Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hy het uit sy foute geleer

Hy het uit sy foute geleer

 Volg hulle geloof na

Hy het uit sy foute geleer

JONA het gewens hy kon die verskriklike geluide ignoreer. Dit was nie net die hewige wind, wat deur die skip se takelwerk geloei het nie; en dit was ook nie net die reusegolwe, wat teen die kante van die vaartuig geslaan en elke plank laat kraak en kreun het nie. Nee, die uitroepe van die seemanne, die kaptein en sy bemanning, terwyl hulle sukkel om die skip drywend te hou, was vir Jona baie erger. Jona was seker dat hierdie manne binnekort sou sterf—en dit was alles sy skuld!

Wat het Jona in so ’n benarde situasie laat beland? Hy het ’n ernstige fout begaan in sy optrede teenoor sy God, Jehovah. Wat het hy gedoen? Was dit te laat om iets daaromtrent te doen? Ons kan baie uit die antwoorde leer. Jona se verhaal help ons byvoorbeeld om te sien hoe selfs persone met ware geloof foute kan maak—en hoe hulle sake kan regstel.

’n Profeet uit Galilea

Wanneer mense aan die man Jona dink, is hulle dikwels geneig om op sy negatiewe eienskappe te konsentreer, soos die ongehoorsaamheid of selfs die hardkoppigheid waaraan hy hom ’n paar keer skuldig gemaak het. Maar daar steek baie meer in die man. Onthou, Jona is gekies om as ’n profeet van Jehovah God te dien. Jehovah sou hom nie vir so ’n gewigtige verantwoordelikheid gekies het as hy ontrou of onregverdig was nie.

In 2 Konings 14:25 leer ons iets omtrent Jona se agtergrond. Hy was afkomstig van Gat-Hefer, net vier kilometer vanaf Nasaret, die dorp waar Jesus Christus ongeveer agt eeue later sou grootword. * Jona het gedurende die bewind van koning Jerobeam II van die tienstammeryk van Israel as profeet gedien. Dit was lank ná Elia se tyd; sy opvolger, Elisa, het gedurende die bewind van Jerobeam se vader gesterf. Hoewel Jehovah hierdie manne gebruik het om Baälaanbidding uit te wis, het Israel weer willens en wetens afgedwaal. Die land was nou onder die invloed van ’n koning wat “bly doen [het] wat sleg was in Jehovah se oë” (2 Konings 14:24). Jona se diens kon dus nie maklik of aangenaam gewees het nie. Tog het hy dit getrou uitgevoer.

Maar eendag het Jona se lewe ’n dramatiese wending geneem. Hy het ’n toewysing van Jehovah ontvang wat vir hom uiters moeilik was. Wat het Jehovah hom gevra om te doen?

“Staan op, gaan na Nineve”

Jehovah het vir Jona gesê: “Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig daarteen dat hulle slegtheid voor my opgekom het” (Jona 1:2). Dit is nie moeilik om te sien waarom hierdie toewysing moontlik oorweldigend gelyk het nie. Nineve het ongeveer 800 kilometer na die ooste gelê, ’n reis wat oor land waarskynlik sowat ’n maand te voet sou neem. Maar die ontberinge van hierdie reis het dalk na die maklike deel van die taak gelyk. In  Nineve moes Jona Jehovah se oordeelsboodskap oordra aan die Assiriërs, wat daarvoor berug was dat hulle gewelddadig, selfs wreed, was. Jona het min reaksie onder God se volk gesien; wat kon hy dan hoop om onder hierdie heidene te sien? Hoe sou ’n enkele kneg van Jehovah vaar in die ontsaglike Nineve, wat later “die stad van bloedvergieting” genoem is?—Nahum 3:1, 7.

Dalk het sulke gedagtes by Jona opgekom. Ons weet nie. Wat ons wel weet, is dat hy gevlug het. Jehovah het hom in ’n oostelike rigting gestuur; Jona het in ’n westelike rigting gegaan, so ver wes as wat hy kon. Hy het koers gekies na die kus, na ’n hawestad genaamd Joppe, waar hy ’n skip onderweg na Tarsis gevind het. Party geleerdes sê dat Tarsis in Spanje was. As dit die geval is, was Jona van plan om ongeveer 3 500 kilometer van Nineve af te vlug. So ’n reis na die verste punt van die Groot See—soos die Middellandse See destyds genoem is—kon tot ’n jaar neem! Dit is hoe vasbeslote Jona was om weg te kom van die toewysing wat Jehovah hom gegee het!

Beteken dit dat ons Jona as ’n lafaard kan bestempel? Ons moet hom nie te gou oordeel nie. Soos ons sal sien, kon hy merkwaardige moed aan die dag lê. Maar soos ons almal was Jona ’n onvolmaakte mens wat met baie foute geworstel het (Psalm 51:5). Wie van ons het nog nooit met vrees geworstel nie?

Dit voel dalk soms vir ons of God ons vra om iets te doen wat vir ons moeilik, selfs onmoontlik, lyk. Miskien is dit vir ons baie moeilik om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, soos daar van Christene verwag word (Matteus 24:14). Vir ons is dit maar alte maklik om die diepgaande waarheid te vergeet wat Jesus geuiter het: “By God is alles moontlik” (Markus 10:27). Die feit dat ons hierdie waarheid soms uit die oog verloor, kan ons help om Jona se probleem te verstaan. Maar wat was die gevolge van Jona se besluit om te vlug?

Jehovah dissiplineer sy eiesinnige profeet

Ons kan ons net voorstel hoe Jona hom op daardie vaartuig, waarskynlik ’n Fenisiese vragskip, gemaklik gemaak het. Hy het toegekyk hoe die kaptein en sy bemanning werskaf om hulle skip gereed en uit die hawe te kry. Terwyl die kuslyn stadigaan verdwyn het, het Jona moontlik gehoop dat hy weggekom het van die gevaar wat hy so gevrees het. Maar skielik het die weer verander.

Sterk winde het die see opgeswiep tot ’n siedende,  bruisende watermassa, met golwe wat moontlik selfs hedendaagse skepe sou verdwerg. Hoe lank het dit geneem voordat daardie houtskip verskriklik klein en hulpeloos gelyk het, verlore in ’n see van toringhoë golwe en diep laagtes? Was Jona op dié stadium bewus van wat hy later geskryf het—dat ‘Jehovah ’n sterk wind op die see gewerp het’? Dit is moeilik om te sê. Maar hy het wel gesien hoe die matrose tot hulle verskillende gode begin uitroep, en hy het geweet dat daar geen hulp uit daardie oord sal kom nie. Sy verslag sê: “Die skip was op die punt om te vergaan” (Jona 1:4; Levitikus 19:4). En hoe kon Jona bid tot die God van wie hy wegvlug?

Jona, wat magteloos gevoel het om te help, het afgegaan na die ruim van die skip en ’n plek gevind om te lê. Daar het hy vas aan die slaap geraak. * Die kaptein het Jona gevind, hom wakker gemaak en hom aangespoor om tot sy god te bid, soos al die ander gedoen het. Oortuig dat daar iets bonatuurliks omtrent hierdie storm is, het die matrose die lot gewerp om te sien wie van die mense aan boord die oorsaak van hulle probleme is. Jona se hart het ongetwyfeld in sy skoene gesak toe die lot die een persoon na die ander uitskakel. Weldra is die waarheid onthul. Jehovah het die storm, sowel as die lot, gerig op een man—Jona!—Jona 1:5-7.

Jona het die matrose alles vertel. Hy is ’n kneg van die almagtige God, Jehovah. Dít is die God van wie hy vlug en wat hy aanstoot gegee het, waardeur hy hulle almal aan hierdie verskriklike gevaar blootgestel het. Die manne was geskok; Jona kon die vrees in hulle oë sien. Hulle het hom gevra wat hulle met hom moet doen om die skip en hulle lewe te red. Wat het hy gesê? Jona het moontlik gesidder by die gedagte om in daardie koue, onstuimige see te verdrink. Maar hoe kon hy al hierdie manne na so ’n dood stuur terwyl hy geweet het dat hy hulle kan red? Hy het dus gesê: “Tel my op en gooi my in die see, en die see sal vir julle stil word; want ek weet dat hierdie groot storm weens my oor julle gekom het.”—Jona 1:12.

Dit is nouliks die woorde van ’n lafaard. Dit het ongetwyfeld Jehovah se hart verbly om Jona se dapper, selfopofferende gees in hierdie oomblik van benoudheid te sien. Hier sien ons Jona se geloof op sy beste. Ons kan dit vandag navolg deur ander se welsyn bo ons eie te stel (Johannes 13:34, 35). Gee ons, wanneer ons iemand sien wat hulp nodig het, hetsy dit fisies, emosioneel of geestelik is, onselfsugtig van onsself om hulle te help? Hoe behaag ons Jehovah tog wanneer ons dit doen!

Dit het die matrose miskien ook diep geraak, want hulle het aanvanklik geweier om te doen wat hy sê! Hulle het eerder alles moontlik gedoen om deur die storm te kom—maar tevergeefs. Die storm het net erger geword. Uiteindelik het hulle gesien dat hulle geen keuse het nie. Terwyl hulle tot Jona se God, Jehovah, geroep het om aan hulle barmhartigheid te bewys, het hulle die man opgetel en hom in die see gegooi.—Jona 1:13-15.

Jona ontvang barmhartigheid en word gered

Jona het in die woeste golwe geval. Hy het miskien gespartel in ’n poging om nie te sink nie en deur al die skuim en die sproei van die kolkende water die skip vinnig sien wegbeweeg. Maar die kragtige golwe het oor hom gebreek en hom ondertoe gedwing. Hy het al hoe dieper gesink en besef dat daar vir hom geen hoop is nie.

Jona het later beskryf hoe hy op hierdie stadium gevoel het. Verskillende beelde het deur sy gedagtes geflits. Hy was hartseer om te dink dat hy nooit weer Jehovah se pragtige tempel in Jerusalem sal sien nie. Dit het vir hom gevoel of hy tot in die dieptes van die see sak, naby die grondveste van die berge, waar hy in  die seegras verstrengel geraak het. Dit het gelyk asof dít sy kuil, sy graf, sou wees.—Jona 2:2-6.

Maar wag! Iets het naby hom beweeg—’n ontsaglike, donker voorwerp, ’n lewende wese. Dit het voor hom opgedoem en toe op hom afgepyl. ’n Groot mond het oopgegaan en hom ingesluk!

Dit is beslis klaarpraat met hom. Maar Jona het iets verbasends besef. Hy het nog gelewe! Hy is nie verbrysel, verteer of selfs versmoor nie. Nee, hy het nog asemgehaal, hoewel hy in iets was wat in werklikheid sy graf moes gewees het. Jona is stadigaan met ontsag vervul. Sy God, Jehovah, het ongetwyfeld “’n groot vis beskik om Jona in te sluk”. *Jona 1:17.

Minute het verloop en later ure geword. Daar, in die diepste duisternis waarin hy al ooit was, het Jona tyd gehad om te dink en tot Jehovah God te bid. Sy gebed, wat in sy geheel in die tweede hoofstuk van Jona opgeteken is, is insiggewend. Dit toon dat Jona ’n uitgebreide kennis van die Skrif gehad het, want dit verwys dikwels na die Psalms. Dit openbaar ook ’n hartverblydende eienskap: dankbaarheid. Jona het afgesluit: “Wat my betref, met die stem van danksegging sal ek offerandes aan u bring. Wat ek plegtig belowe het, sal ek betaal. Redding behoort aan Jehovah.”—Jona 2:9.

Jona het uitgevind dat Jehovah aan enigiemand, op enige plek en te eniger tyd redding kan verskaf. Selfs daar, “in die ingewande van die vis”, het Jehovah sy verontruste kneg gevind en gered (Jona 1:17). Slegs Jehovah kan ’n man drie dae en drie nagte lank in die maag van ’n groot vis lewend en gesond hou. Dit is vandag vir ons goed om te onthou dat Jehovah ‘die God is in wie se hand jou asem is’ (Daniël 5:23). Ons het elke asemteug, ons hele bestaan, aan hom te danke. Is ons dankbaar? Is ons dan nie ons gehoorsaamheid aan Jehovah verskuldig nie?

Wat van Jona? Het hy geleer om sy dankbaarheid teenoor Jehovah te toon deur gehoorsaam te wees? Ja, hy het. Ná drie dae en drie nagte het die vis Jona tot by die strand gebring en “Jona op die droë grond uitgebraak” (Jona 2:10). Stel jou voor—dit was op die ou end nie eens vir Jona nodig om strand toe te swem nie! Hy moes natuurlik sy weg van daardie strand af vind, waar dit ook al was. Sy dankbare gees is egter gou op die proef gestel. Jona 3:1, 2 sê: “Toe het die woord van Jehovah die tweede keer tot Jona gekom en gesê: ‘Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig daaraan die boodskap wat ek vir jou sê.’” Wat sou Jona doen?

Jona het nie gehuiwer nie. Ons lees: “Daarop het Jona opgestaan en na Nineve gegaan ooreenkomstig die woord van Jehovah” (Jona 3:3). Ja, hy was gehoorsaam. Dit is duidelik dat hy uit sy foute geleer het. Ook hierin moet ons Jona se geloof navolg. Ons almal sondig; ons almal maak foute (Romeine 3:23). Maar gooi ons tou op, of leer ons uit ons foute en volg ons dan ’n weg van gehoorsame diens aan God?

Het Jehovah Jona beloon vir sy gehoorsaamheid? Ja, hy het. Om maar een ding te noem, Jona het blykbaar later uitgevind dat daardie matrose behoue gebly het. Die storm het onmiddellik ná Jona se selfopofferende daad bedaar, en daardie matrose het “Jehovah grootliks begin vrees” en het ’n offerande aan hom gebring in plaas van aan hulle valse gode.—Jona 1:15, 16.

Daar was heelwat later ’n selfs groter beloning. Jesus het die tyd wat Jona in die reusagtige vis was, gebruik as ’n profetiese afbeelding van die tyd wat hy in die graf, of Sjeool, sou wees (Matteus 12:38-40). Hoe verheug sal Jona tog wees om van hierdie seën te hoor wanneer hy tot lewe op die aarde opgewek word! (Johannes 5:28, 29). Jehovah wil jou ook seën. Sal jy, soos Jona, uit jou foute leer en ’n gehoorsame, onselfsugtige gees openbaar?

[Voetnote]

^ par. 7 Jona se herkoms uit ’n Galilese dorp is opmerkenswaardig, want die Fariseërs het ewe verwaand van Jesus gesê: “Ondersoek en sien dat geen profeet uit Galilea verwek word nie” (Johannes 7:52). Baie vertalers en navorsers doen aan die hand dat die Fariseërs ’n omvattende veralgemening gemaak het dat geen profeet al ooit uit die geringe Galilea gekom het of ooit daaruit sal kom nie. As dit die geval is, het daardie manne die geskiedenis sowel as profesie geïgnoreer.—Jesaja 9:1, 2.

^ par. 17 Die Septuagint beklemtoon hoe diep Jona geslaap het deur by te voeg dat hy gesnork het. Maar ingeval ons Jona se slaap as ’n teken van onverskilligheid vertolk, moet ons onthou dat terneergedrukte mense soms oorweldig word deur die drang om te slaap. Gedurende Jesus se smartlike ure in die tuin van Getsemane het Petrus, Jakobus en Johannes ‘gesluimer van droefheid’.—Lukas 22:45.

^ par. 25 Toe die Hebreeuse woord vir “vis” in Grieks vertaal is, is dit weergegee met “seemonster” of “reusagtige vis”. Hoewel daar geen manier is om vas te stel watter soort seedier dit was nie, is daar al in die Middellandse See haaie opgemerk wat groot genoeg is om ’n mens heel in te sluk. Op ander plekke is daar baie groter haaie; die walvishaai kan tot 15 meter lank word—moontlik selfs langer!

 [Venster/Prent op bladsy 29]

Jona en die kritici

▪ Het die gebeure wat in die Bybelboek Jona opgeteken is, werklik plaasgevind? Die boek word al van die ou tyd af gekritiseer. In die moderne era van hoër kritiek word die boek dikwels verwerp—hetsy as ’n fabel, legende, mite of versinsel. ’n Negentiende-eeuse skrywer het vertel hoe ’n geestelike verduidelik het dat die verslag oor Jona en die reusagtige vis ’n vreemde allegorie is: Jona het in ’n hotel in Joppe met die naam “Die teken van die walvis” gebly. Toe hy nie genoeg geld gehad het om sy rekening te betaal nie, het die eienaar hom uitgegooi. So is Jona deur ’n walvis “ingeneem” en later “uitgebraak”! Dit lyk werklik of Bybelkritici meer vasbeslote is om Jona te verslind as wat die reusagtige vis was!

Waarom lok hierdie Bybelboek soveel skeptisisme uit? Dit beskryf wonderwerke. Dit wil voorkom of baie kritici wonderwerke met hierdie onbuigsame vooropgesette mening benader: Sulke dinge is onmoontlik. Maar is dié benadering werklik redelik? Vra jou af: ‘Glo ek die eerste sin van die Bybel?’ Dit sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Miljoene redelike mense regoor die wêreld tree verstandig op en aanvaar hierdie eenvoudige waarheid. Maar in sekere sin omvat hierdie stelling op sigself baie meer as enige van die wonderwerke wat later in die Bybel beskryf word.

Dink hieraan: Watter elemente in die boek Jona sal onmoontlik wees vir die Een wat die uitgestrekte sterrehemel en al die komplekse wonders van die lewe op aarde geskep het? Om ’n storm te veroorsaak? Om ’n man deur ’n reusagtige vis te laat insluk? Of om dieselfde vis die man weer te laat uitbraak? Sulke dinge sal glad nie moeilik wees vir ’n Persoon met onbeperkte krag nie.—Jesaja 40:26.

Verbasende dinge gebeur partykeer selfs sonder goddelike ingryping. Daar word byvoorbeeld gesê dat ’n matroos in 1758 in die Middellandse See van sy skip afgeval het en deur ’n haai ingesluk is. ’n Kanon is egter op die haai afgevuur. Die vis is getref en het die matroos uitgebraak, en hy is lewend en feitlik ongedeerd na veiligheid gebring. As dit waar is, sal ons die verhaal moontlik as merkwaardig, selfs verstommend, beskou—maar nie as ’n wonderwerk nie. Kan God nie sy krag gebruik om baie meer te doen nie?

Skeptici hou ook voet by stuk dat niemand drie dae lank in ’n vis kan lewe sonder om te versmoor nie. Maar mense was slim genoeg om uit te werk hoe om tenks met saamgeperste lug te vul en dit te gebruik om lank onder water asem te haal. Kon God nie sy oneindig groter krag en wysheid gebruik om Jona drie dae lank aan die lewe te hou en te laat asemhaal nie? Soos een van Jehovah se engele eenkeer vir Maria, die moeder van Jesus, gesê het: “By God sal geen verklaring ’n onmoontlikheid wees nie.”—Lukas 1:37.

Wat anders bewys dat die boek Jona akkurate geskiedenis bevat? Jona se beskrywing van die skip en sy bemanning is breedvoerig en realisties. In Jona 1:5 sien ons hoe die matrose voorwerpe oorboord gooi om die skip ligter te maak. Geskiedskrywers van die ou tyd en selfs rabbynse wette toon dat dit ’n algemene gebruik in slegte weer was. Jona se latere beskrywing van Nineve stem ook ooreen met geskiedkundige en argeologiese bewyse. Maar die belangrikste is dat Jesus Christus gesê het dat Jona se drie dae in die reusagtige vis sy tyd in die graf voorafgeskadu het (Matteus 12:38-40). Jesus se getuienis bevestig dat Jona se verhaal waar is.

“By God sal geen verklaring ’n onmoontlikheid wees nie.”—LUKAS 1:37

[Prent op bladsy 26]

Op Jona se aansporing het die matrose hom opgetel en in die see gegooi