Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sy het goeie oordeel aan die dag gelê

Sy het goeie oordeel aan die dag gelê

 Volg hulle geloof na

Sy het goeie oordeel aan die dag gelê

ABIGAIL het die paniek in die jong man se oë gesien. Hy was vreesbevange—en met goeie rede. Groot gevaar het gedreig. Op daardie oomblik was omtrent 400 krygsmanne in aantog, vasbeslote om elke man in die huishouding van Nabal, Abigail se man, dood te maak. Waarom?

Dit het alles met Nabal begin. Hy het soos gewoonlik hardvogtig en onbeskof opgetree. Maar dié keer het hy die verkeerde man beledig—die geliefde bevelvoerder van ’n lojale en geoefende groep krygsmanne. Een van Nabal se jong werkers, dalk ’n herder, het nou na Abigail gekom, in die vertroue dat sy met ’n plan vorendag sou kom om hulle te red. Maar wat kon een vrou teen ’n hele leër doen?

Kom ons vind eers ’n bietjie meer uit omtrent hierdie merkwaardige vrou. Wie was Abigail? Hoe het hierdie krisis ontstaan? En wat kan ons uit haar voorbeeld van geloof leer?

Sy het “goeie oordeel aan die dag gelê en was pragtig van gestalte”

Abigail en Nabal het nie goed by mekaar gepas nie. Nabal kon nouliks ’n beter vrou gekies het, terwyl Abigail getroud was met ’n man wat nouliks slegter kon wees. Die man het wel geld gehad. Hy het homself dus as baie belangrik beskou, maar wat het ander van hom gedink? Dit sal moeilik wees om ’n Bybelkarakter te vind wat in erger terme beskryf word. Sy naam op sigself beteken “verstandeloos”, of “dwaas”. Het sy ouers hom hierdie naam by geboorte gegee, of was dit ’n bynaam wat hy later gekry het? Hoe dit ook al sy, hy het sy naam gestand gedoen. Nabal was “hardvogtig en sleg in sy handelinge”. Hy was ’n bullebak en ’n dronkaard, en die meeste mense was bang vir hom en het niks van hom gehou nie.—1 Samuel 25:2, 3, 17, 21, 25.

Abigail was heeltemal anders. Haar naam beteken “My vader het hom verheug”. Baie vaders is trots daarop om ’n pragtige dogter te hê, maar ’n wyse vader is baie gelukkiger as hy innerlike skoonheid in sy kind sien. Iemand wat met fisiese skoonheid geseën is, besef alte dikwels nie die belangrikheid daarvan om eienskappe soos goeie oordeel, wysheid, moed of geloof aan te kweek nie. Maar nie Abigail nie. Die Bybel sê: “[Sy] het goeie oordeel aan die dag gelê en was pragtig van gestalte.”—1 Samuel 25:3.

Vandag wonder party mense dalk waarom so ’n intelligente jong vrou met so ’n deugniet getrou het. Onthou dat baie huwelike in Bybeltye deur die ouers gereël is. In ander gevalle was die ouers se toestemming nog steeds as baie belangrik geag. Het Abigail se ouers hierdie huwelik goedgekeur, dit dalk selfs gereël, omdat hulle beïndruk was met Nabal se rykdom en aansien? Was armoede dalk die beweegrede? Hoe dit ook al sy, Nabal se geld het nie van hom ’n geskikte man gemaak nie.

Verstandige ouers lê hulle daarop toe om hulle kinders te leer dat die huwelik ’n eerbare reëling is. Hulle moedig nie hulle kinders aan om vir geld te trou nie en oefen ook nie druk op hulle uit om ’n kêrel of meisie te hê terwyl hulle nog te jonk is om die rolle en verantwoordelikhede van volwassenes te vervul nie (1 Korintiërs 7:36). Maar dit was te laat vir Abigail om hieraan te dink. Ongeag die rede, sy was getroud met Nabal  en was vasbeslote om die beste van ’n slegte saak te maak.

“Hy het teen hulle uitgevaar”

Nabal het so pas Abigail se situasie moeiliker as ooit tevore gemaak. Die man wat hy beledig het, was niemand anders as Dawid nie. Hy was die getroue kneg van Jehovah wat deur die profeet Samuel gesalf is, wat getoon het dat Dawid deur God gekies is om Saul as koning op te volg (1 Samuel 16:1, 2, 11-13). Dawid, wat van die jaloerse en moorddadige koning Saul gevlug het, het saam met sy 600 lojale krygsmanne in die wildernis gebly.

Nabal het in Maon gewoon, maar in die nabygeleë Karmel gewerk en moontlik grond daar besit. * Hierdie dorpe was na aan grasryke hooglande geleë wat geskik was vir skaapboerdery, en Nabal het 3 000 skape gehad. Maar rondom hierdie gebied was die land wild. In die suide het die uitgestrekte wildernis Paran gelê. In die ooste het die roete na die Soutsee deur onherbergsame streke met baie klowe en grotte geloop. In hierdie streke was dit vir Dawid en sy manne ’n stryd om aan die lewe te bly en moes hulle ongetwyfeld vir kos jag en baie ontberinge verduur. Hulle het dikwels die jong manne teëgekom wat as herders vir die ryk Nabal gewerk het.

Hoe het hierdie hardwerkende krygsmanne die herders behandel? Dit sou maklik gewees het om nou en dan ’n skaap te vat, maar hulle het dit nie gedoen nie. Inteendeel, hulle was soos ’n beskermende muur om Nabal se kuddes en knegte (1 Samuel 25:15, 16). Skape en herders het met baie gevare te kampe gehad. Destyds was daar baie roofdiere. Ook was Israel se suidelike grens daar naby; gevolglik het uitlandse rowerbendes en diewe hulle dikwels aangeval. *

Dit moes ’n reusetaak gewees het om al daardie manne in die wildernis van voedsel te voorsien. Daarom het Dawid eendag tien boodskappers na Nabal gestuur om hulp te vra. Dawid het die tyd mooi gekies. Dit was tydens die skaapskeerdery, ’n vrolike tyd wanneer vrygewigheid en feesviering gebruiklik was. Dawid het ook sy woorde goed gekies; hy het beleefde terme en aanspreekvorme gebruik. Hy het selfs die woorde “u seun Dawid” met verwysing na homself gebruik, moontlik om eerbiedig te erken dat Nabal ouer as hy was. Hoe het Nabal gereageer?—1 Samuel 25:5-8.

Hy was woedend! “Hy het teen hulle uitgevaar”, het die jong man wat aan die begin genoem is, die situasie aan Abigail verduidelik. Die suinige Nabal het luidkeels gekla oor sy kosbare brood, water en geslagte vleis. Hy het Dawid as onbelangrik uitgekryt en hom met ’n wegloperkneg vergelyk. Nabal se beskouing was dalk soortgelyk aan dié van Saul, wat ’n haat vir Dawid gehad het. Nie een van die twee het Jehovah se beskouing gehad nie. God was lief vir Dawid en het hom nie as ’n opstandige slaaf beskou nie, maar as die toekomstige koning van Israel.—1 Samuel 25:10, 11, 14.

Toe Dawid se boodskappers aan hom terugrapporteer, het hy briesend kwaad geword. “Gord elkeen sy swaard aan!” het hy beveel.  Dawid het hom gewapen en met 400 van sy manskappe uitgetrek. Hy het gesweer dat hy elke man in Nabal se huishouding sou uitwis (1 Samuel 25:12, 13, 21, 22). Dawid se toorn was verstaanbaar, maar die manier waarop hy daaraan uiting wou gee, was verkeerd. Die Bybel sê: “’n Mens se gramskap bewerk nie God se regverdigheid nie” (Jakobus 1:20). Maar hoe kon Abigail haar huishouding red?

“Mag jou verstandigheid geseënd wees”

Ons het in sekere sin reeds gesien dat Abigail die eerste stap gedoen het om hierdie verskriklike onreg reg te stel. In teenstelling met haar man, Nabal, was sy bereid om te luister. Die jong kneg het gesê dat Nabal “’n te groot deugniet is om met hom te praat” (1 Samuel 25:17). * Ongelukkig het Nabal se hoë dunk van homself hom onwillig gemaak om te luister. Sulke hooghartigheid is selfs vandag nog baie algemeen. Maar die jong man het geweet dat Abigail anders is, en dit is ongetwyfeld waarom hy haar met hierdie probleem genader het.

Abigail het gou gedink en opgetree. “Dadelik het Abigail haar gehaas”, lees ons. In hierdie een verslag vind ons dat dieselfde werkwoord, “om te haas”, vier keer met betrekking tot hierdie vrou gebruik word. Sy het ’n milddadige geskenk vir Dawid en sy manne voorberei. Dit het brood, wyn, skaapvleis, geroosterde graan, rosynekoeke en vyekoeke ingesluit. Abigail was ongetwyfeld deeglik bewus van wat sy gehad het en was heeltemal in beheer van haar huishoudelike pligte, baie soos die bekwame vrou wat later in die boek Spreuke beskryf word (Spreuke 31:10-31). Sy het die voedsel met party van haar knegte vooruitgestuur en toe op haar eie agterna gekom. “Maar”, lees ons, “vir haar man Nabal het sy niks gesê nie.”—1 Samuel 25:18, 19.

Beteken dit dat Abigail teen haar man se regmatige hoofskap in opstand gekom het? Nie in die minste nie. Nabal het goddeloos opgetree teen ’n gesalfde kneg van Jehovah, ’n daad wat waarskynlik tot die dood van baie onskuldige lede van Nabal se huishouding sou lei. Sou Abigail, as sy nie opgetree het nie, dalk ’n aandeel aan haar man se skuld gehad het? Hoe dit ook al sy, sy moes haar onderdanigheid aan haar God bo onderdanigheid aan haar man stel.

Kort voor lank het Abigail Dawid en sy manne teëgekom. Weer eens het sy haar gehaas, dié keer om van haar esel af te klim en haar voor Dawid neer te buig (1 Samuel 25:20, 23). Toe het sy haar hart uitgestort in ’n lang, kragtige pleidooi namens haar man en haar huishouding. Wat het haar woorde doeltreffend gemaak?

Sy het verantwoordelikheid vir die probleem op haar geneem en Dawid gevra om haar persoonlik te vergewe. Sy het realisties erken dat haar man so verstandeloos is soos sy naam impliseer, waardeur sy dalk te kenne gegee het dat dit benede Dawid se waardigheid sou wees om so ’n man te bestraf. Sy het haar vertroue in Dawid as Jehovah se verteenwoordiger uitgespreek en erken dat hy “die oorloë van Jehovah” voer. Sy het ook aangedui dat sy weet van Jehovah se belofte in verband met Dawid en die koningskap, want sy het gesê: “Jehovah [sal] u beslis as leier oor Israel aanstel.” Verder het sy Dawid aangespoor om niks te doen wat bloedskuld oor hom kan bring of wat later “’n rede tot wankeling”  kan word nie—klaarblyklik met verwysing na ’n skuldige gewete (1 Samuel 25:24-31). Vriendelike, treffende woorde!

En hoe het Dawid gereageer? Hy het aanvaar wat Abigail gebring het en gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet! En mag jou verstandigheid geseënd wees, en mag jy geseënd wees wat my vandag daarvan weerhou het om bloedskuldig te word.” Dawid het haar geprys omdat sy haar moedig gehaas het om hom te ontmoet, en hy het erken dat sy hom van bloedskuld weerhou het. “Gaan in vrede op na jou huis”, het hy vir haar gesê, en hy het nederig bygevoeg: “Ek het na jou stem geluister.”—1 Samuel 25:32-35.

“Hier is u slavin”

Nadat hulle uitmekaar gegaan het, kon Abigail dit nie verhelp om aan daardie ontmoeting te dink nie; ook kon sy nie anders as om die verskil op te merk tussen die getroue, goedhartige Dawid en die bullebak met wie sy getroud was nie. Maar sy het nie daaroor bly tob nie. Ons lees: “Later het Abigail by Nabal gekom.” Ja, sy het na haar man toe teruggekeer, net so vasbeslote soos altyd om haar rol as sy vrou na die beste van haar vermoë te vervul. Sy moes hom vertel van die geskenk wat sy vir Dawid en sy manne gegee het. Hy het die reg gehad om te weet. Sy moes hom ook vertel van die gevaar wat afgeweer is—voordat hy, tot sy groter skande, iewers anders daarvan te hore sou kom. Maar sy kon hom nie nou vertel nie. Hy het soos ’n koning feesgevier en was smoordronk.—1 Samuel 25:36.

Sy het weer eens moed sowel as goeie oordeel aan die dag gelê deur tot die volgende oggend te wag, toe die invloed van die wyn afgeneem het. Hy sou nugter genoeg wees om haar te verstaan, maar ook in ’n gevaarliker bui. Nietemin het sy hom genader en hom die hele storie vertel. Sy het ongetwyfeld verwag dat hy in woede sou uitbars, dalk selfs gewelddadig sou raak. In plaas daarvan het hy net roerloos daar gesit.—1 Samuel 25:37.

Wat was fout met die man? “Sy hart het binne hom gesterf, en hy het soos ’n klip geword.” Dalk het hy ’n soort beroerte gekry. Maar sy einde het tien dae later gekom—en nie om suiwer mediese redes nie. “Jehovah [het] Nabal getref, sodat hy gesterf het” (1 Samuel 25:38). Met hierdie regverdige teregstelling het Abigail se lang nagmerrie van ’n huwelik tot ’n einde gekom. Hoewel Jehovah nie vandag met wonderdadige teregstellings intree nie, dien hierdie verslag as ’n gepaste herinnering dat geen geval van tirannie of geweld in die gesin onopgemerk bly nie. Hy sal altyd op sy bestemde tyd reg laat geskied.

Abigail is nie net van ’n ongelukkige huwelik bevry nie, maar sy sou nog ’n seën ontvang. Toe Dawid van Nabal se dood te hore kom, het hy boodskappers gestuur om haar te vra om met hom te trou. “Hier is u slavin”, het sy geantwoord, “as ’n diensmeisie om die voete van die knegte van my heer te was.” Dit is duidelik dat sy nie verander het omdat sy Dawid se vrou sou word nie; sy het selfs aangebied om ’n kneg vir sy knegte te wees! Dan lees ons weer dat sy haar gehaas het, dié keer om gereed te maak om na Dawid toe te gaan.—1 Samuel 25:39-42.

Dit was nie ’n sprokieseinde nie; Abigail se lewe saam met Dawid sou nie altyd maklik wees nie. Dawid was reeds getroud met Ahinoam, en veelwywery het destyds beslis unieke uitdagings vir getroue vroue gebied. * En Dawid was nog nie koning nie; daar sou struikelblokke en ontberinge wees voordat hy Jehovah in daardie hoedanigheid kon dien. Maar terwyl Abigail Dawid op sy lewensweg gehelp en ondersteun het, en uiteindelik vir hom ’n seun gebaar het, het sy geleer dat sy ’n man het wat haar waardeer en beskerm. By een geleentheid het hy haar selfs van ontvoerders gered! (1 Samuel 30:1-19). Dawid het sodoende Jehovah God nagevolg, wat sulke verstandige, moedige en getroue vroue liefhet en waardeer.

[Voetnote]

^ par. 13 Dit was nie die welbekende berg Karmel in die verre noorde nie, maar ’n dorp aan die rand van die suidelike wildernis.

^ par. 14 Dawid het waarskynlik gevoel dat hulle ’n diens aan Jehovah God verrig deur die plaaslike grondeienaars en hulle kuddes te beskerm. Dit was destyds Jehovah se voorneme dat die afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob in daardie land woon. Om die land teen invallers en rowerbendes te beskerm, was dus ’n vorm van heilige diens.

^ par. 19 Die frase wat die jong man gebruik het, beteken letterlik “’n Belialskind (niksnuts)”. In ander Bybelvertalings sluit hierdie sin ’n beskrywing van Nabal in as ’n man “wat na niemand luister nie” en kom tot die slotsom dat “dit nie help om met hom te praat nie”.

^ par. 30 Sien die artikel “Keur God veelwywery goed?” op bladsy 30.

[Prent op bladsy 19]

In teenstelling met haar man was Abigail ’n goeie luisteraar

[Prent op bladsy 20]

Abigail het nederigheid, moed en verstandigheid aan die dag gelê toe sy met Dawid gepraat het