in jou venster’, sê die spioene, ‘en versamel al jou familielede by jou in die huis. As jy dit doen, sal almal daar veilig wees.’ Ragab doen presies wat die spioene vir haar sê. Weet jy wat volgende gebeur?—

Die Israeliete kom tot buite die mure van Jerigo. Ses dae lank marsjeer hulle elke dag een keer in stilte om die stad. Op die sewende dag marsjeer hulle sewe keer om die stad en begin dan hard skreeu. Die muur stort inmekaar—behalwe die deel waar die rooi tou in die venster hang! Ragab en haar gesin is gered.—Josua 2:1-24; 6:1-5, 14, 15, 20-25.

Wat kan ons leer uit wat Ragab gedoen het?—Sy het ag geslaan op die nuus oor dinge wat God gedoen het om sy volk te beskerm, en sy het hulle ook gehelp toe sy die kans gehad het. Ja, Ragab het besluit om Jehovah saam met sy volk te dien! Sal jy dieselfde doen?—Ons bid dat jy sal.

^ par. 3 As jy saam met kinders lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en hulle die vraag te vra.