Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 STUDIEARTIKEL 46

Hou jy jou “groot skild van geloof” in ’n goeie toestand?

Hou jy jou “groot skild van geloof” in ’n goeie toestand?

“Neem . . . die groot skild van geloof op.” – EF. 6:16.

LIED 119 Ons moet geloof hê

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Hoekom het ons volgens Efesiërs 6:16 ’n “groot skild van geloof” nodig? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

HET jy ’n “groot skild van geloof”? (Lees Efesiërs 6:16.) Ons is seker jy het. Net soos ’n groot skild die grootse deel van ’n mens se liggaam beskerm, beskerm jou geloof jou teen die onsedelike, gewelddadige en goddelose invloede van hierdie slegte wêreld.

2 Maar ons lewe in “die laaste dae” en ons geloof sal getoets word (2 Tim. 3:1). Hoe kan jy jou skild van geloof ondersoek om seker te maak dat dit sterk is? En hoe kan jy jou skild stewig vashou? Kom ons bespreek die antwoorde op hierdie vrae.

ONDERSOEK JOU SKILD DEEGLIK

Ná ’n geveg het soldate seker gemaak dat hulle skild in ’n goeie toestand is (Sien paragraaf 3)

3. Hoe het soldate hulle skild in ’n goeie toestand gehou, en hoekom?

3 In Bybeltye was ’n soldaat se skild gewoonlik met leer bedek. ’n Soldaat het olie aan sy skild gesmeer om die leer in ’n goeie toestand te hou en om te keer dat die metaaldele roes. As ’n soldaat gesien het dat sy skild beskadig is, het hy seker gemaak dat dit reggemaak word sodat hy altyd gereed is vir die volgende geveg. Hoe kan hierdie voorbeeld op jou geloof toegepas word?

4. Hoekom moet jy jou skild van geloof ondersoek, en hoe moet jy dit doen?

4 Net soos soldate van die ou tyd moet jy jou skild van geloof gereeld ondersoek en in ’n goeie toestand hou sodat jy altyd gereed is vir die geveg. As Christene is ons in ’n geestelike geveg en ons vyande sluit bose geeste in (Ef. 6:10-12). Net jy kan jou skild van geloof in ’n goeie toestand hou. Hoe weet jy of jou geloof sterk genoeg is om  toetse te hanteer? Eerstens moet jy bid vir God se hulp. Dan moet jy God se Woord gebruik om jou te help om jouself te sien soos God jou sien (Heb. 4:12). Die Bybel sê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie” (Spr. 3:5, 6). Met dit in gedagte, dink aan party van die besluite wat jy onlangs gemaak het. Het jy byvoorbeeld ’n ernstige finansiële probleem gehad? Het jy aan Jehovah se belofte in Hebreërs 13:5 gedink: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie”? Het hierdie belofte jou die vertroue gegee dat Jehovah jou sal help? Indien wel, wys dit dat jy jou skild van geloof in ’n goeie toestand hou.

5. Wat sal jy dalk vind as jy jou geloof ondersoek?

5 Jy sal dalk verbaas wees oor wat jy vind wanneer jy jou geloof deeglik ondersoek. Jy sal dalk agterkom dat jy swakhede het waarvan jy nie geweet het nie. Jy sal byvoorbeeld dalk agterkom dat onnodige bekommernisse, leuens en mismoedigheid jou geloof beskadig het. As dit met jou gebeur het, hoe kan jy jou geloof teen enige verdere skade beskerm?

BESKERM JOUSELF TEEN ONNODIGE BEKOMMERNISSE, LEUENS EN MISMOEDIGHEID

6. Wat is ’n paar voorbeelde van goeie bekommernisse?

6 Dit is goed om bekommerd te wees oor sekere dinge. Dit is byvoorbeeld goed om besorgd te wees oor hoe ons Jehovah en Jesus se goedkeuring kan verkry (1 Kor. 7:32). As ons ernstig gesondig het, wil ons graag ons vriendskap met God herstel (Ps. 38:18). Ons wil ook graag ons huweliksmaat gelukkig maak en omsien na ons gesin en broers en susters in die gemeente. – 1 Kor. 7:33; 2 Kor. 11:28.   

7. Hoekom hoef ons volgens Spreuke 29:25 nie bang te wees vir mense nie?

7 Aan die ander kant kan dit ons geloof beskadig as ons ons onnodig bekommer. Byvoorbeeld, ons bekommer ons dalk heeltyd of ons genoeg kos en klere sal hê (Matt. 6:31, 32). Om ons minder hieroor te bekommer, fokus ons dalk daarop om materiële dinge bymekaar te maak. Ons kan selfs begin lief word vir geld. As ons toelaat dat dit gebeur, sal ons geloof in Jehovah verswak en sal dit ons vriendskap met hom beskadig (Mark. 4:19; 1 Tim. 6:10). Of ons kan dalk baie bekommerd begin word oor wat ander mense van ons dink. Die vrees dat mense ons sal spot of vervolg, kan dalk sterker word as ons vrees om Jehovah seer te maak. Om onsself teen hierdie gevaar te beskerm, moet ons Jehovah smeek om ons die nodige geloof en moed te gee sodat ons nie bang sal wees vir mense nie. – Lees Spreuke 29:25; Luk. 17:5.

(Sien paragraaf 8) *

8. Hoe moet ons op leuens reageer?

8 Satan, “die vader van die leuen”, gebruik dié wat onder sy beheer is om leuens oor Jehovah en ons broers en susters te versprei (Joh. 8:44). Afvalliges gebruik byvoorbeeld webwerwe, die televisie en ander media om leuens en verdraaide feite oor Jehovah se organisasie te versprei. Hierdie leuens is deel van Satan se “brandende pyle” (Ef. 6:16). Wat moet ons doen as iemand met ons oor hierdie leuens begin praat? Ons weier om te luister! Hoekom? Omdat ons geloof in Jehovah het en ons broers vertrou. Om die waarheid te sê, ons wil afvalliges heeltemal vermy. Ons laat nie toe  dat enigiemand of enigiets, insluitende nuuskierigheid, veroorsaak dat ons met afvalliges stry nie.

9. Watter uitwerking kan mismoedigheid op ons hê?

9 Mismoedigheid kan ons geloof verswak. Ons kan nie ons persoonlike probleme ignoreer nie. Om die waarheid te sê, dit sal onverantwoordelik van ons wees om dit te probeer doen. En soms voel ons dalk mismoedig. Maar ons moenie heeltyd aan ons probleme dink nie. As ons dit doen, sal ons dalk vergeet van al die goeie dinge wat Jehovah ons belowe het (Op. 21:3, 4). Ons kan so mismoedig word dat dit ons uitput en veroorsaak dat ons ophou om Jehovah te dien (Spr. 24:10). Maar dit hoef nie met ons te gebeur nie.

10. Wat leer jy uit ’n brief wat ’n suster geskryf het?

10 Kyk byvoorbeeld hoe ’n suster in die Verenigde State haar geloof sterk hou terwyl sy vir haar man sorg wat ernstig siek is. In ’n brief aan hoofkwartier het sy geskryf: “Ons situasie is soms stresvol en kan ons baie mismoedig laat voel, maar ons hoop is sterk. Ek is baie beïndruk met die inligting wat ons kry om ons geloof te versterk en ons aan te moedig. Ons het regtig hierdie raad en aanmoediging nodig. Dit help ons om aan te hou om Jehovah te dien en die probleme te hanteer wat Satan ons kant toe gooi.” Ons leer uit hierdie suster se brief dat ons gevoelens van mismoedigheid kan oorkom! Hoe? Beskou jou probleme as ’n toets van Satan. Vertrou dat Jehovah jou sal vertroos. En waardeer die geestelike voedsel wat hy voorsien.

Hou jy jou “groot skild van geloof” in ’n goeie toestand? (Sien paragraaf 11) *

11. Watter vrae moet ons ons afvra om te kyk hoe sterk ons geloof is?

11 Dink jy dat jou skild van geloof ’n bietjie aandag nodig het? Kon jy gedurende die afgelope paar maande dit regkry om jou nie onnodig te bekommer nie? Het jy geweier om na afvalliges te luister en met hulle te stry oor die leuens wat hulle versprei? En kon jy gevoelens van mismoedigheid hanteer? As dit die geval is, is jou geloof in ’n goeie toestand. Maar ons  moet nog steeds versigtig wees, want Satan het ander wapens wat hy teen ons probeer gebruik. Kom ons bespreek nou een van hierdie wapens.

BESKERM JOUSELF TEEN MATERIALISME

12. Wat kan materialisme veroorsaak?

12 Materialisme kan ons aandag aflei en veroorsaak dat ons ons skild van geloof afskeep. Die apostel Paulus het gesê: “Geen mens wat as ’n soldaat dien, raak verwikkel in die handelsbedrywighede van die lewe nie, sodat hy die goedkeuring kan verkry van die een wat hom as ’n soldaat gewerf het” (2 Tim. 2:4). Om die waarheid te sê, Romeinse soldate mag nie enige ander werk gedoen het nie. Wat sou gebeur het as ’n soldaat wel ander werk gedoen het?

13. Hoekom sou ’n soldaat nie by die een of ander besigheid betrokke raak nie?

13 Stel jou die volgende voor. ’n Groep soldate oefen heeloggend met hulle swaarde, maar een soldaat is nie daar nie. Daardie soldaat is in die dorp en hy is besig om ’n kosstalletjie op te stel. In die aand is die soldate besig om hulle wapenrusting te ondersoek en hulle swaarde skerp te maak. Maar die een wat die stalletjie besit, is besig om kos voor te berei om dit die volgende dag te verkoop. Maar die volgende oggend val ’n vyand hulle onverwags aan. Watter soldaat sal gereed wees vir die geveg en sy bevelvoerder gelukkig maak? En watter soldaat sal jy langs jou in die geveg wil hê – ’n soldaat wat homself voorberei het vir die geveg of die een wat met ander dinge besig was?

14. Wat is kosbaar vir ons as soldate van Christus?

14 Net soos goeie soldate, is die belangrikste ding vir ons om ons Bevelvoerders, Jehovah en Christus, gelukkig te maak. Dit is vir ons kosbaarder as enigiets wat Satan se wêreld vir ons kan aanbied. Ons maak seker dat ons die nodige tyd en energie het om Jehovah te dien en om ons skild van geloof en die res van ons geestelike wapenrusting in ’n goeie toestand te hou.

15. Watter waarskuwing het Paulus ons gegee, en hoekom?

 15 Ons moet altyd waaksaam bly! Hoekom? Die apostel Paulus het gewaarsku dat “dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, . . . van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring” sal word (1 Tim. 6:9, 10). Die uitdrukking “op ’n dwaalspoor gebring” wys dat ons aandag afgelei kan word as ons probeer om onnodige besittings bymekaar te maak. Ons laat dan toe dat “sinnelose en skadelike begeertes” in ons hart ontwikkel. In plaas daarvan om hierdie begeertes in ons hart toe te laat, moet ons dit sien vir wat dit werklik is – wapens wat ons geloof kan verswak.   

16. Die verslag in Markus 10:17-22 moet ons beweeg om oor watter vrae na te dink?

16 Sê nou ons het genoeg geld om baie materiële dinge te koop. Is dit verkeerd om dinge te koop wat ons wil hê, maar nie regtig nodig het nie? Nie noodwendig nie. Maar dink na oor hierdie vrae: Selfs al kan ons dit bekostig om iets te koop, het ons regtig die tyd en energie om die item te gebruik en dit in stand te hou? En kan ons dalk te lief word vir ons materiële dinge? Kan ons liefde vir materiële dinge veroorsaak dat ons soos die jong man word wat  Jesus se uitnodiging om meer in God se diens te doen, nie aanvaar het nie? (Lees Markus 10:17-22.) Dit is soveel beter om ’n eenvoudige lewe te lei en ons kosbare tyd en energie te gebruik om God se wil te doen!

HOU STEWIG VAS AAN JOU SKILD VAN GELOOF

17. Wat moet ons nooit vergeet nie?

17 Ons moet nooit vergeet dat ons in ’n oorlog is nie en dat ons elke dag gereed moet wees om te veg (Op. 12:17). Ons broers en susters kan nie ons skild van geloof vir ons dra nie. Ons moet dit self stewig vashou.

18. Hoekom het soldate in die ou tyd hulle skild stewig vasgehou?

18 In die ou tyd het ’n soldaat eer ontvang omdat hy in die oorlog dapper was. Maar hy sou skaam gevoel het as hy sonder sy skild by die huis aangekom het. Die Romeinse geskiedkundige Tacitus het geskryf: “Dit was die grootste skande as ’n soldaat sy skild agtergelaat het.” Dit is een rede hoekom soldate stewig aan hulle skild vasgehou het.

’n Christensuster hou haar skild van geloof stewig vas deur God se Woord te lees, gereeld die vergaderinge by te woon en gereeld deel te neem aan die predikingswerk (Sien paragraaf 19)

19. Hoe kan ons stewig vashou aan ons skild van geloof?

19 Ons hou stewig vas aan ons skild van geloof deur gereeld by die vergaderinge te wees en met ander oor Jehovah se naam en sy Koninkryk te praat (Heb. 10:23-25). Ons lees ook elke dag God se Woord en bid tot Jehovah om ons te help om toe te pas wat ons lees (2 Tim. 3:16, 17). Dan sal geen wapen wat Satan teen ons gebruik enige permanente skade veroorsaak nie (Jes. 54:17). Ons “groot skild van geloof” sal ons beskerm. Ons sal moedig saam met ons broers en susters werk. En ons sal nie net elke dag die geveg wen nie – ons sal die eer hê om aan Jesus se kant te wees wanneer hy die oorlog teen Satan en sy volgelinge wen. – Op. 17:14; 20:10.

LIED 118 “Gee ons meer geloof”

^ par. 5 Soldate het op hulle skild staatgemaak om hulle te beskerm. Ons geloof is soos ’n skild. En net soos ’n letterlike skild moet ons seker maak dat ons geloof in ’n goeie toestand is. Hierdie artikel bespreek wat ons kan doen om seker te maak dat ons “groot skild van geloof” in ’n goeie toestand is.

^ par. 58 BESKRYWING VAN PRENT: Wanneer ’n Getuiegesin ’n nuusberig op die TV sien oor afvalliges wat leuens versprei oor Jehovah se Getuies, sit hulle onmiddellik die TV af.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENT: Later, gedurende gesinsaanbidding, gebruik die pa ’n gedeelte uit die Bybel om sy gesin se geloof te versterk.