Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Jehovah seën ons as ons doen wat hy vra

Jehovah seën ons as ons doen wat hy vra

“Ons sal dit doen!” Dit is wat ek en my man, en my broer en sy vrou gesê het, toe ons gevra is om êrens te gaan dien. Waarom het ons dit gesê, en hoe het Jehovah ons geseën?

EK IS in 1923 gebore in Hemsworth, ’n dorpie in Yorkshire, Engeland. My ouer broer se naam was Bob. Toe ek omtrent nege jaar oud was, het my pa boeke gelees wat gewys het dat die kerk mense valse dinge leer. Hy kon die skynheiligheid in die kerk nie verdra nie. Hy het die boeke baie geniet. ’n Paar jaar later het Bob Atkinson aan ons deur geklop en ’n grammofoonplaat gespeel met ’n toespraak van broer Rutherford. Toe sien ons dat dit dieselfde mense is wat die boeke uitgegee het! My ouers het broer Atkinson genooi om elke aand by ons te kom eet sodat hy al ons Bybelvrae kon beantwoord. Hy het ons uitgenooi om die vergaderinge by ’n broer se huis by te woon, wat ’n paar kilometer van ons huis af was. Ons het die vergaderinge dadelik begin bywoon, en kort daarna is ’n gemeentetjie in Hemsworth gestig. Soneknegte (wat ons nou kringopsieners noem) het by ons kom bly en ons het ook pioniers genooi om by ons te kom eet. Hulle het ’n groot indruk op my gemaak.

Ons het ’n besigheid begin, maar my pa het vir my broer gesê: “As jy wil gaan pionier, sal ons hiervan ontslae raak.” Bob het ja gesê, en op die ouderdom van 21 het hy die huis verlaat om te gaan pionier. Twee jaar later, toe ek 16 was, het ek begin pionier. Ek het meestal alleen gewerk, behalwe oor naweke. Ek het velddiens gedoen met ’n getuieniskaart en ’n grammofoon. Maar Jehovah het my geseën met ’n Bybelstudie wat goeie vordering gemaak het. Baie van haar familielede het in die waarheid gekom. ’n Jaar later is ek en Mary Henshall as spesiale pioniers aangestel. Ons is gevra om die ontoegekende gebied in Cheshire te werk.

Teen hierdie tyd was die Tweede Wêreldoorlog aan die gang en daar was van vroue verwag om die oorlog te ondersteun. As voltydse bedienaars het ons verwag dat ons ook vrystelling sou kry soos predikante van ander kerke. Maar die hof het nie saamgestem nie, en ek is tot 31 dae tronkstraf gevonnis. Toe ek 19 geword het, het ek as ’n gewetensbeswaarde geregistreer. Ek moes twee keer in  die hof verskyn, maar albei kere is ek vrygespreek. Tydens die hofsake het ek geweet dat Jehovah my hand vasgehou het en dat hy my deur middel van sy heilige gees versterk het.—Jes. 41:10, 13.

’N NUWE MAAT

In 1946 het ek Arthur Matthews ontmoet. Hy het kort tevore sy vonnis van drie maande uitgedien as ’n gewetensbeswaarde. Toe het hy as ’n spesiale pionier in Hemsworth saam met sy broer Dennis gedien. Hulle pa het hulle van kleins af van Jehovah geleer en hulle is gedoop toe hulle tieners was. Kort nadat hulle saam begin pionier het, het Dennis ’n toewysing in Ierland gekry. Arthur was toe sonder ’n maat. My ouers was baie beïndruk met die jong, hardwerkende pionier en het hom genooi om by hulle te kom bly. Wanneer ek gaan kuier het, het ek en Arthur gesê dat ons na ete die skottelgoed sal was. Ons het later vir mekaar begin skryf. In 1948 is Arthur weer vir drie maande tronk toe gestuur. Ons is in Januarie 1949 getroud en wou graag in voltydse diens bly. Ons het baie mooi met ons geld gewerk en het ons vakansietyd gebruik om vrugte te pluk vir ’n bietjie ekstra geld. Met Jehovah se hulp kon ons aanhou pionier.

In Hemsworth kort na ons troudag in 1949

Ná net meer as ’n jaar, is ons gevra om na Noord-Ierland te gaan. Ons is eers na Armagh en toe na Newry toe, twee Katolieke dorpies. Die mense in hierdie gebied was gekant teen almal wat nie aan hulle godsdiens behoort het nie. Ons moes baie versigtig wees wanneer ons met mense oor die waarheid gepraat het. Die vergaderinge was 16 kilometer van ons huis af gehou in ’n broer en suster se huis. Omtrent agt het dit bygewoon. Soms het ons daar op die vloer oorgeslaap en die volgende oggend het ons ’n lekker ontbyt gehad. Ons is baie bly om te weet dat daar nou baie Getuies in daardie gebied is.

“ONS SAL DIT DOEN!”

My broer en sy vrou, Lottie, het alreeds as spesiale pioniers in Noord-Ierland gedien, en in 1952 het die vier van ons ’n streekbyeenkoms in Belfast bygewoon. Ons het by ’n broer gebly en Pryce Hughes, wat die takkneg in Brittanje was, het saam met ons daar gebly. Ons het een aand gepraat oor die vrystelling van die boekie God’s Way Is Love, wat spesiaal gedruk is vir mense in Ierland. Broer Hughes het gesê hoe moeilik dit is om Katolieke in die Ierse Republiek met die goeie nuus te bereik. Die priesters het vir die mense gesê om die broers uit hulle blyplekke te sit en hulle aan te val. Pryce het gesê: “Ons soek egpare wat karre het om deel te neem aan ’n spesiale kampanje om hierdie boekie regoor die land te versprei.” * Ons het dadelik gesê: “Ons sal dit doen!”

Saam met ander pioniers op ’n motorfiets met ’n sykar

 Pioniers wat in Dublin was, kon altyd by Ma Rutland se huis bly. Sy het Jehovah jare lank getrou gedien. Ons het ’n kort rukkie daar gebly. Ons het ’n paar goedjies verkoop en toe het die vier van ons op Bob se motorfiets, wat ’n sykar gehad het, geklim en begin soek vir ’n kar. Ons het ’n goeie tweedehandse kar gekry en die verkoopsman gevra om die kar vir ons huis toe te ry omdat nie een van ons kon bestuur nie. Arthur het daardie aand op die bed gesit en in sy kop geoefen hoe om die ratte te verander. Die volgende oggend toe hy probeer het om die kar uit die garage te trek, het Mildred Willett (wat later met John Barr getrou het) daar aangekom. Sy kon bestuur! Nadat sy ons geleer het, en met ’n bietjie oefening, was ons reg om in die pad te val!

Ons kar en karavaan

Ons volgende uitdaging was om verblyf te kry. Broers het vir ons gesê om eerder nie in ’n karavaan te bly nie omdat mense dit aan die brand kon steek. Ons het toe ’n huis gesoek, maar ons kon niks kry nie. Daardie aand het ons in die kar geslaap. Die volgende dag het ons verder gesoek en al wat ons kon kry was ’n karavaan wat iemand self gebou het. Dit het 4 klein bedjies gehad, en dit het ons huis geword. Ons kon nie glo dat van die boere so gaaf was om ons toe te laat om op hulle eiendom te parkeer nie. Ons het die karavaan daar gelos en dan sover as 16 tot 24 kilometer gery om mense te bereik. Ons het dan teruggekom en vir die mense gepreek in die gebied waar ons die karavaan geparkeer het.

Ons het al die huise in die suide van die Republiek sonder enige probleme besoek. Ons het omtrent 20 000 boekies geplaas en die name van persone wat belanggestel het aan die takkantoor in Brittanje gestuur. Ons is baie bly dat daar nou honderde Getuies in daardie gebied is!

TERUG NA ENGELAND EN TOE NA SKOTLAND

Later is ons na die suide van Londen gestuur. Binne ’n paar weke het Arthur ’n oproep van die takkantoor in Brittanje gekry. Hulle het hom gevra om die volgende dag as ’n kringopsiener te begin dien! Nadat hy ’n week lank opgelei is, het ons na Skotland gegaan om daar op die kring te dien. Arthur het nie genoeg tyd gehad om sy toesprake voor te berei nie, maar sy gesindheid teenoor uitdagings in Jehovah se diens het my baie aangemoedig. Ons het ons toewysing op die kring baie geniet. Ons het jare lank ontoegekende gebied gedoen, en nou was dit wonderlik om saam met ons broers en susters te wees.

Toe Arthur genooi is om die Gileadskool in 1962 by te woon, moes ons ’n groot besluit neem. Die kursus was 10 maande lank. Ons het besluit dat Arthur die skool moet bywoon, al kon ek nie saamgaan nie. Omdat ek sonder ’n maat sou wees, was ek teruggestuur na Hemsworth as ’n  spesiale pionier. ’n Jaar later is ek en Arthur gevra om streekwerk te doen in Skotland, in die noorde van Engeland en in Noord-Ierland.

’N NUWE TOEWYSING IN IERLAND

In 1964 is Arthur gevra om die takkneg in die Ierse Republiek te wees. Ons het die kringwerk baie geniet, so ek was ’n bietjie skrikkerig vir hierdie verandering. Maar ek is dankbaar vir die groot voorreg om by Bethel te kan dien. Ek glo dat Jehovah jou altyd sal seën as jy ’n toewysing aanvaar, al is jy nie baie gretig om dit te doen nie. Ek het kantoorwerk gedoen, lektuur verpak, gekook en skoongemaak. Ons het ’n tyd lank streekwerk gedoen en baie broers van regoor die land ontmoet. Ons Bybelstudente het ook goeie vordering gemaak. Dit het ons ’n geestelike familie in Ierland gegee. Wat ’n seën tog!

’N KEERPUNT IN IERLAND SE TEOKRATIESE GESKIEDENIS

In 1965 is Ierland se eerste internasionale streekbyeenkoms in Dublin gehou. * Ten spyte van baie teenstand was die byeenkoms ’n groot sukses. Daar was 3 948 by die byeenkoms en 65 is gedoop. Almal wat die 3 500 broers en susters van die buiteland gehuisves het, het ’n briefie gekry om dankie te sê. En die broers het weer die besoekers geprys vir hulle gedrag. Dit was inderdaad ’n keerpunt vir Ierland.

Arthur groet Nathan Knorr by die streekbyeenkoms in 1965

Arthur stel die My boek met Bybelverhale vry in Gaelies in 1983

In 1966 is die noorde en suide van Ierland verenig onder die takkantoor in Dublin—wat heeltemal anders was as die politieke en godsdiensonenigheid op die eiland. Ons was bly om te sien dat baie Katolieke in die waarheid gekom het en verenig is met die broers wat Protestante was.

ONS TOEWYSING VERANDER WEER

In 2011 het ons lewens heeltemal verander toe die takkantore in Brittanje en Ierland saamgesmelt het en ons gevra is om by die Bethel in Londen te gaan dien. Ons het hierdie nuus gekry toe Arthur nie meer so gesond was nie. Hy het aan Parkinson-siekte gely. Nadat ons 66 jaar saam was, is hy op 20 Mei 2015 oorlede.

In die laaste paar jaar het ek baie hartseer en depressief gevoel. Arthur was altyd daar vir my. Ek mis hom baie! Maar wanneer jy so voel, kom jy nader aan Jehovah. Dit is baie aanmoedigend om te weet hoe lief die broers vir Arthur was. Ek het briewe van broers in Ierland, Brittanje en selfs van die Verenigde State ontvang. Hierdie briewe en die aanmoediging van Arthur se broer, Dennis, sy vrou, Mavis, en my niggies Ruth en Judy, het my baie gehelp.

’n Teks wat my baie aangemoedig het, is Jesaja 30:18. Dit sê: “Daarom sal Jehovah vol verwagting daarna uitsien om aan julle guns te betoon, en daarom sal hy opstaan om aan julle barmhartigheid te bewys. Want Jehovah is ’n God van oordeel. Gelukkig is almal wat in afwagting van hom bly.” Dit vertroos my baie om te weet dat Jehovah geduldig wag om sake reg te stel en om vir ons opwindende toewysings in sy nuwe wêreld te gee.

Ek kon oor die jare sien hoe Jehovah die werk in Ierland gerig en geseën het! Dit was vir my ’n voorreg om ’n deel te kon hê aan hierdie geestelike groei. Ek kan nou met sekerheid sê dat Jehovah ons seën as ons doen wat hy vra.

^ par. 12 Sien die 1988 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bl. 101-102.

^ par. 22 Sien die 1988 Yearbook, bl. 109-112.