Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe ver oos kon sendelinge gaan?

Hoe ver oos kon sendelinge gaan?

 Hoe ver oos kon sendelinge gaan?

MINDER as 30 jaar ná Jesus se dood het die apostel Paulus geskryf dat die goeie nuus in “die hele skepping” onder die hemel verkondig word (Kolossense 1:23). Sy stelling moenie letterlik opgeneem word, asof dit beteken dat elke mens wat toe gelewe het, die goeie nuus gehoor het nie. Maar Paulus se punt is duidelik: Christensendelinge het die predikingswerk wyd en syd in die destyds bekende wêreld gedoen.

Presies hoe ver het hulle moontlik gegaan? Die Skrif toon dat handelskepe dit vir Paulus moontlik gemaak het om sy predikingsbedrywighede weswaarts tot by Italië uit te brei. Hierdie moedige sendeling wou ook in Spanje gaan preek.—Handelinge 27:1; 28:30, 31; Romeine 15:28.

Maar wat van die teenoorgestelde rigting? Hoe ver oos het die vroeë Christenevangeliedienaars gegaan? Ons weet nie vir seker nie, aangesien die Bybel niks hieroor sê nie. Maar jy sal dalk verbaas wees om te sien hoe ver handelsroetes in die eerste eeu G.J. tussen die Middellandse Seegebied en die Ooste gestrek het. Die bestaan van hierdie roetes dui ten minste aan dat dit moontlik was om na die ooste te reis.

Aleksander se nalatenskap

Aleksander die Grote se veroweringsveldtogte het hom ooswaarts deur Babilonië en Persië en tot by die Pandjab, in Noord-Indië, geneem. Hierdie veldtogte het die Grieke in staat gestel om die kuslyne vanaf die mond van die Eufraat,  in die Persiese Golf, tot by die mond van die Indus te leer ken.

Speserye en wierook het kort voor lank van ver oorkant die Indiese Oseaan, via die Rooi See, in die Griekse wêreld ingestroom. Hierdie handel is eers deur die Indiese en Arabiese koopmanne beheer. Maar toe die Ptolemeërs van Egipte die geheime van die moeson ontrafel het, het hulle ook in die Indiese Oseaan-gebied begin handel dryf.

Van Mei tot September waai winde voortdurend uit die suidweste oor hierdie oseaan, en daarom kon skepe vanaf die mond van die Rooi See óf al langs die suidkus van Arabië óf reguit na Suid-Indië vaar. Tussen November en Maart waai die winde uit die teenoorgestelde rigting, wat die terugreis vergemaklik het. Arabiese en Indiese seemanne het kennis van hierdie winde honderde jare lank goed benut om heen en weer tussen Indië en die Rooi See te reis met vragte kassia, kaneel, nardus en peper.

Seeroetes na Aleksandrië en Rome

Toe die Romeine die lande onder die bewind van Aleksander se opvolgers verower het, het Rome die vernaamste afsetgebied vir kosbare goedere uit die Ooste geword—ivoor uit Afrika, wierook en mirre uit Arabië, speserye en edelstene uit Indië en selfs sy uit China. Skepe met hierdie handelsware het aangedoen by twee belangrike hawens aan die Egiptiese kus van die Rooi See—Berenice en Myos Hormos. Albei is deur oorlandse karavaanroetes na Koptos, langs die Nyl, bedien.

Van Koptos af is handelsware op die Nyl, die hoofverkeersweg van Egipte, na Aleksandrië vervoer, waar dit op skepe onderweg na Italië en elders gelaai is. ’n Alternatiewe roete na Aleksandrië was via ’n kanaal wat die bopunt van die Rooi See—naby die hedendaagse Suez—met die Nyl verbind het. Egipte en sy seehawens was natuurlik redelik naby aan die lande waar Jesus gepreek het en kon maklik van daar af bereik word.

Volgens die eerste-eeuse Griekse aardrykskundige Strabo het daar, in sy tyd, elke jaar 120 Aleksandrynse skepe vanaf Myos Hormos uitgevaar om met Indië handel te dryf. ’n Eerste-eeuse handleiding oor navigasie in hierdie gebied het tot ons dag toe behoue gebly. Dit is waarskynlik deur ’n Griekssprekende Egiptiese koopman geskryf tot voordeel van sy medekoopmanne. Wat kan uit hierdie ou boek geleer word?

Die handleiding, waarvan die Latynse titel,  Periplus Maris Erythraei (Reis oor die Eritrese See), dikwels gebruik word, beskryf seeroetes wat tot duisende kilometers suid van Egipte en tot by Zanzibar strek. In ’n oostelike rigting teken die skrywer afstande op, sowel as ankerplekke, handelsentrums, handelsware en die gesindheid van die plaaslike mense al langs die suidelike kus van Arabië, teen die weskus van Indië af na Sri Lanka en dan weer teen die ooskus van Indië op tot by die Ganges. Die boek se akkurate en duidelike beskrywings laat ’n mens tot die gevolgtrekking kom dat die skrywer die plekke wat hy beskryf, self besoek het.

Westerlinge in Indië

In Indië het Westerse koopmanne bekend gestaan as Yavanas. Volgens die Periplus was een van hulle gereelde bestemmings in die eerste eeu G.J. Muziris, wat naby die suidpunt van Indië geleë was. * Tamil-gedigte, wat uit die vroeë eeue G.J. dateer, verwys voortdurend na hierdie koopmanne. “Die pragtiggeboude skepe van die Yavanas het met goud gekom en met peper teruggegaan, en Muziris het weerklink van die geraas”, sê een gedig. In ’n ander een word ’n Suid-Indiese prins aangespoor om geurige wyn te drink wat die Yavanas gebring het. Van die ander Westerse goedere wat in Indië gewild geword het, was glasware, metale, koraal en tekstielware.

Argeoloë het baie bewyse van Westerse invoerware na Indië gevind. Byvoorbeeld, vondste by Arikamedu aan die suidooskus van Indië sluit fragmente in van Romeinse wynkruike en skottels waarop die stempels is van pottebakkers wat hierdie ware in Arezzo, Sentraal-Italië, vervaardig het. “Die verbeelding van die hedendaagse ondersoeker gaan op loop terwyl hy skerwe uit die spoelgrond van die Baai van Bengale haal waarop die name van vakmanne staan wie se pottebakkersoonde in die buitewyke van Arezzo geleë was”, sê een skrywer. Tallose Romeinse muntstukke, van goud en silwer, wat in Suid-Indië gevind is, lewer verdere bewys van die handel tussen die Middellandse Seegebied en Indië. Die meeste van hierdie muntstukke dateer uit die eerste eeu G.J. en het die kop van die Romeinse keisers Augustus, Tiberius en Nero daarop.

Die moontlikheid dat Romeinse burgers vaste handelskolonies in Suid-Indië gestig het, word vergroot deur die bewyse wat ’n eertydse kaart voorsien, waarvan ’n Middeleeuse kopie nog bestaan. Hierdie kaart, wat bekend staan as die Peutinger-kaart en glo die Romeinse wêreld  uitbeeld soos dit in die eerste eeu G.J. was, dui aan dat daar ’n tempel van Augustus by Muziris was. “Slegs onderdane van die Romeinse Ryk, waarskynlik dié wat in Muziris gewoon of baie tyd daar deurgebring het, sou so ’n gebou opgerig het”, sê die boek Rome’s Eastern Trade: International Commerce and Imperial Policy, 31 BC–AD 305.

Romeinse verslae noem die besoeke van ten minste drie Indiese afvaardigings na Rome gedurende Augustus se heerskappy, vanaf 27 v.G.J. tot 14 G.J. “Hierdie afvaardigings het ’n ernstige diplomatiese doel gehad”, sê een studie oor die onderwerp—naamlik om ooreen te kom oor waar handel tussen mense van verskillende lande gedryf kon word, waar belasting gehef kon word, waar uitlanders kon woon, ensovoorts.

In die eerste eeu G.J. was verkeer tussen die Middellandse Seegebied en Indië dus nie ongereeld of ongewoon nie. Dit sou vir ’n Christensendeling wat noord van die Rooi See was, maklik gewees het om op ’n skip te klim wat na Indië op pad was.

Verder as Indië?

Presies hoe ver oos Mediterreense koopmanne en ander reisigers dit gewaag het—en hoe vroeg hulle dit gedoen het—is moeilik om vas te stel. Maar ’n paar Westerlinge het vermoedelik teen die eerste eeu G.J. tot by Thailand, Kambodja, Sumatra en Java gereis.

Die Hou Han-Shou (Annale van die latere Han-dinastie), wat die tydperk van 23 G.J. tot 220 G.J. dek, gee die datum van een so ’n reis. In 166 G.J. het ’n afvaardiging van die koning van Daqin, met die naam An-tun, by die Chinese hof opgedaag met ’n skatting vir die keiser Huan-ti. Daqin was die Chinese naam vir die Romeinse Ryk, en An-tun was blykbaar die Chinese weergawe van Antoninus, die familienaam van Markus Aurelius, die destydse Romeinse keiser. Geskiedkundiges vermoed dat dit nie ’n amptelike afvaardiging was nie, maar slegs ’n poging van die ondernemende Westerse handelaars om sy eerder direk van China te verkry as deur tussenhandelaars.

Om terug te kom na ons oorspronklike vraag: Hoe ver oos kon eertydse skepe die eerste-eeuse Christensendelinge geneem het? Tot by Indië en nog verder? Dit is moontlik. Die Christelike boodskap het beslis ver genoeg versprei sodat die apostel Paulus kon sê dat dit “vrug dra en toeneem in die hele wêreld”—dit wil sê tot by die uithoeke van die destyds bekende wêreld.—Kolossense 1:6.

[Voetnoot]

^ par. 15 Hoewel die presiese ligging van Muziris onbekend is, meen geleerdes dat dit naby die mond van die Periyar-rivier, in die staat Kerala, geleë was.

[Venster/Prent op bladsy 22]

’n Keiser se klagte

In 22 G.J. het die Romeinse keiser Tiberius die oneindige oordadighede van sy landgenote betreur. Die Romeinse dames se onversadigbare begeerte na luukshede en hulle oordrewe liefde vir juwele het die rykdom van sy ryk verkwis en dit onder “vreemde of vyandige nasies” verstrooi. Die Romeinse geskiedskrywer Plinius die Ouere (23-79 G.J.) het ook oor soortgelyke uitgawes gekla. “Volgens die laagste skatting”, het hy geskryf, “verloor ons elke jaar honderdmiljoen sestersies aan Indië, die Seres en die Arabiese Skiereiland—dit is hoe duur ons vir ons luukshede en ons vroue betaal.” *

[Voetnoot]

^ par. 28 Ontleders bereken dat 100 miljoen sestersies ongeveer 2 persent van die hele ekonomie van die Romeinse Ryk uitgemaak het.

[Erkenning]

Museo della Civiltà Romana, Roma; Todd Bolen/Bible Places.com

[Venster/Prent op bladsy 23]

Waar koopmanne hulle handelsware gesoek het

Jesus het gepraat van “’n reisende koopman wat goeie pêrels soek” (Matteus 13:45). Die boek Openbaring noem ook “reisende koopmanne” wie se voorraad edelstene, sy, geurige hout, ivoor, kaneel, reukwerk en Indiese speserye ingesluit het (Openbaring 18:11-13). Hierdie goedere is verkry op handelsroetes oos van Palestina. Welriekende houtsoorte, soos sandelhout, het uit Indië gekom. Pêrels van goeie gehalte kon in die Persiese Golf, die Rooi See en, volgens die skrywer van die Periplus Maris Erythraei, in die omgewing van Muziris en in Sri Lanka gevind word. Pêrels uit die Indiese Oseaan was waarskynlik van die hoogste gehalte en die duurste.

[Kaart op bladsy 20, 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Party van die handelsroetes wat in die eerste eeu tussen Rome en Asië bestaan het

Arezzo

Rome

MIDDELLANDSE SEE

AFRIKA

Aleksandrië

EGIPTE

Koptos

Nylrivier

Myos Hormos

Berenice

Zanzibar

Rooi See

Jerusalem

ARABIË

Eufraatrivier

BABILONIË

Persiese Golf

PERSIË

Noordoostelike moeson

Suidwestelike moeson

Indusrivier

PANDJAB

Gangesrivier

Baai van Bengale

INDIË

Arikamedu

Muziris

SRI LANKA

INDIESE OSEAAN (ERITRESE SEE)

CHINA

HAN-RYK

THAILAND

KAMBODJA

VIËTNAM

Sumatra

Java

[Prent op bladsy 21]

Model van ’n Romeinse vragskip

[Erkenning]

Skip: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.