Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

 Het dit soms in die ou tyd gebeur dat iemand onkruid in ’n ander man se saailand gesaai het?

Hierdie afskrif van die Digest deur keiser Justinianus dateer uit 1468 en is een van baie verslae wat besonderhede oor regsake in die ou tyd voorsien

IN MATTEUS 13:24-26 het Jesus gesê: “Die koninkryk van die hemele het geword soos ’n man wat goeie saad in sy saailand gesaai het. Terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid daaroor gesaai, tussen die koring in, en weggegaan. Toe die halm uitspruit en vrug voortbring, het die onkruid ook verskyn.” Verskeie skrywers het gesê dat hierdie illustrasie nie geloofwaardig is nie, maar eertydse Romeinse regsgeskrifte toon dat dit is.

“Onder die Romeinse wet was dit ’n misdaad om drabok [’n soort onkruid] in ’n saailand te saai om wraak te neem . . . Die behoefte aan ’n wet hieroor toon dat dit moontlik dikwels gebeur het”, sê ’n Bybelwoordeboek. In 533 HJ het die Romeinse keiser Justinianus sy Digest gepubliseer. Dit het ’n opsomming bevat van die Romeinse wet sowel as uittreksels uit die geskrifte van wetsgeleerdes uit die klassieke tydperk van die wet (omstreeks 100-250 HJ). Volgens hierdie werk (Digest, 9.2.27.14) het die wetsgeleerde Ulpianus verwys na ’n saak wat die tweede-eeuse Romeinse staatsman Celsus aangehoor het. Onkruid was in ’n ander persoon se saailand gesaai, met die gevolg dat sy oes misluk het. Die Digest noem watter regstappe die eienaar of grondhuurder kon neem om vergoeding van die oortreder te kry vir die verlies wat hy gely het.

Die feit dat sulke kwaadwillige dade destyds in die Romeinse Ryk gepleeg is, toon dat die situasie wat Jesus beskryf het, op feite gegrond is.

Hoeveel vryheid het Rome in die eerste eeu aan die Joodse owerheid in Judea toegestaan?

GEDURENDE hierdie tyd is Judea regeer deur die Romeine, wat verteenwoordig is deur ’n goewerneur wat troepe onder sy bevel gehad het. Hy was hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik om belasting vir Rome in te vorder en om vrede en orde te handhaaf. Die Romeine het daarin belanggestel om onwettige bedrywighede stop te sit en om diegene te straf wat die vrede versteur het. Maar die Romeine was gewoonlik tevrede om die daaglikse bestuur van die provinsie aan die plaaslike leiers oor te laat.

’n Sitting van die Joodse Sanhedrin

Die Sanhedrin was die Jode se hoogste hof en beheerraad vir sake wat met die Joodse wet verband gehou het. Daar was laer howe dwarsdeur Judea. Die meeste siviele en strafsake is waarskynlik sonder enige inmenging van Romeinse heersers deur hierdie howe hanteer. Maar Joodse howe het nie die reg gehad om misdadigers tereg te stel nie. Dit was ’n reg wat die Romeine gewoonlik vir hulleself gehou het. ’n Welbekende uitsondering was toe die lede van die Sanhedrin Stefanus verhoor en hom laat stenig het.—Hand. 6:8-15; 7:54-60.

Die Joodse Sanhedrin het dus groot regsmag gehad. Maar “die grootste beperking”, sê die geleerde Emil Schürer, “was dat die Romeinse owerheid te eniger tyd sake in hulle eie hande kon neem, soos hulle dan ook gedoen het wanneer hulle vermoed het dat ’n politieke oortreding begaan is”. ’n Voorbeeld hiervan was toe die militêre bevelvoerder Claudius Lisias die apostel Paulus, ’n Romeinse burger, in bewaring geneem het.—Hand. 23:26-30.